Saturday, September 6, 2008

Mag, gulsigheid en geld.....

'Mag, gulsigheid en geld' – dit is waaroor dit gaan
Sep 04 2008 Ons Stad
Marietjie Gericke
Prof. Fief van der Merwe, koukusleier van die DA-koukus, het op die
jongste spesiale raadsvergadering van Mangaung gesê weens die ANC se
alewige binnegevegte in die raad mors die belastingbetaler se tyd en
steel hy die belastingbetaler se geld.
"Kosbare werkure word verspeel waarin belangrike take vervul moes word.
Mense wat hul werk doen, word verdag gemaak, terwyl ander wat nie hul
werk doen nie, soos gereflekteer in die verslag oor die munisipale
bestuurder, weer moontlik in hul poste heringestel sal word."
Van der Merwe wou weet wat die uitvoerende burgemeester me. Getrude
Mothupi en die speaker me. Mahlomola Ralebese verkeerd gedoen het.
Volgens die DA het hulle niks verkeerd gedoen nie, maar omdat daar binne
die ANC twee faksies bestaan en hulle nie aan die "regte" groep behoort
nie, word hulle geviktimiseer en gedwing om met verlof te gaan.
Van der Merwe het gesê alles gaan oor mag, gulsigheid en geld omdat 'n
mens in 'n magsposisie meer geld verdien. "Die ANC maak of hy so
demokraties in sy benadering is, maar as jy nie met hom oor alle sake
saamstem nie, word jy uitgewerk. Dit is nie aanvaarbaar dat al die
veldtogte en politieke speletjies die belastingbetaler geld kos nie.
Dit, terwyl bankrotskap die munisipaliteit in die gesig staar. Geld word
verkwis, terwyl net 'n handjievol ANC-lede van die 'regte-groepering'
voordeel uit al die binnegevegte trek. Die meerderheid van die mense wat
hulle veronderstel is om te dien, gaan gebuk onder armoede."
Ná besware van ANC-raadslede het mnr. Rassie Erasmus, wat waargeneem het
as speaker in die Mangaung-raad, Van der Merwe beveel om nie verder
bewerings oor geld te maak nie, aangesien dit nie ter sprake was in die
verslag van die burgemeester waaroor Van der Merwe se toespraak gegaan
het nie.
Raadslid Mxolile Siyonzana, hoofsweep van die ANC, het gesê dit gaan oor
'n aansoek om verlof wat die uitvoerende burgemeester en die speaker
versoek en nie oor partypolitiek nie.
Raadslid Gert Fouché van die Vryheidsfront+ het gesê die skorsing van
die uitvoerende burgemeester en die speaker deur die ANC is 'n interne
politieke aangeleentheid wat deur die ANC gehanteer en opgelos moet
word.
Die afwesigheid van politieke leiers in die raad beïnvloed egter die
administrasie en werkverrigting van die raad nadelig. Daarom doen hulle
'n ernstige beroep op die ANC en sy strukture om die dissiplinêre
prosedure so spoedig moontlik af te handel.
Raadslid David van Vuuren van die DA het gesê pres. Thabo Mbeki het
vroeër in sy staatsrede gesê die ANC moet so flink regeer dat dit
business unusual is, maar wat 'n mens hier sien, is business as usual of
no business at all
* Hy het ook te kenne gegee dat hy nie ten gunste van die verlof is
nie.
Raadslid Hendrik Minnie van die ACDP het gesê die probleme van die ANC
is soos die Cremora-advertensie: It is not inside, but on top.
Hy het begin deur al die ANC-raadslede wat die vergaderings in die
laaste tyd geboikot het, welkom te heet by die vergadering aangesien
bykans almal teenwoordig was. Hy het gesê wat binne die ANC aan die gang
is, het 'n verleentheid vir almal geword en die binnegevegte belemmer
dienslewering.
"Ons kan nie die spinnerak verwyder sonder die spinnekop nie."
Die ACDP het ook gesê dat hy nie ten gunste van die verlofaansoeke vir
die burgemeester en die speaker is nie.
Mnr. Theo Coetzee van die DA het gesê die huidige gebeure in die
Mangaung-raad is 'n swart dag vir Suid-Afrika en in besonder ook vir
Bloemfontein se geskiedenis. As in ag geneem word dat die ANC bykans 100
jaar vir vryheid geveg het, dan moet 'n mens die vraag vra: Wat het van
sy vryheid geword? "Die vryheid word deesdae vervang met die
binnegevegte van die ANC om 'n posisie in die party.
"Demokrasie bestaan nie vir die ANC nie, want as hulle nie met iemand
saamstem nie, word hy eenvoudig uitgewerk. Dit is 'n sprekende voorbeeld
van wat hier in die raad gebeur, toe die ANC besluit het om aan die
uitvoerende burgemeester en speaker verlof toe te staan om die ANC die
kans te gee om hul binnegevegte uit te sorteer.
"Die ANC verontskuldig hom deur te sê dat die DA ook sy burgemeester in
die Wes-Kaap ontslaan het. Dit het egter gebeur sonder enige ontwrigting
in die raad, sowel as in die proses van dienslewering.
"Dié binnegevegte van die ANC word, behalwe wat in die Vrystaat gebeur
en ook in Mangaung, baie duidelik geïllustreer deur die ANC se kongres
in Noordwes waar hulle meer vuis geslaan het as om besluite te neem. In
die Oos-Kaap is die saal waar die kongres gehou sou word, in die proses
afgebreek.
"Al wat oorgebly het, as 'n bewys van die ANC se swak gedrag, was leë en
gebreekte drankbottels. In die Noord-Kaap het hulle vir die drie dae
lank gesukkel om hul kongres aan die gang te kry en meer as een mens het
al sy lewe in die proses opgeoffer.
"Die ANC verkondig die mense sal regeer, maar soos in Zimbabwe wat nou
deur Mugabe geregeer word, word Suid-Afrika deur Luthuli-huis in
Johannesburg geregeer."
* 'n Besluit is op die raad geneem dat die speaker en uitvoerende
burgemeester betaalde verlof kan neem soos wat hulle tot hul beskikking
het, en dat dit nie 31 dae mag oorskry nie. Indien hulle langer verlof
wil neem, sal hulle weer by die Mangaung-raad hiervoor aansoek moet
doen.
Me. Eva Moilwa, adjunk of burgemeester, is toe deur die ANC aangewys as
waarnemende burgemeester vir die tydperk, terwyl mev. Maureen Scheepers
as waarnemende speaker in 'n verdeling van stemme aangewys is ondanks
die feit dat die DA daarop gewys het dat 'n lid van die uitvoerende
burgemeester se komitee nie ook as speaker mag waarneem nie.

No comments: