Sunday, September 7, 2008

Man help grypdief vang, self aangekla

Sep 06 2008 03:31:32:080PM

Sonja Carstens
Pretoria

Mnr. Stefan Kloppers het 'n meisie te hulp gesnel en 'n grypdief
platgetrek wat haar van haar selfoon beroof het, maar nou word dié
held aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer.


Kloppers (34) van Cullinan se heldedaad op 20 Julie vanjaar het binne
minute in 'n nagmerrie verander toe hy in hegtenis geneem is.

Sy skoenveters en gordel is van hom afgeneem en hy is twee dae lank in
'n sel by die Brooklyn-polisiekantoor toegesluit voordat hy op borgtog
van R2 000 vrygelaat is.

"Nooit wéér in Suid-Afrika help ek 'n slagoffer van misdaad nie," het
Kloppers die afgelope week gesê nadat hy vir die tweede keer in die
Hatfield-gemeenskapshof verskyn het.

Kloppers word vervolg hoewel die polisie nog nie sy "slagoffer", die
vermeende grypdief, se verklaring afgeneem het nie. Die polisie het
ook nog nie die vermeende grypdief in hegtenis geneem vir die roof van
die selfoon nie.

Kloppers het op dié gewraakte nag saam met vriende in 'n re-staurant
in Hatfield gaan eet. Hulle was op pad na sy motor toe hulle sien hoe
'n lap-swaaier die meisie lastig val.

"Ek het gedink hy soek geld en het aangestap. Skielik het die meisie
gegil en geskree hy het haar selfoon. Ek het hom agternagesit en hom
getekkel soos wat ek dit gedoen het toe ek op skool rugby gespeel
het," vertel Kloppers.

Hy het die selfoon uit die man se hand geneem en dit aan die meisie
terugbesorg. "Hy het nie teëgestribbel nie," sê Kloppers.

Volgens hom het verskeie omstanders nader gehardloop. Kloppers het in
sy motor geklim en gesien hoe van die omstanders die grypdief skop.

"Toe ek by die parkeerterrein wou uitry, het vyf veiligheidswagte in
'n motor my voorgekeer en gesê ek moet net daar bly, want hulle het
'presies gesien' wat gebeur het.

Die polisie is ontbied.

"Die polisie het my gevra om agter hulle aan te ry na die
polisiekantoor. Ek het dit gedoen onder die indruk dat ek 'n
verklaring sou aflê.

"By my aankoms is ek in hegtenis geneem," vertel Kloppers.

Mnr. Dirk Human, Kloppers se regsverteenwoordiger, het die afgelope
week beswaar gemaak toe die staat wéér gevra het dat die verhoor
uitgestel word vir 'n verklaring van die vermeende grypdief.

Die hof het gehoor die polisie het die "slagoffer" se adres, maar het
hom nog nie opgespoor nie.

Volgens Human het die polisie meer as ses weke tyd gehad om dit te
doen. "Die sogenaamde slagoffer is ook 'n vermeende grypdief," het
Human aangevoer.

Hierop was landdros Christo-pher Chokwe se antwoord: "As iemand jou
foon steel, rand jy hom nie aan nie. Jy bel die polisie."

Chokwe het die verhoor vir verdere ondersoek uitgestel.


Oorsprong:

Lees die storie by:
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2389299,00.html

No comments: