Tuesday, August 5, 2008

Vloot besoek aan China

China-besoek kos vloot R30 m.

Aug 03 2008 09:36:53:630PM

Die vloot gaan vir die eerste keer sy enigste uitgebreide buitelandse
besoek van die jaar suiwer wy aan die ondersteuning van die regering
se diplomatieke betrekkinge met China...

Erika Gibson


Die vloot gaan vir die eerste keer sy enigste uitgebreide buitelandse
besoek van die jaar suiwer wy aan die ondersteuning van die regering
se diplomatieke betrekkinge met China en omstreke – teen sowat R30
miljoen.

In die verlede en in die lig van die vloot se beperkte begroting het
dié soort besoeke gewoonlik op opleiding en gesamentlike ?oefeninge
met vlootbondgenote gefokus.

"Strategies beskou, is die gesegde dat 'n mens jou vriende koester,
maar jou vyande selfs stywer vashou," het mnr. Helmoed-Römer Heitman,
militêre ontleder, gesê.

"China is 'n toekomstige koloniale mag in Afrika en dit maak sin dat
Suid-Afrika nóú witvoetjie soek. Dit sal beteken dat Suid-Afrika in
die toekoms eerder 'n kliënt as 'n kolonie van China word.

"Dít is eintlik maar die enigste alternatiewe vir Suid-Afrika,
aangesien hy die VSA as 'n vyand en Europa as 'n bemoeisieke entiteit
in Afrika beskou."

Volgens kapt. Lisa Hendricks, woordvoerder van die vloot, sal een van
die vloot se splinternuwe fregatte, die SAS Spioenkop, op dié besoek
die regering se diplomatieke inisiatiewe ondersteun.

Afgesien van China, sal die skip ook Viëtnam, Indië, Mauritius en
Singapoer aandoen. Die besoek sal van Oktober tot Desember duur en in
die proses die grootste gedeelte van die vloot se bedryfsbegroting vir
dié soort ontplooiings opgebruik.

"Die doel van die besoeke is om interkontinentale bande met die Ooste
en die Verre Ooste te sluit en samewerking te bevorder," het Hendricks
gesê.

Die vloot het die afgelope paar jaar daarop gekonsentreer om sy
maritieme betrekkinge met Indië en Brasilië te verbeter. Hy is ook nou
betrokke by die ontwikkeling van 'n maritieme vermoë in Afrika.

Volgens Hendricks was die enigste samewerking met die Chinese vloot in
die verlede waar Suid-Afrikaanse en Chinese vlootskepe by mekaar
verbygevaar het en kort prosedures in dié proses ingeoefen is.

Na verneem word, sal verskillende admiraals en vloothooggeplaastes na
elk van die lande wat besoek word, gevlieg word. Die rede dáárvoor is
dat almal van hulle nie vir die uitgebreide duur van die vaart op die
fregat kan bly nie.

Dié hoës sal by verskeie gesellighede optree as gashere aan boord van
die besoekende skip. Volgens beplanning sal 'n groep studente van
lande soos Mosambiek aan boord van die Spioenkop wees om tydens die
besoek praktiese ondervinding op te doen.

Volgens Hendricks is die Chinese besoek 'n geleentheid waartydens die
vloot se matrose hul vaardighede kan opknap in verskillende maritieme
dissiplines terwyl hulle ondervinding in 'n onbekende gebied opdoen.

Volgens prof. Renfrew Christie, dekaan van navorsing aan die
Universiteit van die Wes-Kaap, is China haastig op pad om die volgende
supermoondheid te word.

"Dit is dus noodsaaklik dat die vloot uitvind hoe sy Chinese eweknie
funksioneer. As mens in ag neem dat China meer olie van Angola kry as
enige ander land en al die skepe om Kaappunt vaar, maak die
vlootbetrekkinge selfs méér sin.

"Neem ook in ag dat China suksesvol besig is om 300 miljoen van sy
inwoners uit erge armoede op te hef – Suid-Afrika kán dus by hom gaan
lesse leer."


Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2369211,00.html

No comments: