Friday, September 19, 2008

Verset teen kwaadwillige naamsveranderings

Nuwe Pta-straatname kos R1 miljard
Cobus Claassen

PRETORIA. – Die naamsverandering van 27 strate gaan Pretorianers
minstens R1 miljard uit die sak jaag.

Dít is die voorspelling van dr. Johan Picard, 'n onafhanklike eksterne
adviseur van die Tshwane-metroraad se plek-en-straatnamekomitee.

Dié raad het verlede week 'n herrie veroorsaak toe hy bekend gemaak
het dat 27 Pretoriase straatname "wat aanstoot gee weens hul koloniale
en apartheidsverbintenisse", geïdentifiseer is vir nuwe name.

Picard het gister op 'n werksessie aan lede van dié komitee gesê die
naamsveranderinge sal verreikende finansiële implikasies vir inwoners
en ondernemings inhou.

Hy het aan Volksblad gesê dit kan uiteindelik veel meer as R1 miljard beloop.
"Dit is nie 'n amptelike voorlegging nie. Ek het 'n konserwatiewe
raming gemaak en daar is min twyfel dat die bedrag bo die R1
miljard-kerf gaan eindig as al 27 straatname verander word."

Volgens Picard sal die registrasie van titelaktes vir nuwe adresse vir
ondernemings ongeveer R81 miljoen beloop as 'n "konserwatiewe som" van
1 000 ondernemings vir elk van die 27 strate bereken word.

Hy sê benewens die titelaktes gaan daar onder meer vir nuwe naamborde,
"administratiewe veranderinge", nuwe pad- en landkaarte en
advertensies waarin kennis gegee moet word van die nuwe name, betaal
word.

"Alles gaan geld kos en inwoners gaan daarvoor betaal."

Hy het daarop gewys dat die raad ook voorsiening sal moet maak vir
ondernemings wat vergoeding gaan eis vir koste wat aangegaan sal moet
word.

Mnr. Conrad Beyers, VF+-lid wat in plek- en straatnamekomitee dien, sê
dit is duidelik dat die ANC se onverantwoordelike naamsveranderinge
nie net inwoners polariseer nie, maar ook die stad 'n kwaai ekonomiese
terugslag gaan gee.

Hy sê inwoners moet aanstaande maand in groot getalle opruk na die
openbare deelname-vergaderings en daarop aandring dat die raad
amptelike beleid volg.

No comments: