Saturday, September 13, 2008

HNP Skeuring

BEDANKING UIT DIE HNP

Ondergetekendes het na deeglike besinning oor die saak besluit om uit die HNP te bedank. Om uit 'n party te bedank wat deur mnr Jaap Marais gestig was, was geen maklike besluit nie. Inteendeel, dit was een van die moeilikste besluite wat ons ooit geneem het.

Ons is van mening dat daar baie HNP-lede is wat nie behoorlik ingelig is oor die gebeure van die afgelope maande wat gelei het tot ondergetekendes en talle ander lede se bedankings nie. Ons het dit gevolglik goedgedink om hierdie skrywe aan lede en ook voormalige lede van die Party te rig ten einde ons kant en siening van die saak in breë trekke te stel.

Tydens die kongres in Maart 2008 het dr Gregan gestel dat hy bekommerd is oor die HNP en gemeld dat ons verlam en verdeeld is, mekaar ondergrawe, in die rug steek, beskinder en verloën.  Hy het ook gestel dat daar nie eenheid onder partygenote bestaan nie en dat dit verhoed dat die Party as 'n krag na buite kan praat en kan die HNP nie aantrek, inspireer en vertroue inboesem in sulke omstandighede nie.

Wat is met bogemelde bedoel?

Vroeg in 2008 het dr Gregan opdrag van die Party gekry om saam met mnr Louis van der Schyff (die hoofsekretaris) 'n gesprek met Radio Pretoria te voer oor die feit dat Radio Pretoria die HNP as enigste ware nasionalistiese party/organisasie deurgaans stief behandel het, ondanks verskeie vertoë wat daaroor in die verlede gerig is. Tydens die gesprek het mnr Clem de Klerk dit duidelik gemaak dat hy, omdat die Demokratiese Alliansie (DA) soveel "nuus" aan Radio Pretoria verskaf, noodwendig van daardie nuus gebruik maak en by 'n vraag van dr Gregan aan mnr De Klerk, dit duidelik gestel dat hy die omstandigheid ("nuus") bo die beginsel kies. Dr Gregan het daarop gewys dat Radio Pretoria mense verwar deur enersyds voor te gee dat die "Vierkleur weer sal wapper" dog andersyds die DA as 'n alternatief aan luisteraars voor te hou. Mnr de Klerk wou dit klaarblyklik nie insien nie en het dr Gregan uit hierdie gesprek gestap. Mnr van der Schyff (as amptenaar) het egter bly sit en deur sy optrede die HNP se standpunt gerepudieer.

Daarna het die Hoofbestuur besluit dat dr Gregan 'n skrywe aan Radio Pretoria moes rig wat hierby aangeheg word as Bylae "A". Voordat die voormelde skrywe aan Radio Pretoria gestuur is het dr Gregan vir professor Adriaan Pont as Voorsitter van Radio Pretoria gebel om die saak met professor Pont uit te klaar. Professor Pont het dr Gregan aangemoedig om die skrywe te rig, aangesien dit volgens professor Pont "lankal tyd was dat Radio Pretoria hieroor standpunt inneem".  Wat daarna gebeur het behoort vir elke HNP-lid baie ontstellend te wees.  Nie alleen het mnr Japie Theart, mnr Louis van der Schyff, mnr Henk van der Graaf en andere mnr De Klerk oortuig om nie die brief aan die direksie van Radio Pretoria voor te lê nie, maar is dr Gregan hoegenaamd nie deur enige van die here in die saak geken nie.  Daar was dus duidelike inmenging deur gemelde here in die besluit wat deur die Hoofbestuur geneem is. In plaas daarvan dat erken is dat hierdie optrede verkeerd was, is die optrede deurentyd heftig verdedig en vergoeilik. 

Verskeie optredes van mnr Louis van der Schyff (waaronder voormelde) het dan ook daartoe bygedra dat hy amptelik aangekla is van verskeie oortredings en is klagtes amptelik deur die Personeelkomitee aangehoor, die meeste waarvan mnr van der Schyff self moes erken dat hy skuldig aan was.

Punt van die ysberg

Die Radio Pretoria-sage was maar net die punt van die ysberg.  Dit het algou baie duidelik geblyk dat daar twee standpunte in die HNP is, naamlik die een groep wat wil voorgee dat die HNP "in elk geval binne die bestel is" en wat nou eenheid ten alle koste wil bevorder en in die proses HNP-beginsels en beleid sal offer om daardie eenheid te bewerkstellig en 'n tweede groep wat rotsvas by die beginsels en beleid van die Party staan. Uit eersgemelde groep word selfs by monde van mnr Wouter Rust aangevoer dat sekere HNP-standpunte (wat eenparig op kongresse en vergaderings aanvaar is) "belaglik" is.  Dit sluit in die HNP se standpunt dat diegene wat die humanistiese en liberalistiese kommunistiese Grondwet se beginsels onderskryf, in vyandskap met die nasionalistiese Afrikaner verkeer. Laasgemelde besluit is deur mnr Rust en ook mnr Pieter Aucamp verdag gemaak wat verdere spanning in die Party tot gevolg gehad het.

Tydens 'n Hoofbestuursvergadering in Mei 2008 is sekere standpunte van die HNP herbevestig, waaronder dat die HNP buite die bestel is. Dit het mnr Pieter Aucamp genoop om op te staan en hom van hierdie standpunte te distansieer en het hy na verdere debat oor die saak tydens dieselfde vergadering uit die HNP bedank en die saal verlaat.  Hy het onder andere gestel dat hy nooit 'n streep kan trek deur sy KP-verlede nie en indien hy die geleentheid gegun sou word, hy weer aan verkiesings sal deelneem.  Wat egter tot kommer stem is dat daar talle HNP-lede was wat hulle agter mnr Aucamp geskaar het en het mnr Rust onder andere die blatante leuen verkondig dat mnr Aucamp uit die Party "weggejaag" is, dit terwyl hyself teenwoordig was toe mnr Aucamp hom van HNP-beleid gedistansieer het en self bedank het. 

Na die bedanking van mnr Aucamp uit die Party is 'n debat aangelê waar mnr Aucamp juis die standpunt van "binne die bestel" sou verdedig.  Tydens hierdie debat het daar verskeie HNP-lede opgedaag wat nie alleen mnr Aucamp se standpunt ondersteun het nie (naamlik dat die HNP aan verkiesings moet deelneem nie), maar duidelik deur hulle optrede aangetoon het dat hulle die beproefde en jarelange standpunt van die HNP, naamlik om buite die bestel te bly en nie aan verkiesings deel te neem nie, verwerp.  Dit ondanks die feit dat dr Gregan mnr Aucamp met nugtere politieke beredenering op die dodelike gevaar gewys het wat deelname aan die bestel vir die Afrikaner se voortbestaan inhou. Hierdie politieke les en mnr Aucamp se onverdedigbare standpunt in die debat, was vir die redakteur van Die Afrikaner een te veel om oor te berig, waarskynlik in opdrag van die "stemmers". 

Ondeurdagte en onaanvaarbare uitsprake

Mnr Wouter Rust het dan ook op sy kenmerkende manier verskeie ondeurdagte stellings en uitsprake gemaak wat HNP-lede tot onrus moet stem.  So het hy onder andere gestel dat hy nie die huidige Program van Beginsels van die Party kan onderteken nie.  Dit ondanks die feit dat dit reeds vir 14 jaar staan as die HNP se Program van Beginsels.  Dat mnr Rust na verloop van 14 jaar skielik 'n probleem daarmee het, is veelseggend. Hy het ook vermeld dat mnr Jaap Marais hom "binne in die bestel in geskrik" het in 1994 en dat dit die rede is waarom ons 'n nuwe Program van Beginsels het.  Volgens mnr Rust was mnr Jaap Marais nie opgewasse vir die nuwe bedeling wat in 1994 aangebreek het nie.  Ook hierdie ontstellende, kwaadwillige en leuenagtige uitlating is slegs deur enkeles gekritiseer en het verskeie lede van die Party hulle laat welgeval dat sulke stellings gemaak is.  Dit was uit die geledere van ondergetekendes dat aangedring was dat mnr Rust tot orde geroep moes word oor sy stellings.  Sien Bylae "B" hiertoe.

Uit bovermelde moet dit baie duidelik wees dat daar reeds geruime tyd fout gesoek was met die HNP se partyleiding en dat na bondgenote binne en buite die Party gesoek is om HNP-beginsels en beleid verdag te maak, en dat daar hoegenaamd nie sprake was van 'n Party wat eendragtig die vyand die stryd kon aansê nie. So is die Party nou reeds vir maande lank lamgelê deur die optredes van onder andere mnre Aucamp, Rust, van de Graaf en van der Schyff.  By hierdie name kan ook gevoeg word die name van dr Pieter Möller en mnr Andries Breytenbach wat ook hulle steun ten gunste van deelname aan munisipale verkiesings uitgespreek het. 

Spesiale Kongres

Tydens die spesiale kongres op 23 Augustus 2008 was dit baie duidelik dat daar baie goed georganiseer was om die nuwe leierskap te kies sodat die HNP hierdie nuwe rigting kon inslaan.  So is persone wat hulle in die onlangse en minder onlangse verlede van die HNP gedistansieer het, ook omdat die HNP die Israelvisie/waarheid gekritiseer het, weer skielik by die kongres gesien en het 'n selferkende ateïs, mnr Ben Pieters, vir mnr Theart as leier gesekondeer. Uit hierdie gebeure was dit vir ondergetekendes duidelik dat die kaping van die HNP voltrek was. Ondanks die HNP se persverklarings om sy voorgenome rigting met sy nuwe leierskap in te slaan en spesifiek te ontken dat die HNP beoog om aan munisipale verkiesings deel te neem, het die sekondant van mnr Theart in die eerste uitgawe van Die Afrikaner na die kongres (gedateer 29 Augustus 2008) opnuut deelname aan munisipale verkiesings bepleit, terwyl mnr Theart dit ontken het! Dit is veral insiggewend dat mnr Aucamp, pas nadat die nuwe leiers verkies is, toegetree het tot die kongres en was mnr Rust se opmerking dat mnr Aucamp weer sou terugkeer na die Party; dit ondanks mnr Aucamp se standpunte en uitsprake wat 'n repudiëring van die HNP se beginsels en beleid daarstel.

Vir enige ingeligte persoon behoort dit duidelik te wees dat as aan munisipale verkiesings deelgeneem word, daar ook geen beswaar kan wees om aan ander verkiesings deel te neem nie. Voormelde standpunt skend die geloofwaardigheid van die HNP en stel 'n duidelike afwyking van sy beginsels daar.  Die vraag wat deur persone buite die HNP gevra kan word sal immers wees: Het die HNP ons dan vir 14 jaar vir die gek gehou om ons van die stembus weg te hou? Maar belangriker nog is dit gewoon dwaas om te dink dat 'n enkele lid of twee van 'n munisipale raad hier en daar tussen 'n see van anderskleuriges en blanke meelopers die vryheid van ons volk sal verseker.

Daar kan geargumenteer word dat hierdie slegs standpunte van individue verteenwoordig en nog nie Party beleid is nie.  Die feit is dat al drie die nuwe onderleiers, hetsy direk, hetsy indirek, hulle ten gunste van deelname aan verkiesings uitgespreek het.  Mnr Rust by name het telkens gepoog om bestaande en beproefde HNP beleid verdag en belaglik te maak. Hy het ook 'n aktiewe veldtog geloods om persone te beswadder en het nie geskroom om in die proses leuens te verkondig nie.  Ook hieroor is hy nie tot orde geroep nie, dog baie duidelik eerder uit sekere oorde ondersteun. Die Party het dus baie duidelik 'n keuse ten gunste van hierdie voorgenome beleidsrigting gemaak.

Onderlinge verdeeldheid

Waar die vyand van die Afrikaner gereed staan om die Afrikaner finaal te vernietig, het die HNP te doene met lede van die Party wat hulle beywer het om mede-lede aan te val en te beswadder en bestaande en beproefde beginsels en beleid verdag te maak, eerder as om eendragtig die vyand aan te val.  En terwyl ons weet dat soos in die verlede tydens die Idasa komplot, die vyand van die Afrikaner nie sal skroom om vredepraters en hensoppers te gebruik om beproefde beginselstandpunte te ondermyn nie, is daar steeds persone in die HNP wat hulle die luuksheid aanmatig om mede-Afrikaners in die HNP verdag te maak.

Daarbenewens het die HNP nog deur al die jare 'n baie duidelike standpunt gehuldig oor die nuwe bedeling en nie geskroom om enige instansie of organisasie wat "hierdie stelsel wil laat werk" in die proses te kritiseer en trouens as vyande van ons volk te beskou nie.  Dit was die HNP se taak om deurgaans reguit lyne te trek. Vir die vredepraters en hensoppers in Afrikaner geledere is hierdie standpunt deurentyd 'n steen des aanstoots gewees. Mnr Jaap Marais het dit dikwels gestel dat 'n Party nie vernietig word deur aanvalle van buite nie, maar deur kleinverraad van binne.  Wat in die afgelope maande in die HNP gebeur het was niks anders nie as verraderlike aanvalle teen beginselstandpunte en beleid van die HNP. Om deurentyd oor jou skouer te kyk watter HNP-lid jou gaan aanval of beswadder net omdat jy bestaande HNP-beleid onomwonde stel en verdedig, word onuithoudbaar. 

Nuwe heenkome

In die lig van voormelde het ondergetekendes nie alleen besluit om uit die Party te bedank nie, maar voort te gaan om 'n nuwe organisasie in die lewe te roep en sal 'n vergadering in hierdie verband D.V. op 18 Oktober 2008 in Pretoria gehou word. In hierdie organisasie sal slegs persone wat bereid is om trou te sweer aan mekaar vir die beywering van ons volk se soewereine vryheid in ons eie vaderland op die onderstaande beginselgrondslag welkom wees. Dit word duidelik ten aanvang gestel. Persone wat daarmee verskil kan hulle heil binne ander organisasies soek. 

Hierdie nuwe organisasie sal op die beproefde beginsels van die HNP, soos veral verwoord deur mnr Jaap Marais, vryheid in ons eie vaderland ten doel stel en hom veral rig op versetaksies teen die onreg van 'n swart kommunistiese regime. Ons sal die nuwe Grondwet en sy bedrogvolle verkiesings verwerp soos wat dit 'n Afrikanernasionalis betaam. Daaroor sal daar geen dubbelpratery wees nie.

Senator Barry Goldwater van die VSA, wat bekend was as een van die mees konserwatiewe senators in die VSA se politieke geskiedenis, het gesê dat as 'n vyandelike mag jou wil vernietig en al sy middele daartoe aanwend, hy in 'n staat van oorlog met jou verkeer. In sulke omstandighede sal jy, tensy jy oorgawe bedink, ook in 'n staat van oorlog met hom verkeer.  Daarbenewens sal jou doel, tensy jy verraad bedink, soos die vyand s'n wees, om die oorwinning te behaal.  Wat besef moet word is dat die ANC in 'n staat van oorlog met ons verkeer en die huidige grondwet as middel in hierdie oorlog teen die Afrikaner gebruik. 

Mnr Wouter Rust huldig egter die standpunt dat die huidige humanistiese en liberalistiese grondwet 'n magtige middel in ons hand kan word as ons die oorwinning by die stembus kan behaal.  Hy het waarskynlik hierdie standpunt nie goed deurdink nie want is daar geen wyse waarop 'n nasionalistiese Afrikaner enigsins hierdie grondwet kan onderskryf of gebruik, nie, selfs indien hy die mag herwin nie.  Mnr Jaap Marais het dit dan ook baie duidelik gestel dat die Afrikaner nie moet rus totdat hierdie grondwet in die politieke snippermandjie lê nie.  Wat besef moet word is dat vryheid alleen buite hierdie bestel verkry kan word en nie deur foefies soos deelname aan verkiesings nie.  Dit is gewoon onhoudbaar om in die een asem te stel dat jy die bestel verwerp, dog in dieselfde asem te stel dat "iets" vir die Afrikaner beding kan word binne hierdie bestel deur deelname aan verkiesings.



Uitgangspunte

Ondergetekendes huldig die volgende standpunte en sal dit ook die basis van ons verdere vryheidstryd verteenwoordig waartoe ons u uitnooi:

•    Ons die Afrikanervolk, erken in nederigheid die Almag en Oppergesag van die Drie-enige God;

•    Ons glo en weet dat die Drie-enige God verskillende volke en daarom ook ons volk in aansyn geroep het;

•    Ons glo dat die Drie-enige God die beskikker van die lotgevalle van alle volke is;

•    Ons erken ons swakheid en afhanklikheid voor die Drie-enige God;

•    Die Heilige Skrif, die Onfeilbare Woord van God, soos dit verstaan en uitgelê is in die Calvinistiese Hervorming waarvan die Afrikanervolk die dankbare erfgename is, vorm die grondslag van ons bestaan en ons stryd;

•    Ons erken dat ons voorvaders na geregtigheid vir ons volk en tegelyk vir alle ander volke in hierdie land gestrewe het;

•    Ons eer ons heldedom en put inspirasie uit ons volk se heroïese geskiedenis;

•    Ons voorvaders se eerbare stryd het vir ons eie onafhanklike soewereine republieke nagelaat waaronder die Republiek van Suid-Afrika van 1961;

•    Ons duurgekogte vryheid is deur verraad en bedrog aan 'n godlose kommunistiese regime oorhandig;

•    Ons erken nie die ANC/SAKP-regime se gesag oor ons volk nie en beskou hulle as onwettig;

•    Ons besef dat daar geen kortpad na vryheid is nie, maar dat dit alleen deur volgehoue stryd herwin kan word;

•    Ons besef dat ons vryheid alleen in verset buite hierdie bestel verkry kan word;

•    Ons neem nie aan enige verkiesings in terme van hierdie godlose bestel deel nie;

•    Ons verwerp die Grondwet van hierdie bestel wat 'n oorlogsverklaring teen ons volk is;

•    Ons verklaar dat enigeen wat hierdie Grondwet onderskryf in vyandskap met ons volk verkeer;

•    Ons bely dat apartheid nie 'n bose nie, maar 'n edele beleid was, wat voortspruit uit nasionalisme en ontwerp is om ons volk en ook ander volke se God-gewilde afsonderlike identiteite te handhaaf en te verseker op die basis van soort soek soort en leef en laat leef;

•    Ons het daarom geen skuldgevoel oor apartheid nie, maar 'n selfrespek om onsself te betuig voor ons vyande;

•    Ons is deur God se kultuuropdrag aan die mens verplig om aktief deel te neem aan, en te stry vir, ons volk se vryheid;

•    Ons sweer trou aan mekaar dat ons nie sal rus voor ons ons vryheid in ons eie vaderland verkry het nie;

•    Ons sê dat as jy 'n trotse volk verkneg, word opstand teen die reg sy reg;

•    Die stryd wat ons vaders begin het sal woed tot ons sterf of oorwin het.

Ons is bewus daarvan dat verskeie persone reeds uit die HNP bedank het en bogemelde standpunte onderskryf. Ons vertrou dat meeste van die getroue HNP-lede dit ook sal doen.  U word dus op sterkte van voormelde uitgenooi na die vergadering op 18 Oktober 2008 om 09:00 in die Ou Raadsaal te Kerkplein in Pretoria. Meer besonderhede sal op aanvraag beskikbaar gestel word.

Indien u die vergadering wil bywoon is u welkom om met enige van ondergetekendes kontak te maak.

Die uwe

Danie Varkevisser                (voormalige onderleier)
Sydney Gregan                 (voormalige onderleier)
Koos Hough                     (voormalige adjunk-voorsitter)
Andre Schmidt                 (voormalige ondervoorsitter)
Francois Muller                 (voormalige penningmeester)

Arcas van Rooyen, Johan Bekker, Leon Schoeman, Andre Alkema, Henri Malan, Jeanette Koekemoer, dr Niel Kriel, Herman Kriel, Willem Hough
(voormalige dagbestuurslede)

Ds Hennie van der Merwe, Anton van der Westhuizen                                             (voormalige hoofbestuurslede)

Dr JP Botha, Marten du Preez         (voormalige stigterslede)

Kontaknommers:

1.    Sydney Gregan                       082 334 1555       
2.    Danie Varkevisser                       083 460 3302       
3.    Jeanette Koekemoer                   082 979 2432       
4.    Leon Schoeman                       083 650 6892       



Naskrif:    Ongeveer 70 persone (waaronder voormalige dag- en hoofbestuurslede en ook stigterslede) het aangedui dat hulle reeds uit die Party bedank het, alternatiewelik aangedui dat hulle gaan bedank, welke persone nie ten volle op hoogte is van voormelde gebeure nie, dog ondergetekendes se uitgangspunte volledig onderskryf, waaronder mnr Pieter van der Spuy, me H Hartung, me Esther Kriel, mnr Philip Koekemoer, mnr Eugene Koekemoer, mnr JH Meyer, mnr A van Schalkwyk, en mnr Jan Kruger.

No comments: