Thursday, September 4, 2008

ANC meer verdeeld

Beeld-forum: ANC-kampe ál meer verdeeld

Sep 03 2008 06:34:20:607PM

Die rolle doringdraad rondom die skouterrein in Nelspruit was nie daar
om die skurke of regses uit te hou nie, maar wel die kamerade wat nie
afgevaardigdes tot die ANC se Mpumalanga-konferensie was nie.

Carien du Plessis

Die rolle doringdraad rondom die skouterrein in Nelspruit was nie daar
om die skurke of regses uit te hou nie, maar wel die kamerade wat nie
afgevaardigdes tot die ANC se Mpumalanga-konferensie was nie.

Verlede maand se konferensie was reeds die derde probeerslag, en soos
die Engelse sou sê, was dit third time lucky en vreedsaam.

In Kuruman, waar die Noord-Kaap se provinsiale konferensie verlede
week plaasgevind het, is traangas en polisiebeamptes ingespan om vrede
tussen die strydende ANC-lede te maak. Ook hierdie konferensie het op
die ou end nuwe leiers verkies, maar die ongelukkige verloorders, wat
nou hul heenkome in ander partye wil gaan vind, het laat blyk dat die
konferensie verdelend was.

Die interessante deel van hierdie twee onlangse konferensies is egter
dat die leiers wat om die vyf topposisies meegeding het, almal mnr.
Jacob Zuma se verkiesing as ANC-leier tydens die Polokwane-konferensie
verlede jaar gesteun het.

Dit was te wagte dat die sogenaamde Zuma-kamp ná Polokwane verdeeld
sou wees, veral omdat dit 'n ope geheim was dat almal wat hulle teen
pres. Thabo Mbeki geskaar het, nie noodwendig eerste vir Zuma sou stem
nie. Dis net dat Mbeki hul laaste keuse was.

Byvoorbeeld: Die ANC-jeugliga se kritiek verlede week teen mnr.
Kgalema Motlanthe, ANC-adjunkpresident, is tekenend van 'n wantroue in
Motlanthe wat lankal reeds bestaan onder sommige (senior) ANC-leiers
wat Zuma steun.

Die jeugliga het Motlanthe gekritiseer nadat hy hulle gepak het oor
die manier waarop hulle hul veldtog teen Zuma se korrupsiesaak bedryf.

Reeds voor Polokwane was daar al vrae oor Motlanthe se presidensiële ambisies.

Hy is in 'n stadium ook deur die Mbeki-kamp as 'n kandidaat vir hul
lyste oorweeg en is nie wyd in die party as 'n 100%-Zuma-man beskou
nie.

Sy steun vir die Zuma-kamp was egter van strategiese waarde, want as
ANC-sekretaris-generaal had hy sy vinger op die pols van die party.

Zuma en ander senior ANC-leiers se besoek aan Morogoro in Tanzanië
vandeesweek sal waarskynlik pynlike herinneringe vir die ANC
terugbring. In 1969 het die ANC in ballingskap 'n baie belangrike
konferensie hier gehad. Mnr. Ben Turok het toe gewaarsku teen 'n party
wat besig was om uitmekaar te val met probleme soos 'n tekort aan
dissipline en politieke leiding, elitisme, en wanadministrasie.

Soos toe, is die ANC nou ook pynlik bewus van sy tekortkominge. Dié
party se nasionale werkkomitee het egter die pot misgesit toe dit
vandeesweek in 'n verwarrende mediaverklaring die Zuma-saak die skuld
gegee het vir verdelings in die party en die land.

As dit waar is, hoekom is daar steeds verdelings onder mense wat almal
dieselfde oor Zuma voel? Die stryery op die konferensies in Mpumalanga
en die Noord-Kaap was eerder oor watter leier en sy vriende volgende
jaar in beheer van die provinsies se openbare geld sal wees.

Mnr. Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, het gister juis weer in
'n radiodebat op SAFM gesê die party is nie verdeeld oor beleid nie,
maar het wel "probleme" met mense wat magsbehep is.

Dié "probleme" gaan oor gierigheid vir politieke gunste en openbare
geld, twee kwessies wat in die Zuma-saak ter sprake is.

Een daadwerklike manier om dié "probleme" aan te pak, is om die saak
teen Zuma sy gang te laat gaan.

As die ANC-leier dan skuldig is en die minimum vonnis van 15 jaar
tronkstraf weens korrupsie kry, kan hy as voorbeeld dien vir dié
ANC-leiers wat bloot gierig is.

Alles dui egter daarop dat hy nie onselfsugtig genoeg sal wees om sy
moontlike presidentskap hiervoor op te offer nie.

Nog 'n manier, wat selfs tot voordeel van Zuma kan strek, is om skuld
te beken in 'n pleitooreenkoms met die staat, wat hom moontlik steeds
in staat sal stel om die land se president te word. Dit kan hom selfs
ondersteuning wen uit oorde waar sy integriteit tans in twyfel getrek
word.

Tydens die 1969-konferensie was daar mense in die ANC wat so vas geglo
het in 'n goeie toekoms vir die mense van ons land dat hulle bereid
was om hul lewens op te offer.

Dus is hierdie bietjie selfopoffering wat van Zuma 'n grootse leier
sal maak, tog sekerlik nie te veel gevra nie.

Carien du Plessis is Beeld se politieke beriggewer.


Oorsprong:
Lees die storie by:
http://www.news24.com/Beeld/Opinie/Rubrieke/0,,3-2085-66_2387552,00.html

No comments: