Saturday, September 6, 2008

Verwysings na wapens op jeugliga-CD kwel MRK

Sep 05 2008 08:25:31:183PM - (SA)

Carien du Plessis

As dit van die ANC-jeugliga afhang, is die verkiesingsveldtog se
klankbaan die geluid van masjiengeweervuur, AK47's en oorlogsliedere –
iets wat die Menseregtekommissie (MRK) laat regop sit.

Die jeugliga beplan om met sy 64ste verjaardagvieringe volgende week
'n CD met die oog op volgende jaar se verkiesing bekend te stel.

Mnr. Floyd Shivambu, jeugliga-woordvoerder, het gister gesê die CD
bevat "liedere wat ons in die organisasie sing, niks dramaties nie".

Die CD is deur die platejoggie Oskido van YFM vervaardig.

Talk Radio 702 het gister 'n eksemplaar daarvan in die hande gekry.
Die lirieke van een liedjie, wat in Zoeloe gesing word, lui: "Ons is
gewapen met AK47's. Ons is gewapen met PK's (masjiengewere). Ons wil
veg. Voorwaarts met die stryd, voorwaarts met die oorlog."

Mnr. Jody Kollapen, MRK-voorsitter, het gesê die kommissie kwel hom
oor die liedjies.

"Wat ook al die bedoeling agter dié . . . woorde; die simboliek is
iets wat ons moet vermy.

"Die kwessie van geweld in die gemeenskap is so dat ons eerder van die
taal van geweld moet wegbly."

Mnr. Julius Malema, jeugliga-leier, het voorheen deurgeloop nadat hy
gesê het die jeug sal doodmaak vir Zuma.

Die jeugliga het ook gister gesê hy hoop om sy ledetal teen die einde
vanjaar te verhoog. Dit het van 500 000 in 2004 tot 317 000 gedaal.

Shivambu het gesê dit is weens die registrasieproses wat verander het.
Die jongste syfer dateer volgens hom van Februarie, en hy sê
voornemende lede bel die jeugliga daagliks.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2388978,00.html

No comments: