Sunday, August 10, 2008

Helpende Hand Nuusbrief - Julie 2008






Helpende Hand Nuusbrief
Julie 2008 / Nuusbrief nr. 15 www.helpendehand.co.za

Subcribe to English Newsletter, Click here

 

Zuma saam met Solidariteit na Bethlehem-nedersetting


Zuma het die honderde arm wittes toegespreek, terwyl die inwoners van
die Bethlehem-nedersetting ook met hul handgemaakte artikels gespog het.

Foto's: Jaco Marais

ANC-president Jacob Zuma het op 24 Julie besoek afgelê by die wit informele nedersetting Bethlehem. Dit kom nadat hy dié nedersetting oorkant die Zandfontein-begraafplaas in die verre noorde van Pretoria vroeër vanjaar op uitnodiging van Solidariteit Helpende Hand besoek het.

Dié keer is Zuma vergesel deur ʼn hoëvlak-span bestaande uit ministers, regeringsamptenare en die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad, dr. Gwen Ramokgopa. Die afvaardiging het met Solidariteit Helpende Hand onder leiding van Flip Buys, uitvoerende hoof van die vakbond, asook gemeenskapsleiers vergader.

ʼn Besluit deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling ingevolge waarvan subsidies aan organisasies wat onder wit armes werk uitgefaseer gaan word, was hoog op Solidariteit se agenda.

"Dit is onaanvaarbaar dat ʼn besluit geneem kan word dat ʼn persoon op grond van sy of haar ras van maatskaplike hulp ontneem word. Die besluit is eenvoudig rassisties. Ons is oortuig dat hierdie besluit nie in enige hof of internasionale forum sal steek hou nie. Indien ons politieke druk om die besluit te laat herroep nie gou vrugte dra nie, sal ons voortgaan met regsaksie om die besluit te laat herroep," het Buys gesê.

Solidariteit Helpende Hand het voorts ʼn omvattende nuwe verslag oor die behuisingskrisis onder wit armes bekendgemaak en aan Zuma oorhandig.

Luidens die Helpende Hand-verslag kan slegs 54% van wittes in Suid-Afrika ʼn huis van meer as R200 000 bekostig. Die aantal wittes wat geen toegang tot behuising het nie, het tussen 2002 en 2006 van 83 000 tot 131 000, oftewel met 58%, toegeneem. Strukture in agterplase het van 36 000 tot 54 000 toegeneem. Daar word verwag dat dié getal, ten spyte van die afname in die bevolkingsgetal van wittes, jaarliks met 7 500 eenhede sal toeneem.

Honderde arm wittes wat in informele behuising woon het na die Bethlehem-nedersetting gegaan om te hoor wat die ANC-president te sê het. Hulle kon ook vir maatskaplike toelaes by SASSA (South African Social Security Agency) aansoek doen. Honderde mense het die lang rye aangedurf om aansoek te doen.

Kliek hier om Solidariteit Helpende Hand se omvattende nuwe verslag oor die behuisingskrisis onder wit armes te lees.



Arm wittes staan geduldig en wag om vir maatskaplike toelaes by SASSA aansoek te doen.
Foto's: Daleen de Jager

 

Boontoe

 


Helpende Hand bekommerd oor toename in kindermoorde

Solidariteit Helpende Hand het sy misnoeë met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitgespreek op die rug van die bekendmaking van skrikwekkende misdaadsyfers op 30 Junie. Luidens dié syfers het kindermoorde die afgelope jaar met ʼn skokkende 22,4% toegeneem, terwyl poging tot moord op kinders met 13,7% toegeneem het.

Helpende Hand het sy kommer oor die SAPD se misdaadvoorkomingstrategie ten opsigte van misdaad teen kinders uitgespreek en ʼn dringende beroep gedoen dat die strategie hersien word.

In 2007/2008 is bykans 64 000 sake van moord, poging tot moord, verkragting, aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer en onsedelike aanranding teen kinders aangemeld. In 2006/2007 is 68 237 van dié sake aangeteken.

Mariana Kriel, projekbestuurder van Helpende Hand, glo nie dat die statistiek rakende die verkragting en onsedelike aanranding van kinders noodwendig die werklikheid weerspieël nie. Luidens die statistiek het die verkragting van kinders en onsedelike aanranding met onderskeidelik 6,7% en 23,2% afgeneem.

Volgens Kriel maak die groot aantal sake wat teruggetrek word ʼn beduidende verskil. "Meer moet gedoen word om slagoffers te beskerm, omdat intimidasie in baie gevalle tot die onttrekking van sake lei. Die feit dat kinders nie in hul voorkeurtaal by polisiekantore bygestaan word nie en die afskaffing van spesialiseenhede vir kinderbeskerming dra ook hiertoe by."

Helpende Hand meen die SAPD se samewerking met organisasies wat hul beywer om kinders teen misdaad te beskerm, laat veel te wense oor. Helpende Hand het reeds in April vanjaar ʼn skrywe aan die waarnemende polisiehoof, Tim Williams, gestuur om met Helpende Hand in verbinding te tree om die moontlikheid van ʼn aksieplan te bespreek om misdaad teen kinders aan te pak. Geen terugvoer is tot dusver van die SAPD ontvang nie.

Helpende Hand het ook ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om by die verskeie misdaadvoorkomingsprojekte betrokke te raak aangesien die verantwoordelikheid eerstens by die gemeenskap lê. "Ons kan nie meer op die polisie staatmaak om ons kinders te beskerm nie," het Kriel gesê. "Hoewel die polisie baie welslae behaal, is een kind wat sy of haar lewe verloor te veel. Die stryd is daarom nog lank nie verby nie."

 

Boontoe


 

Helpende Hand kap VN-program in Zimbabwe

Helpende Hand het vroeër vandeesmaad sy "Tuin van Hoop op Oorwinning" geopen, wat die hoop simboliseer dat die daaglikse stryd teen kindermishandeling en misdaad teen kinders gewen sal word. ʼn Lourierboom is in die tuin geplant as simbool van oorwinning en vrede. Die tuin is op 4 Junie die internasionale dag van onskuldige kinderslagoffers van geweld geopen.

Wikus Human, pa van die vermoorde Sheldean Human, het die tuin saam met Chris Vorster, 7de Laan-akteur en beskermheer van die Fonds, onthul.

Helpende Hand het tydens die verrigtinge ook die Sheldean Human-gedenkbeurs bekendgestel. Die beurs sal vanaf vanjaar aan ʼn doktorale student toegeken word wat sy studies oor ʼn bepaalde maatskaplike kwessie - soos misdaad teen kinders of die armoedevraagstuk – wil voortsit. Die Fonds het ook sy planne rakende die jaarlikse Sheldean Human-gedenklesing bekendgestel. Die lesing sal jaarliks op 4 Junie, die dag waarop haar veroordeelde moordenaar gevonnis is, plaasvind.

Solidariteit Helpende Hand het op 2 Julie beswaar aangeteken teen die Verenigde Nasies se Wêreldvoedingsprogram (WVP) wat noodhulpverlening aan sekere dele van die Zimbabwiese gemeenskap weerhou. Helpende Hand meen die weerhouding spruit uit diskriminerende riglyne wat vir hulpverlening deur dié organisasie uiteengesit is. Helpende Hand het ook skerp kritiek gelewer oor die politieke agenda en politiek "korrekte" benadering tot hulpverlening wat deur die WVP gevolg word. 

Helpende Hand het sy steun vir die beskerming van veral behoeftige bejaardes in Zimbabwe gegee met die oorhandiging van kos en klere. Die skenking is aan Hannes Botha van die Zimbabwe Pensioenondersteuningsfonds (ZPO) gedoen. Die ZPO versprei skenkings aan nagenoeg 650 bejaardes in tehuise vir bejaardes in onder andere Bulawayo, Gwero en Harare.

"Helpende Hand het met skok verneem dat die skenkings wat deur die WVP in Zimbabwe versprei word nie behoeftige wit bejaardes bereik nie. Dié bejaardes is grootliks van die ZPO vir oorlewing afhanklik.

"Luidens inligting wat Helpende Hand ontvang het, word sekere riglyne gebruik om te bepaal of hulpverlening gegee moet word of nie. Helpende Hand glo dat dié benadering nie in die huidige krisissituasie in Zimbabwe mag geld nie. Almal kry swaar en daarom behoort die hulp wat van ʼn nie-politieke organisasie soos die WVP afkomstig is, nie kleur te ken nie," sê dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Volgens Langner ontvang bejaardes in Zimbabwe ook geen staatspensioen nie.

Die ZPO ondersteun tans sowat 25% van die wit bejaardes in Zimbabwe en daarom is nog baie meer hulp nodig om die mense hier te onderhou. Daar is veral ʼn groot behoefte aan kos soos mieliemeel, rys, suiker, ontbytpap, pasta, blikkieskos en ander items soos toiletpapier en sjampoe.

  • Om ʼn skenking vir die bejaardes in Zimbabwe te doen, skakel Helpende Hand se skenkingskantoor by 012 644 4426.

 

Mnr. Hannes Botha (55) laai sy vragmotor voordat hy die lang
pad Zimbabwe toe aandurf om kos vir bejaardes te gaan aflaai.
Foto: Naranda Nell, Beeld

Boontoe



 

Helpende Hand pak vaardigheidstekorte met beurse


Foto: Marisa Engelbrecht

Solidariteit se Sol-Tech-opleidingskollege het op 10 Julie sy tweede tegniese opleidingsentrum in Pretoria geopen. Sol-Tech lei reeds 450 studente in verskeie tegniese rigtings op. Die nuwe opleidingsentrum, wat in Hermanstad, Pretoria geleë is, spesialiseer in meganiese vakleerlingskappe soos megatronika, motorwerktuigkunde en pas en draaiwerk. Sol-Tech se eerste opleidingsentrum is in Centurion en bied hoofsaaklik elektriese rigtings aan. Solidariteit is die enigste vakbond in Suid-Afrika wat sy eie tegniese kolleges het.

Die tegniese toerusting van die nuwe opleidingsentrum het R2 miljoen gekos, terwyl Sol-Tech se bedryfskoste byna R10 miljoen per jaar beloop. Die opleiding word gefinansier deur die vakbond se sakebeen, klasgeld, beurse van Solidariteit Helpende Hand Beursfonds, en bydraes van die Setas. Sol-Tech is ten volle geakkrediteer en studente verwerf ʼn amptelike ambagskwalifikasie ná afloop van hulle studies.

Volgens Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, het die vakbond drie jaar gelede besluit om sy eie tegniese kollege te begin in die lig van die vaardigheidstekort in die land. "Beroepsopleiding in Suid-Afrika het bykans tot stilstand gekom. Solidariteit het besluit om die bul by die horings te pak en self met opleiding te begin."

 

 

Boontoe


 

Haglike omstandighede in Ruyterwacht skok

Sowat 35 mense, insluitende 13 kinders, woon tans in haglike omstandighede in die Ruyterwacht-informele nedersetting naby die Grand West Casino in die Wes-Kaap.

Die Kaapstad-tak van Solidariteit Helpende Hand het op 17 Julie die eerste reënjasprojek in dié behoeftige gemeenskap begin. Helpende Hand het reënjasse en waterstewels aan al die kinders oorhandig. Die oorhandiging het deel gevorm van die opening van Helpende Hand se tak in Kaapstad.

Volgens Erika Rossouw, skakelbeampte van Helpende Hand se Kaapstad-tak, het die afgelope maand se verwoestende reën die informele nedersetting in haglike omstandighede gedompel en Helpende Hand het gevolglik besluit om in te gryp.

Helpende Hand het voorheen reeds kos en klere aan die uiters behoeftige inwoners versprei en ook houthuisies vir die inwoners aangekoop wat op 26 Julie opgerig is. Baie dankie aan die manne van die Kaapstad-tak en die talle ander vrywilligers wat gehelp het om die houthuisies op te rig.

  • Die Kaapstad-tak moet egter dringend geld insamel vir die finansiering van hul projekte. Enige individue of instellings wat bereid is om finansieel te help of nog houthuisies kan skenk, kan Erika Rossouw by 072 195 6581 of erikarossouw@lantic.net kontak.


Boontoe


 

Helpende Hand se Mosselbaai-kantoor
Foto's: Surita Flischman

Oom Jaap Maritz, ʼn vrywilliger by die Mosselbaai-kantoor
wat getrou help met die verspreiding van kos en klere.

Die Mosselbaai-kantoor ontvang al meer skenkings.

 


Boontoe


 

Laerskool Menlopark skenk bakkievrag

Laerskool Menlopark het in Julie ʼn bakkievrag produkte aan Helpende Hand geskenk. Die skool het ʼn barmhartigheidsweek gehou waartydens hulle van blikkieskos tot beskuit, sjampoe en seep ingesamel het. Baie dankie, Laerskool Menlopark! Ons waardeer julle bydrae!

 

Boontoe


 

Koop Steve se boek en gee Helpende Hand 'n hupstoot

Koop Steve Hofmeyr* se gewilde boek, Jêmbekseep, aanlyn en dra só R20 tot Solidariteit Helpende Hand by. Griffel Media bied hierdie promosie gedurende Augustus en September in samewerking met Steve Hofmeyr en Solidariteit Helpende Hand aan.

Jêmbekseep bied ʼn heerlik terugblik op die pittige sêgoed en aanhalings van dié bekende Afrikaanse ikoon. Ná die sluiting van sy gewilde blog is Jêmbekseep ʼn goeie geleentheid om sy immer gewilde stem steeds op papier te hoor. Lees wat hy dink en sê oor ʼn wye verskeidenheid onderwerpe; met sy liefde vir Afrikaans en die mense van die land wat duidelik hoorbaar is. Hierdie vermaaklike boek is 'n moet vir jou koffietafel en is ʼn uitstekende geskenk vir enige Steve-aanhanger.

Koop die boek aanlyn vir slegs R90 (plus R35 posgeld) en spaar bykans R30 (normale handelsprys is R155). R20 van die koopprys word aan Helpende Hand geskenk.

* Steve Hofmeyr is die beskermheer van Solidariteit Helpende Hand.

 

Boontoe


Jacaranda FM se Winterwarmer-projek skenk komberse

Die radiostasie, Jakaranda FM het met hulle winterwarmer-projek 1000 komberse aan die Solidariteit Helpende Hand geskenk.

Hier is Faith Durie en Elize Bezuidenhout van die Solidariteit Helpende Hand by van die komberse

 

Boontoe


HH in die Nuus

Beeld
2008/07/25
Bladsy: 11

Zuma knik kop vir arm wit mense
Rademeyer, Alet

Mnr. Jacob Zuma ontvang 'n lappieskombers van
die inwoners van die Bethlehem-nedersetting.

Foto: Herman Verwey, Beeld

I can see clearly now the rain has gone. . . I can see all obstacles in my way. . . Op die maat van die treffer uit die 1970's het honderde arm wit mense van Pretoria gisteroggend saam gewieg en gesing terwyl hulle op mnr. Jacob Zuma, ANC-president, en ʼn regeringsafvaardiging gewag het. Hulle is deur verskeie kunstenaars vermaak wat tot die werk van die vakbond Solidariteit se Helpende Hand Fonds verbind is. Verskeie bejaardes in rolstoele, ander op krukke en tientalle wat aan mekaar vasgeklou het vir ondersteuning, het in ʼn lang tou by die Bethlehem-nedersetting in die noordweste van Pretoria gewag om hul name op lyste te kry om vir ʼn maatskaplike regeringstoelae te registreer. Zuma is met luide applous verwelkom toe hy hulle later in ʼn groot wit tent in Afrikaans gegroet en vertel het hoe belangrik die dag vir hom is en hoe almal in die land moet sa amwerk om harmonie te bewerkstellig. Gemeenskapsleiers van verskillende nedersettings en skuilings vir behoeftige wit mense in en rondom die stad het geleentheid gekry om hul probleme te stel waarop Zuma telkens instemmend kop geknik het. Uiteindelik is ondernemings deur dr. Gwen Ramokgopa, uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad, en dr. Zola Skweyiya, minister van maatskaplike ontwikkeling, gemaak dat hulp iewers vandaan gaan kom en dat alle armes gelyke behandeling moet kry. Mnr. Jan Degenaar (79), een van die mense wat die verrigtinge bygewoon het, het gesê: "Dit lyk of mnr. Zuma ʼn man is wat vir almal opstaan. Ek is nogal beïndruk met hom. As hy ons Afrikaners ook kan help, sal dit goed wees." ʼn Brose me. Marie Erasmus het gesê: "Ek het vandag baie geniet. Mnr. Zuma sê hy kan ons help en ek dink hy gaan dit doen."

 

Polokwane Observer                                   
2008/07/10                              
Bladsy: 7

Boere maak ʼn 24 ton-plan vir behoeftiges
Danél Esterhuysen

SOOS die gesegde lui maak ʼn boer ʼn plan. Dit is presies wat ʼn klomp boere van Limpopo gedoen het toe hulle van die geweldige armoede onder die wit Suid Afrikaanse gemeenskap gehoor het. Die plan het in die vorm van tonne aartappels, pampoene, uie en lemoene gekom wat onlangs aan Solidariteit se Helpende Hand Fonds geskenk is. Die fonds vir armoedeverligting is ʼn inisiatief van die vakbond wat hulpverlening aan ʼn groeiende gemeenskap gee van wie staatshulp onttrek is of afgeneem het. Die fonds se projekte is daarop gemik om ondersteuning aan oud en jonk te bied. Me Marie van Tonder, ʼn boer en eienaar van ʼn vervoermaatskappy op Alldays, het na ʼn TV-insetsel oor Helpende Hand en de groeiende probleem van wit armoede besluit om self iets aan die probleem te doen. Na ʼn paar besoeke aan boere in die omgewing van Alld ays, Vivo en Dendron het die projek vorm begin aanneem. Boere in die gemeenskap het hul harte oopgemaak en ingespring om te help. Ek weet ons boere sê gereeld dit gaan swaar, maar hulle harte is oop. Ek het twee seuns en gelukkig het ek nog nooit nodig gehad om vir hulle te sê daar is nie kos nie. Dit het aan my hart gevat om te sien hoe mense so moet sukkel," vertel Van Tonder. Die ware van nagenoeg 24 ton, gelaai met groente en ander skenkings soos klere en huisware, is op 21 Junie afgelaai.
Volgens die projekbestuurder van Solidariteit se Helpende Hand Fonds, me Mariana Kriel, is die produkte reeds aan behoeftige gemeenskappe versprei. 'Ons Is bale dankbaar vir die enorme skenking. Dit bring nie net hoop vir die Me Marie van Tonder, ʼn boer en eienaar van ʼn vervoermaatskappy op Alldays wat die inisiatief aan die gang gesit het om Solidariteit se Helpende Hand Fonds te ondersteun. Boere van die omgewing het sowat 24 ton aartappels, pampoene, uie en lemoene aan behoeftiges geskenk. Foto: Verskaf honderde behoeftiges wat hierdeur gehelp is nie, maar herbevestig dat mense se harte op die regte plek is en dat hulle graag wil help," het Kriel gesê. Intussen word ʼn volgende besending groente en vrugte weer beplan en die boere het ook reeds ʼn plan gemaak om ʼn groeiende hulpbehoewende gemeenskap in Polokwane te help. Vir inligting oor Solidariteit en hul werksaamhede, besoek die vakbond se webtuiste by www.solidariteit.co.za.

 

Boontoe


 

Kortliks
ʼn Oorsig oor die projekte waarmee Helpende Hand besig is.

Doen nou aansoek vir Helpende Hand-beurslenings
Opskud matrieks en studente! Ja, Helpende Hand besef dat julle nou waarskynlik aan niks anders as die eksamen dink nie, maar dink vooruit. As jy opskud, kan jy nog in aanmerking kom vir ʼn Helpende Hand-beurslening. Helpende Hand het vanjaar reeds beurslenings ter waarde van R1,4 miljoen aan studente toegeken. As jy ʼn deel hiervan wil hê, moet jy jou aansoek voor die einde Oktober vir Hendrik Briel stuur. Stuur sommer vandag nog ʼn e-pos na beurse@solidariteit.co.za en pak jou studies en die toekoms met ʼn Helpende Hand-beurslening aan!

Skenk só
Skenkings aan Helpende Hand kan weeksdae tussen 08:00 en 16:30 by Helpende Hand se skenkingskantoor in Centurion afgelewer word. Hier bepaal Helpende Hand waar die onderskeie skenkings die beste aangewend kan word.

 

Boontoe


 

Helpende Hand se Helpende Hande

As jy 'n donasie aan Solidariteit se Helpende Hand Fonds wil maak,
kan jy dit by die volgende bankrekening inbetaal:

Bank: ABSA
Rekeningnommer: 09082262243
Taknommer:632005 (Centurion)

Of bel die inbelsentrum by 0861-25-24-23


No comments: