Friday, September 12, 2008

Paul Kruger standbeeld dalk in gedrang

Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2392151,00.html


27 name van strate in Pretoria gaan waai

Sep 11 2008 10:29:20:103PM

Altesame 27 Pretoriase straatname "wat aanstoot gee weens hul
koloniale en apartheidsverbintenisse", moet waai...

Cobus Claassen


Altesame 27 Pretoriase straatname "wat aanstoot gee weens hul
koloniale en apartheidsverbintenisse", moet waai en inwoners kan nuwes
voorstel.

Die Tshwane-metroraad het gister bekend gemaak hy gaan in Oktober 'n
omvattende openbare-deelnameproses begin sodat straatname wat " 'n
koloniale en apartheidsverlede weerspieël", verander kan word.

Die meeste van die geïdentifiseerde strate, van die bekendste en
oudste in Pretoria, is in die middestad (sien kassie).

Mnr. Khorombi Dau, die raad se speaker, het gister gesê die proses is
begin "sodat 'n nuwe Afrika-hoofstad geskep word wat 'n gedeelde
erfenis, identiteit en toekoms weerspieël".

Die ANC se voorstel dat die straatname verander word, het in September
verlede jaar, ondanks groot ontevredenheid uit opposisiegeledere, die
jawoord op 'n raadsvergadering gekry.

Daar is destyds in die aanloop tot die vergadering in 'n agenda kennis
gegee dat dit die begin is van 'n proses om alle name van strate,
geboue en woonbuurte wat aanstoot gee of 'n apartheidsnalatenskap het
te verander.

Dau het gister gesê daar is 'n behoefte dat die hoofstad op gepaste
wyse gevier word en dat ander kulture en tale in die stad se kern
ingesluit word. "Ons wil met die proses 'n omvattende herkonstruksie
en transformasie van die stad se beeld begin."

Volgens Dau is dit noodsaaklik dat name wat "aanstoot gee en mense aan
die pynlike verlede herinner", verander word.

"Die nuwe name moet ons demokratiese beginsels, vryheid, diversiteit
en gedeelde waardes weerspieël."

Die raad stel voor dat die strate hernoem word na mense wat bydraes in
die bevrydingstryd gelewer het, mense wat 'n rol in die stryd vir
geslagsgelykheid en vername kultuuraktiviste gespeel het.

Ander kriteria sal ook oorweeg word, het Dau gesê.

Hy het versigtig geantwoord op die vraag of Paul Krugerstraat se naam
op die lys 'n aanduiding is dat sy standbeeld op Kerkplein ook in die
gedrang kan kom.

"Dit is 'n voortdurende debat. Ek is nie in 'n posisie om te sê of die
standbeeld uiteindelik verwyder gaan word of sal bly nie. Die raad sal
moet besluit wat sy standpunt is."

Dau wou ook nie veel uitwei oor die vraag waarom die raad die name wil
verander, terwyl daar nog nie eens uitsluitsel is oor wat die stad se
naam is nie.

"Dit is 'n voortslepende kwessie waaroor ek nie kan kommentaar lewer
nie. Dit is onseker wanneer en hoe dit (die
Tshwane/Pretoria-naamstryd) opgelos gaan word."

Die raad sal volgende week 'n kennisgewing uitreik waarin die
straatnaamproses aan inwoners verduidelik en uiteengesit sal word.

Dau het gesê die raad sal probeer om aan al die streke in die
metrogebied gelyke geleentheid te gee om voorleggings te doen.

Die deelnameproses sal onder meer openbare vergaderings insluit,
terwyl die publiek ook geskrewe voorstelle sal kan aanstuur.

Die raad se openbare plek- en straatnamekomitee sal dan die voorstelle
saamvat en vir goedkeuring aan die raad voorlê.

Volgens Dau kan die omvang van die naamsveranderings verander na
gelang van die insae wat van die publiek ontvang word. Hy het gesê die
raad sal eers dan kan vasstel hoeveel die naamsveranderings gaan kos.

Die oorsprong

Pretoriusstraat:

Genoem na Marthinus Wessel Pretorius, seun van Andries en president
van die Transvaalse Republiek. Daar is onsekerheid of die straat na
die pa of die seun genoem is.

Schoemanstraat:

Genoem na kmdt.genl. Stephanus Schoeman (1810-1890) wat in die 1860's
as staatspresident waargeneem het.

Van der Waltstraat:

Genoem na Andries Petrus Jacobus van der Walt, een van die eienaars
van die plaas waarop Pretoria ontwikkel is.

Andriesstraat:

Genoem na die boere-generaal A.W.J. Pretorius.

D.F. Malanrylaan:

Genoem na die voormalige premier van die Unie van Suid-Afrika.

Prinsloostraat:

Genoem na Joachim J.P. Prinsloo, wat 'n huis op Kerkplein besit het.

Genl. Louis Botharylaan:

Genoem na genl. Louis Botha, die eerste eerste minister van die Unie
van Suid-Afrika.

Hans Strijdomrylaan:

Genoem na adv. Hans (J.G.) Strijdom, eerste minister van SA van 1954 tot 1958.

Michael Brinkstraat:

Genoem na Michael Brink, stadsraadslid van die Verenigde Party.

Charlesstraat:

Genoem na 'n prokureur, Charles Marais. Hy was die seun van Langpiet
Marais, destydse eienaar van Brooklyn.

Walkerstraat:

Arthur Hamilton Walker was 'n landmeter. Hy het die dorp Pretoria, wat
Andries du Toit oorspronklik uitgelê het, heropgemeet.

Hendrik Verwoerdrylaan:

Genoem na dr. Hendrik Verwoerd, destydse eerste minister en argitek
van apartheid.

Lucas Mangoperylaan:

Oudpres. Lucas Mangope van die destydse tuisland Bophuthatswana.

Leah Mangopehoofweg:

Genoem na Mangope se vrou, Leah.

Schubartstraat:

Die Nederlander Anton Frederik Schubart, staatsekretaris onder
president M.W. Pretorius en later hoof van die Staats-museum.

Esselenstraat:

Ewald Esselen van Duitse afkoms was die Zuid-Afrikaansche Republiek se
staatsekretaris en adviseur.

Kerkstraat:

Verwys na die kerk wat jare gelede op Kerkplein gestaan het.

Duncanstraat:

Genoem na sir Patrick Duncan, eerste goewerneur-generaal van die Unie
van Suid-Afrika.

Beatrixstraat:

Genoem na Beatrix Dory Meintjes. Sy was die oudste dogter van E.P.A.
(Eddy) Meintjes en die kleindogter van Stephanus Jacobus Meintjes,
tweede eienaar van die plaas Arcadia.

Proesstraat:

Genoem na B.C.E. Proes, die eerste staatsprokureur van die destydse ZAR.

Paul Krugerstraat:

Genoem na die oudpresident van die ZAR.

Potgieterstraat:

Genoem na die Voortrekker-leier Hendrik Potgieter.

Vermeulenstraat:

Genoem na die Vermeulen-broers Kootjie en Hendrik, van die eerste
inwoners van Pretoria.

Jacob Maréstraat:

Jacob Philippus Maré het Heidelberg in die Transvaalse volksraad
verteenwoordig en in 1880 het hy lid van die uitvoerende raad van
Transvaal geword.

Skinnerstraat:

Genoem na William Skinner, Pretoria se eerste landdros.

Voortrekkersweg:

Genoem na die Voortrekkers, wat van die Kaap-kolonie na die binneland
getrek het.

Koningin Wilhelmina?rylaan:

Genoem na koningin Wilhelmina Helena Pauline Marie van Nederland.

Zambesirylaan:

Genoem na die Zambesirivier, vierde langste rivier in Afrika.

Mearsstraat:

James E. Mears het die wyk Sunnyside in 1875 uitgemeet. Sy eie huis
het gestaan in die omgewing waar die ou Normaalkollege in Sunnyside
is.

Mitchellstraat:

George Mitchell was betrokke by die uitlê van erwe in Pretoria-Wes.

No comments: