Thursday, September 4, 2008

Vrou brand dood in huis

'Jesus, help my!' haar laaste woorde

Sep 03 2008 09:11:39:990PM

"Die volgende oomblik het ons Jeanette se benoude stem oor die radio
gehoor. Sy het geskreeu dat die huis brand."


Foto's: Brande en storms.
Video: Luister hoe brand dit.
Video: Brand by saagmeule.

Buks Viljoen

'Here Jesus, help my!" was me. Jeanette Grobler (52), boervrou van
Amersfoort, se laaste, paniekbevange woorde oor 'n tweerigtingradio
voordat sy in haar brandende huis dood is.

Haar buurvrou, me. Annemarie Beukes van die plaas Tolfontein, het
gister vertel dit was "verskriklik".

Grobler en haar man, Willem, het vir die Beukes en haar man gewerk.

Beukes het gesê hulle was Saterdagmiddag in die dorp toe hulle rook in
die rigting van hul plaas sien. "Ons het huis toe gejaag, Willem
opgelaai en begin om die brand te blus.

"Die volgende oomblik het ons Jeanette se benoude stem oor die radio
gehoor. Sy het geskreeu dat die huis brand."

Beukes het gesê hulle het by die huis probeer uitkom, maar die rook
was te oorweldigend.

"Dit was ondraaglik om haar so te hoor pleit. Hulp is van naburige
plase ontbied om die vasgekeerde me. Grobler se huis uit 'n ander
rigting te probeer bereik. Toe ons eindelik daar aankom, het die huis
se dak reeds inmekaargesak."

Sy vermoed Grobler het reeds as gevolg van rookinaseming haar bewussyn
verloor toe die dak meegegee het.

Twee plaaswerkers is ook dood toe hulle tydens die brandbestryding
deur die vlamme oorval is.

Mnr. Francois Lotz, voorsitter van die Skuilplaas-boerevereniging, het
gesê die brande is die ergste in die 40 jaar wat hy in Amersfoort
boer. Sowat 3 000 skape en 690 beste het doodgebrand sedert die brande
Saterdag uitgebreek het. "Die wêreld lê besaai met karkasse van dooie
diere. Dis hartverskeurend. Baie mense is geruïneer."

Me. Lindiwe Hendricks, minister van bosbou en water, het gister gesê
13 000 ha plantasies is in Mpumalanga vernietig.

Meer as 100 veldbrande het sedert die naweek in sewe van die land se
provinsies gewoed.

Hendricks het gister in Johannesburg gewaarsku dat die
weersomstandighede tot nóg brande kan lei, berig Sapa.

Sy het bygevoeg sy betreur aanduidings dat sommige van die brande deur
brandstigters veroorsaak is. "Ons sal dit saam met die polisie
ondersoek en die oortreders sal vervolg word."

Mnr. Mtholephi Mthimkhulu, LUR vir landbou in KwaZulu-Natal, het
gister gesê bewerings dat van die wegholbrande in dié provinsie
doelbewus weens sloerende grondeise gestig is, sal ondersoek word.

Die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu) het vroeër bewerings dat
van die brande met grondeise verband kan hou, rugbaar gemaak.
"Frustrasievlakke is by kookpunt en daar word gereken dat brande kan
help om mense van hul grond te kry," het die unie in 'n verklaring
gesê.

Volgens me. Sandy la Marque, hoofbestuurder van Kwanalu, het minstens
twee van hul lede gesê hulle het "sterk bewyse" dat van die brande
naby Melmoth en Winterton gestig is.

Mnr. Simon Thomas, bedryfsbestuurder van die
KwaZulu-Natal-brandbeskermingsvereniging, het gesê hulle ondersoek
aanduidings dat nalatigheid met die brand van weivelde tot talle van
die brande gelei het.


Oorsprong:
Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2387680,00.html

No comments: