Monday, September 29, 2008

Oranje Sakestigting gestig

VOLKSEKONOMIE KRY HUPSTOOT DEUR NUWE SAKESTIGTING

Etlike maande se beplanning deur 'n loodskomitee het
vandeesweek gelei tot die stigting van die Oranje
Sakestigking. Die komitee bestaan uit mnre. Dolf
Buitendach, Clem de Klerk, Jan Beyers, Ben Geldenhuys en
Henk van de Graaf.
Die gedagte het sy beslag gekry tydens vanjaar se tweejaarlikse
algemene kongres van die Verkennersbeweging in die
Willie Marais Afrikanersentrum in Pretoria.
Die behoefte is daar uitgespreek dat sakemanne in sakekamers
byeengebring moet word, sodat hulle mekaar kan ondersteun,
en die Afrikaners weet wie is hulle sakemanne en
hulle ondersteun, om sodoende geen volksgeld in vyandshande
te laat beland nie.
Sakelui van 15 stede en dorpe het die stigtingsvergadering
in die saal van TLU SA bygewoon, terwyl nog ses dorpe laat
weet het dat hulle betrokke gaan raak, maar net nie die ver
ent pad kon aandurf om die vergadering by te woon nie.
Mnr. Dolf Buitendach, wat as sameroeper van die
byeenkoms opgetree het, sê dat daar waarskynlik binnekort
Oranje Sakekamers in sowat 25 plekke behoort te wees. Die
Sakekamers affilieer dan by die Oranje Sakestigting, wat dan
verantwoordelik is vir effektiewe kommunikasie tussen die
verskillende sakekamers. Die Stigting sal namens sy lede by
bestaande strukture verdere voordele beding, of alternatiewe
strukture vestig tot voordeel van sy geaffilieerde Sakekamers.

Die Stigting moet ook namens sy Sakekamers op deurlopende
basis navorsing doen oor nuwe ontwikkeling in die
sakewêreld en vervaardigingsbedryf, en sal namens sy lede
advertensies en verklarings uitreik om hulle saak te bevorder.
Die doelstelling van die Oranje Sakekamers is om ondernemerskap
van die Afrikanergemeenskap ter plaatse te bevorder,
"om, as teenvoeter te dien teen die ongeregtighede van
die hede, waar daar teen die Afrikaner in die werksplek
gediskrimineer word; om voorkeur te gee aan indiensneming
van ons eie volksgenote; om deur affiliasie 'n Handelsinstituut
(Oranje Sakestigting) tot stand te bring om in diens van
die Afrikanervolk en sy sakekamerlede, die gemeenskaplike
sake-ideale te bevorder wat moet uitloop op selfstandigheid
in eie reg", soos die reglement van die Oranje Sakekamer dit
stel. Die Oranje Sakestigting sê in sy reglement dat hy Afrikaner
ondernemerskap deur middel van spesiale projekte wil
bevorder en uitbou Die verdere doelstellings van die Sakestigting
lui dat beoog word om "Afrikaners ekonomies te versterk
deur die vestiging van nuwe ekonomiese instellings;
Afrikaners te rig met opleidingsprogramme ten einde volkseie
ondernemings op professionele wyse te bedryf;
Afrikaner sakemanne nader aan mekaar te bring, goeie onderlinge
verhoudings op te bou en volkseie sakebelange te
bevorder onder mede-volksgenote; die Afrikanervolk se kapitale
kragte te verenig tot voordeel van sy ondersteuningsbasis;
die huidige finansiële nood in die Afrikanergeledere op 'n
verbeeldingryke wyse teë te werk deur dit te benader as 'n
geleentheid waar volkseie arbeidsgeleenthede geskep kan
word waar ons as volk weer grootliks in ons eie behoeftes
kan voorsien; Sake-etiek te help vestig teen die huidige
aanslag van korrupsie en swak standaarde; sakegeleenthede
te vestig en te bevorder wat kan bydra om volksgenote wat
die land verlaat het weer terug te bring; en om Sakegildes te stig.

No comments: