Thursday, September 25, 2008

Rowers val gaste aan, verkrag

Sep 23 2008 10:00:51:350PM - (SA)

Francois Oosthuizen

francois.oosthuizen@beeld.com

Ses gewapende rowers het Saterdagaand ses gaste by die Hippo Lodge in
die Wieg van die Mensdom by Muldersdrift aangehou en twee vroue
verkrag.

"Ons woon al 13 jaar hier en dit is die eerste keer dat so iets hier
gebeur," het mnr. Geof Maud, eienaar van die Hippo Lodge, gister gesê.

Die ses familielede, van wie die dogter en haar man in Engeland woon
en die lodge vanjaar 'n tweede keer besoek het, het in hul chalet
gekuier toe een van die rowers 'n vuurwapen deur die venster gedruk
het. 'n Ander een het die voordeur met 'n baksteen oopgebreek.

"Die rowers het . . . die mans vasgebind en toe selfone en
juweliersware gebuit. Net een van die rowers het die vrou en haar pa
se vriendin verkrag."

Maud was nog baie emosioneel ná die voorval en het gesê hy kon die
afgelope twee nagte nie slaap nie.

"Dink net waardeur moet die slagoffers gaan."

Hy het gesê hy weet nie hoe die rowers die perseel binnegekom het nie
omdat dit met 'n geëlektrifiseerde heining en alarms toegerus is.

Volgens insp. Tebogo Kgomo, polisiewoordvoerder, het die polisie
eergister die gesteelde Nissan Tiida waarin die rowers gevlug het, in
die Diepsloot- informele nedersetting gekry. "Geen van die gesteelde
items is teruggevind nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie."

Dié voorval volg op die moord op mnr. Franz Richter, eienaar van die
nabygeleë Heia Safari Ranch, in November verlede jaar.

Die polisie in die omgewing het nou die Trio-taakspan op die been
gebring om huisbrake, inbrake by sakeondernemings en kapings hok te
slaan.

Kgomo het gesê ondersoekbeamptes van die Florida-, Roodepoort-,
Muldersdrift-, Honeydew-, Randburg- en Douglasdale-polisiekantoor gaan
kragte saamspan om dié soort misdaad hok te slaan.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2398676,00.html

No comments: