Thursday, September 11, 2008

Hulp aan ontwikkelende skrywers en digters





Hulp aan ontwikkelende skrywers en digters

Hulp aan ontwikkelende skrywers en digters

Digters is dromers op papier en Afrikaans is die papier van hulle drome. Deesdae is die Afrikaanse digkuns (volgens die koerante en ander "kenners") aan't agteruitgaan en al hoe minder geleenthede word geskep vir die jong digter om sy/haar werk aan die publiek bekend te stel. Die internet word al vir 'n geruime tyd gesien as die enigste antwoord op hierdie probleem. Nou het een van die groot Afrikaanse Internet inisiatiewe tande gekry en gaan nou daadwerklik 'n punt daarvan maak om skrywers te help ontwikkel.

Woes.co.za is 'n interaktiewe tuiste van ons taal en het tans meer as 23,000 gedigte, 1,800 kortverhale en meer. Die webwerf is 'n kreatiewe platform vir Afrikaans en mik om nie net skrywers 'n plek te gee waar hulle gratis blootstelling en terugvoer oor hulle werk kan kry nie, maar ook nou om hierdie skrywers op te hef en te help op hulle pad.

Om hierdie ontwikkeling van skrywers en digters te fasiliteer en te bestuur het Woes.co.za 'n portaalbestuurder aangestel. Kabous Verwoed, straatdigter en woordmens is gekies vir hierdie posisie. Van die verantwoordelikhede van die portaalbestuurder gaan wees:

  • Om die aanlyn gemeenskap van skrywers te stimuleer deur kreatiewe projekte te loods.
  • Projekte van stapel te stuur om die skrywer op te hef en hulle te help om hulle talent te verbeter.
  • Dienste te skep wat spesifieke behoeftes in skrywers aanspreek en deur die webwerf gelewer kan word.
  • Om mede skrywers te kry om mekaar te help en te ondersteun.
  • Om te luister na gebruikers se behoeftes en waar die webwerf verbeter kan word.

Verwoed is nog altyd aan die kant van die jong en ontwikkelende skrywers gewees. Hier kry hy dus nou uiteindelik die geleentheid om op 'n meer formele wyse sy liefde vir hierdie aspek van die skryfwêreld uit te leef. Alhoewel hy nog net een keer (In die versamelbundel Genugtig 2006) formeel gepubliseer is, het Kabous al bykans tien jaar se ondervinding as lewendige woordkunstenaar. Hy tree deesdae gereeld op saam met die kitaarman (en lid van die Afrikaanse rockgroep Klopjag) Dawie de Jager in hulle vertoning Reiswoorde.

Kabous verstaan die swaarkry-pad van die jong Afrikaanse skrywer in die post-Apartheid Suid-Afrika van vandag. Hoe moeilik dit is om 'n uitgewer sover te kry om 'n nuwe stem te publiseer. Hoe (amper) onmoontlik dit is om terugvoer of kritiek op jou werk te kry. Verwoed se missie en doel by Woes.co.za is tweeledig. Die ontwikkeling van die bestaande groep skrywers sowel as die uit- en aanbou van bogenoemde groep.

Verwoed het al hoe meer op die lewendige voordra van sy eie werk begin fokus en dan ook in 2007 sy debuutbundel (Beenkamers en Gange: Kabous se Skyf) in cd-formaat die lig laat sien. Hy is ook tans besig met die verfilming van sy cd met die doel om binnekort 'n vollengte dvd daarvan uit te gee. Verwoed het al die verhoog gedeel met groot name soos Gert Vlok Nel, Koos Kombuis, Piet Botha, Bacchus Nel, Jan Blohm, ensovoorts.

Woes.co.za en Kabous Verwoed sien uit na die paadjie wat hulle saam gaan stap en alle jong en voornemende digters word hartlik aanbeveel om so gou as moontlik by hulle aan te sluit.

En onthou. www staan vir wye Woes wêreld. Sluit dadelik, maak jouself dus sommer vandag deel van ons en kom kry jou padkaart!

Vir meer inligting kontak vir Willem Gous by 082 322 0600 of woes@woes.co.za


No comments: