Tuesday, September 23, 2008

Bloed en Trane protes optog teen straatnaam verandering

(Bees)bloed vloei by protes oor straatname
Sep 22 2008 10:20:13:450PM - (SA)

Leon Botha

Die straatnaamveranderings wat die Tshwane-metroraad beoog, is
kulturele volksmoord. As die moederstad val, is ander groot stede
volgende, het mnr. Edwin Leemans, gemeenskapswoordvoerder van Aksie
Pretoria Straatname (APS), gister tydens 'n betoging op Kerkplein in
Pretoria gesê.

"Jy begin 'n volk af te breek deur sy geskiedenis af te takel," meen Leemans.

"Ek gee my eer aan die struggle. Maar almal se struggle moet erken
word. As die hoofstad val, is ons gedoem: van ons taal, godsdiens tot
geskiedenis. Alles wat ons is, is dan weg."

Die APS sal die naamsveranderings met alles in sy vermoë beveg, het hy gesê.

"Ek sal myself vasketting hier aan die Paul Kruger-standbeeld. Maar ek
sal daar onder in Paul Krugerstraat begin. Nes daai student wat
doodgery is deur 'n tenk naby die Beijing-plein (Tiananmen-plein) as
gevolg van sy protes-aksie.

"En as ek val, sal daar weer net nog iemand in my plek wees," het hy gesê.

"Dis nie net ons eie geskiedenis wat geteiken word nie; dit blyk Lucas
Mangope se naam is ook in die gedrang.

"Mense word nou wakker in die land oor wat aangaan," het Leemans gesê.

Die simboliek om rooi linte aan die bedreigde straatnaamborde vas te
bind, het ook 'n Bybelse assosiasie.

"Dis in Josua 2 geskrywe," verduidelik Leemans. "Rooi linte het by
Ragab se venster uitgehang voor die val van Jerigo sodat sy gespaar
kon bly."

Die APS wil ook seker maak monumente bly behoue.

"Kyk, hier sit vier onbekende Boerekrygers aan die voete van die Paul
Kruger-standbeeld.

"Ons moet onthou dat ons nie die geskiedenis kan verander of wegwens nie."

Een van die redes vir die beswaar teen die naamsveranderinge is die
verwarring wat dit kan veroorsaak.

"Dis soos toe Fifa kapsie gemaak het teen die naamsverandering van Pretoria.

"Die bloed (beesbloed) wat ons vandag hier sprinkel, is ter
nagedagtenis aan 25 000 kinders en 2 000 vroue wat in
konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog gesterf het.

"So ook dink ons vandag aan die xenofobiese sterftes. Groepe wil
mekaar eenvoudig wegwens en wegneem."

Leemans het gesê hy het sy mop saamgebring.

"Ek sal self die bloed skoonmaak wat ons hier gemors het."

Oorsprong:

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2397958,00.html

No comments: