Wednesday, September 10, 2008

Kimberley - Sol Plaatje in geldelike gemors

Sol Plaatje 'gaan in die drein af'
Sep 10 2008 Volksblad
Hannatjie van der Merwe
KIMBERLEY. – Die Sol Plaatje-munisipaliteit is in 'n baie groot
geldelike gemors weens veral miljoene rande wat betaal word aan
Intelligent Meter Systems (Pty) Ltd (IMS) wat nie nou werk vir die
munisipaliteit doen nie.
'n Munisipale belegging van R3 miljoen moes selfs vroeër uitbetaal word
sodat dié geld aan IMS betaal kon word.
Dié R3 miljoen moes eintlik gebruik word vir R16 miljoen wat in die
volgende week aan Eskom betaal moet word.
Dié inligting het gister bekend geword op 'n spesiale
stadsraadsvergadering wat dringend gehou is.
Van die raadslede was bekommerd dat die stad se krag moontlik afgesny
kan word as Eskom nie betaal word nie.
Me. Gladys Mthukwane, waarnemende burgemeester, het verslag oor die
stand van sake gedoen.
Sy het gevra hoekom moet mnr. Frank Mashilo, munisipale bestuurder, nie
geskors word nie. "Die finansiële hoof (me. Nandi Madiba) moet ook redes
gee hoekom sy nie geskors moet word nie. Hoekom moet mnr. Khuza Bogacwe
(direkteur: tegniese dienste) nie geskors word nie?"
Dié munisipaliteit is vroeër in 'n tussentydse bevel verbied om verdere
voorafbetaalde elektriese meters in woonhuise hangende 'n
multimiljoenrand-hersieningsaansoek aan te bring.
Actaris South Africa (ASA), wat aanvanklik vir die verskaffing en meting
van die voorafbetaalde elektriese toestelle in die stad verantwoordelik
was, het die dringende aansoek by die hooggeregshof ingedien.
Waarnemende regter-president L.O. Bosielo was in sy uitspraak verbyster
dat die Sol Plaatje-munisipaliteit die "astronomiese" bedrag van R94
miljoen van IMS ten koste van ASA se aanbod van R36 miljoen aanvaar het.

Dit het gister aan die lig gekom dat die munisipaliteit sowat R16
miljoen aan IMS moet betaal.
'n Dokument sê op 2 September 2008 het die munisipaliteit 'n bewys van
IMS van R10 miljoen gehad bestaande uit drie fakture van R3,42 miljoen
wat betaal moet word.
"Die finansiële hoof is ingelig daar is nie geld beskikbaar om dit te
betaal nie omdat 'n tekort aan kontantvloei toe ondervind is. Die
munisipaliteit het net twee beleggings van R3 miljoen wat in die nabye
toekoms uitkeerbaar is."
Dit wil die munisipaliteit gebruik vir die Eskom-betaling van R16,8
miljoen wat toe oor twee weke betaal moes word.
"Die finansiële hoof het die bank gekontak en 'n reëling getref vir die
vroeëre beskikbaarheid van 'n belegging van R3 miljoen wat op 3
September uitbetaal is (net R2,9 miljoen) wat gebruik is om een faktuur
van IMS te betaal. Mnr. Lawrence Matsekete (ANC) het gister gesê:
"Hierdie munisipaliteit gaan elke sekonde van elke dag die drein af."
Mthukwane het gesê daar is selfs 'n moontlikheid dat raadslede nie hul
salarisse gaan kry nie.
"Sedert ek die waarnemende burgemeester is, kry ek klagtes oor finansies
en korrupsie. Ons kan nie so aangaan nie."
Sy het gesê sy is baie teleurgesteld met die werkverrigting van die
munisipale bestuurder (wat gister afwesig was).
"Ek het na huil gevoel. Van ons (raadslede) is werkloos. Ons kan sonder
salarisse wees omdat die munisipale bestuurder nie sy werk doen nie.
"Hoekom moet die munisipale bestuurder nie geskors word nie? Boonop is
munisipale rekeninge laat, lesings is verkeerd en inwoners is nie meer
lus om te betaal nie."
Mnr. Ronnie Bauser (DA) het gesê 'n dokument moet opgestel word met al
die bewerings teen die munisipale bestuurder. Sy skorsing moet hangende
'n ondersoek wees.
Daar is besluit dit moet binne sewe dae gedoen word en 'n forensiese
oudit moet ook gedoen word. ) Die stadsraad het op 31 Maart vanjaar op
'n spesiale raadsvergadering besluit dat enige toekomstige betalings aan
IMS tot verdere kennisgewing teruggehou word.

No comments: