Wednesday, September 17, 2008

Geskiet, maar hy blý in SA

Mnr. John de Jager van Cullinan, oos van Pretoria, is eergisteraand
drie keer in die been geskiet. Foto: Herman Verwey

Sep 16 2008 08:35:29:050PM - (SA)

Virginia Keppler

'Sê vir die minister van veiligheid en sekuriteit ek sal nie Australië
toe gaan nie, want Suid-Afrika is my huis."

So sê 'n suurlemoenboer van Cullinan, oos van Pretoria, wat
eergisteraand om 22:30 tydens 'n huisrooftog drie keer raakgeskiet is.

Mnr. John de Jager (37) is drie keer in sy regterbeen geskiet toe hy
sy vrou, Petronella (37), te hulp gesnel het nadat drie gewapende
rowers haar by hul wasgoeddraad oorval het.

Sy het wasgoed gaan afhaal toe sy skielik begin gil. Hy het dadelik
uitgehardloop, het De Jager gister uit sy bed in die Montana-hospitaal
gesê. "Ek het 'n man naby haar gesien staan. Hy het niks gesê nie en
my sonder enige waarskuwing geskiet. Toe die eerste koeël my tref, het
ek op die man afgestorm en toe skiet hy my nog twee keer in dieselfde
been."

Die rowers het hom buite laat lê en sy vrou die huis ingevat.

"Hulle het haar na ons kamer geneem om die kluis vir hulle oop te
sluit en toe steel hulle twee vuurwapens en geld uit die kluis."

Die rowers het ook die paartjie se selfone, mev. De Jager se trouringe
en juwele gesteel. Daarna het hulle haar hande met haar man se
skoenveters agter haar rug vasgebind.

"Hulle het my hande en voete ook met my skoenveters vasgebind en toe
sit hulle op my. Toe ek vir hulle sê ek het mediese hulp nodig, het
hulle my gevloek.

"Voordat hulle gevlug het, het hulle 'n kombers oor my kop gegooi."

Sy vrou kon haar loswikkel en het hom ook losgesny.

"Ek kon nie beweeg nie en het net bly lê."

Hul seun, Günter (7), het gelukkig deur die hele drama geslaap.

De Jager het meer as 'n week gelede twee kabeldiewe op sy eiendom
gevang en aan die polisie oorhandig. Hy reken dit hou dalk verband met
die aanval.

Mnr. Charles Nqakula, minister van veiligheid en sekuriteit, het in
2006 gesê mense wat dreig om die land weens die hoë misdaadsyfer te
verlaat, moet ophou kla of padgee.

De Jager sê hy gaan nie die land verlaat nie. "Die minister moet
eerder afgedank word.

"Sê vir hom (die minister) ek is nie 'n klakous nie en ek sal nooit
die land verlaat nie, want waarheen sal ek dan gaan? Ek wil net hê
hulle moet die galg terugbring.

"My vuurwapens is nou daar buite en dit gaan in ander gewapende
rooftogte gebruik word."

De Jager het gevra Nqakula moet beter toerusting beskikbaar maak om
misdaad te bekamp.

Kapt. Sello Ngobeni, waarnemende bevelvoerder by die
Cullinan-polisiekantoor, het gesê hulle ondersoek die voorval.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2394519,00.html

No comments: