Monday, August 4, 2008

"Nee , my lief..." toe 7 skote

Mev. Maria Couto

Aug 03 2008 09:36:36:940PM - (SA)

Virginia Keppler

'n Bejaarde man van Doornpoort, Pretoria, is Saterdagoggend om 02:20
sewe keer geskiet en sy vrou aangerand voordat die egpaar beroof is.

Mnr. Emilio Couto (67) het in 'n plas bloed in sy voordeur neergeval
terwyl rowers hom nog drie keer geskiet het.

Sy vrou, Maria (59), wat hul slaapkamerdeur probeer toedruk het terwyl
die rowers vier skote deur die deur geskiet het, het gesê haar man se
laaste woorde was: "Nee, my lief."

Die rowers het die diefwering voor die kombuisvenster oopgebreek en
toe die kombuisdeur oopgesluit.

Haar man het eerste wakker geword. "Ek het gehoor hy sê 'nee, my lief'
en toe word ek wakker, want ek het gedink hy het 'n nagmerrie."

Toe sy besef wat aangaan, het sy die kamerdeur probeer toedruk. "Ek
het in daardie stadium nie besef my man is nie meer saam met my in die
kamer nie.

"Toe hoor ek vier skote soos wat hulle deur die kamerdeur op my
geskiet het. Emilio het buite die deur met die aanvallers baklei.

"Dit was God se hand dat nie een van die skote my getref het nie."

Volgens Couto het sy weer skote gehoor en toe was dit stil. "Die
rowers het daarna die deur oopgeskop en haar met 'n vuurwapen teen die
kop en op haar skouer geslaan.

"Ek het geskreeu en toe sê hulle 'bly stil, bly stil'. Hulle het gevra
waar is ons kluis, vuurwapens en selfone.

"Ek het gesê ons het nie 'n kluis of vuurwapens nie."

Die rowers het die egpaar se vier selfone, juwele en 'n skootrekenaar
gesteel. Hulle het egter die plasma-televisie laat val en dit het
gebreek.

Nadat hulle gevlug het, het Couto die paniekknoppie gedruk. Volgens
haar het die veiligheidsmaatskappy, Computer Alarm, nooit gereageer
nie.

"Agttien jaar gelede is my ma, Deloris de Freitas (66), ook in haar
huis in Johannesburg vermoor.

"Ek het selfs aan die teenmisdaadoptog deelgeneem, maar hulle (die
moordenaars) kom net weer terug," het Cuito huilend gesê.

"Ek het 'n wonderlike man gehad. Hy was altyd beskermend en liefdevol.
Ek gaan hom mis."

Die polisie het reeds 'n verdagte, wat 'n tyd gelede vir die egpaar
gewerk het, vir ondervraging aangekeer.

'n Werknemer in Computer Alarms se beheerkamer het gesê die eienaars
is nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2369269,00.html

No comments: