Tuesday, August 12, 2008

Drie senior amptenare geskors weens betrokkenheid by flaminke-veldtog

) jana engelbrechten
hannatjie van der merwe

KIMBERLEY. – Mense het gister ontstoke gereageer op die skorsing van
drie senior amptenare van die Noord-Kaapse departement van ekonomie,
toerisme, omgewing en bewaring.

Mnre. Mark Anderson, ornitoloog, Julius Koen, adjunkdirekteur:
bewaring, en Eric Hermann van wetenskaplike dienste, is Maandag met
volle voordele geskors omdat hulle glo betrokke was of is by die
veldtog vir die red van die flaminke van Kamfersdam net buite
Kimberley.

Al drie het senior aanstellings op assistent-direkteursvlak.

Dié veldtog is nie net oor die beplande residensiële ontwikkeling naby
die kunsmatige broei-eiland van die kleiner flaminksoort van
Kamfersdam nie, maar veral omdat kommer bestaan oor die watergehalte
omdat 'n hoë volume van uiters swak gehalte (rou) riool glo in
Kamfersdam vloei weens die feit dat 'n deel van die
Homevale-rioolaanleg glo nie operasioneel is nie.

Mnr. Mandla Ndzilili, woordvoerder van bogenoemde departement, het
gesê dié drie is geskors nadat die bestuur van die departement hieroor
gepraat het.

Die bewerings oor hul betrokkenheid word in 'n ernstige lig beskou. Hy
kan nie sê wat die bewerings is nie. Daar moet vasgestel word of dit
waar is of nie.

Hy het gesê 'n interne ondersoek sal gehou word waarna besluit sal
word oor verdere optrede of nie.

Hy kon nie sê of nog mense geskors gaan word nie. Dit hang van die
ondersoek af.

Dr. Chris Liebenberg, DA-lid van die Noord-Kaapse wetgewer, het gesê:
"Ons bevraagteken die motiewe vir die skorsing van dié amptenare.
Anderson is sedert 1991 betrokke by die bewaring van die flaminke. Hy
en ander mense het die Red-die-Flaminke-veldtog begin. Hulle het nie
die voorgestelde ontwikkeling in die area bevraagteken nie, maar hulle
het die gehalte van die water van die dam bevraagteken.

"Net so oor die 9 000 kuikens het onlangs uitgebroei en dit sal 'n
misdaad wees om toe te sien dat hierdie kuikens weens die gehalte van
die water doodgaan."

Liebenberg het gevra of die skorsing 'n politieke oorsprong het en
hoekom. Watter beloftes is deur politieke leiers aan die ontwikkelaars
gemaak?

Hy het gesê Anderson gaan na verneem word binnekort die pos as
uitvoerende direkteur by Birdlife South Africa aanvaar. Dit was voor
sy skorsing aan sy hoofde bekend. So hoekom die skorsing?

Mej. Dorothy-Anne Howitson van Kimberley het gister in 'n brief aan
Volksblad gesê dié drie het uit hul pad gegaan om die natuur te
beskerm. Hulle het 'n studie van die flaminke-projek gemaak en nou hou
wetenskaplikes van oor die wêreld heen die flaminke dop.

Sy het gesê dit is skokkend dat 'n "polisie-inspekteur na bewering
onder die invloed van alkohol kan bestuur saam met 'n halfkaal vrou in
sy motor", maar aanhou werk, terwyl dié mans geskors is.

"Daar is soveel ander probleme. Die rioolstelsel in die stad wat nie
werk nie, omdat beamptes eerder in hulle gesellige kantore sit. Die
diens van die departement van gesondheid is net so pateties en niks
word aan personeellede gedoen wat nie hul werk doen nie."

No comments: