Friday, August 1, 2008

Agterplaas nooit weer dieselfde na aanval

My agterplaas sal nooit weer dieselfde wees

Jul 31 2008 03:40:59:990PM

Vir 'n oomblik lê ek doodstil, kyk na die maan en dink: So dan is dit
nou die einde ... dan breek 'n oerskreeu uit my los, "Roelof, Roelof
ek's geskiet..."

Johan Nieuwoudt, Pretoria

'n Deel van my slaaptydritueel is om Moekie, ons ou dowe herdershond,
na die agterpaas te neem sodat sy haar draai kan loop.

Só gebeur dit dan ook op Saterdagaand 8 September 2007. Terwyl ek daar
staan, dink ek met genoegdoening aan my seun Roelf wat besig is om 'n
ete vir Gerna, sy meisie, voor te berei in die woonstel aan ons huis,
daar waar my ouers vir twintig jaar gebly het. Ons agterdeur staan
oop, so ook die van die woonstel.

Moekie het net klaar haar plassie gemaak toe die rewolwer knal. Daar's
'n ontsettende brandpyn in my rug. Ek val met 'n draaibeweging, amper
asof ek 'n kurktrekker is waarmee 'n mens 'n bottel wyn oopmaak.

Vir 'n oomblik lê ek doodstil, kyk na die maan en dink: "So dan is dit
nou die einde; ek het klaar geleef."

Dan breek 'n oerskreeu uit my los, "Roelof, Roelof ek's geskiet. Help,
help, help my!"

Die agterste bure hoor, sit hulle alarm aan en begin ook skreeu.
Reina, my vrou, skree uit ons huis. Roelof kom gillend uit die
woonstel. Hy het 'n ou ornamentele haelgeweer aan die loop beet om dit
as 'n knuppel te gebruik.

Al die geraas en aktiwiteit verwilder die drie boewe wat laat spaander.

Roelf hurk by my en sê, "Pappa, jy moet vasbyt, ons sal jou by die
hospitaal kry."

Ek fluister: "Roelfie, ek het jou lief..."

"Pappa, ek het jou ook lief", snik-antwoord hy my.

Roelof bring ons ou geel geroeste kruiwa na my toe en vernuftig wikkel
hy die kruiwa onder my lyf in en kantel die kruiwa regop.

My bene hang elk oor 'n handvatsel en my kop skuur liggies teen die
wiel terwyl Roelf my om die huis stoot na Reina se kar. Saam trek
Reina en Roelof my in op die agterse sitplek.

Elke beweging wat my lyf maak, is ontsettend seer. Oplaas is ek in. Ek
bloei op die sitplek.

Daar volg 'n wilde jaagtog hospitaal toe. Ek kreun benoud, "Reintjie,
moenie 'n ongeluk maak nie."

En toe ek dink ek gaan dit nie maak nie want die pyn oorweldig my,
fluister ek: "Reintjie, ek het jou lief."

"Jy hoef dit nooit weer te sê nie, ek weet dis waar. Byt vas my lief,
ek kan nie sonder jou nie", antwoord sy my.

Die beeld van my kind Kobus in Engeland flits deur my en ek sê
saggies: "Vertel vir Ou Kosie ek's lief vir hom..."

Uiteindelik kom ons by die hospitaal aan.

Ek word op 'n rolbed uitgetel. Pyn spoel in vlae oor my.

Ek is in die noodoperasiekamer. 'n Jong doktertjie met 'n yl rooi
kennebaardjie dans om my en pronk vir die verpleegsters, "Kom ek wys
julle hoe maak ek nou 'n gat in sy sy want die long het klaar
platgeval. Hy moet nou gestabiliseer word en die inwendige bloeding
moet gedreineer word."

Ek probeer tevergeefs oogkontak maak met die jong haantjie wat nou my
lewe in sy hand het.

Die gawe suster sien my benoudheid en troos: "Dokter praat maar so, hy
ken sy werk."

Baie effektief verdoof die jong dokter my, maak 'n gat omtrent 5 cm
van my regter tepel af en druk 'n rubberpyp diep die wond in. Die pyp
loop uit in 'n glasfles, waarin my binnebloed nou tap.

Ek voel wrokkig én dankbaar teenoor die jong doktertjie. Die gedagte
flits deur my, as ek dan moet kies tussen vernuf en empatie, is dit
eersgenoemde, maar is 'n keuse werklik nodig?

Dan's dit van een bed na 'n ander. Elke keer as ek van bed moet
verwissel, vrek ek van die pyn, al is die verpleegpersoneel hoe
vaardig om my met die onderlaken oor te tel.

Later word ek deur die groot ronde-oog-ekstraalmasjien gestoot. God se
oog noem ek hom want hy sien alles raak; hy sien waar die koeël in is
by my blad en die verwoestende pad wat hy gesaai het deur my long
totdat hy uit is deur my sleutelbeen; hy sien dat my ander long
vergroot het om te kompenseer vir die pap long; hy sien dat my hart
oorgedruk is na die middel van my lyf; en hy sien dat dit 'n
godsgenade is dat ek nog leef.

Terwyl ek tussen pyn en angs skommel, neem die gawe suster my hand,
hou dit vas en druk dit.

Dan vra sy die ou omie van drie–en-sestig jaar: "Moet ek by jou bly?"

"Asseblief", antwoord ek.

Sy los nie my hand nie. Daar is iemand wat weet ek's 'n mens, wat weet
ek's bang, wat my vashou.

Die morfien skop in en my pyn vervaag. Hulle neem my na intensiewe
sorg waar ek oor die loop van die volgende drie dae my greep op die
lewe sal hervat.

Na drie dae in intensief land ek in die hoë-sorg eenheid saam met twee
ander Johan's, 'n Sakkie en 'n swartman, wat nooit 'n woord sê nie en
ook nie sy naam noem nie. Sy bed is langs die toilet en ek is net
altyd bewus van sy verskrikte oë as ek verby hom loop..

Sakkie gee my die goeie raad om 'n kussing teen my bors te druk vir die pyn.

Die aand voor my ontslag na vier dae in die hospitaal, kry ek 'n
verskriklike kramp wat my sonder asem laat. Nou's ek dood want ek's
nie meer in die glaskas nie, dink ek benoud. Ek druk tog maar die
klokkie.

Tot my verwondering is 'n grootborstige swart verpleegster dadelik daar.

"Sister, I can't breathe", fluister ek benoud.

"Can I bring you a Coke", antwoord sy.

Die unieke antwoord laat my effens ontspan. "Yes please."

Binne 'n japtrap bring sy my die koudste Coke in 'n lang glas vol ys.
Terwyl ek die heerlike drankie stadig drink, verlig die kramp en kry
ek asem... Uit die bloute begin ek saggies huil.

"You should get counselling", sê my swart engel.

"I know I should, I am a psychologist", antwoord ek haar.

Die dag van my ontslag is Fred, my baas, daar met 'n groot hartvormige
ballon. As 'n mens teen die ballon stamp, hoe liggies ook al, sing hy
aanhoudend: "Don't worry, be happy, don't worry be happy...."

Die rit terug huistoe is veel stadiger en statiger as die een
hospitaal toe. Terwyl ek in die kar sit met die kussing gedruk teen my
bors, vind ek dit byna onmoontlik om alles te snap wat met my gebeur
het, so onverwags, so sonder rede.

Tuis omhels ou Roelfie my. Dis die eerste keer dat ek weer met hom
praat na die skietery.

Ons stap omarm saam na die agterplaas. Ek sien die rooi kol wat my
bloed gelaat het, en ek weet my agterplaas sal nooit weer dieselfde
wees nie, nooit weer nie...

) Prof. Nieuwoudt doseer sielkunde aan Unisa.

Lesers kan stories, foto's en video's stuur na mystorie@beeld.com


Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/My_Storie/0,,3-2053_2367807,00.html

No comments: