Wednesday, October 29, 2008

Soek hulp met skêr in haar rug

Oct 27 2008 10:25:30:190PM - (SA)

Amanda Roestoff

Terwyl sy nog van dubbele longontsteking probeer herstel het, is 'n
64-jarige ontvangsdame die naweek ses keer met 'n mes in haar woonstel
in Krugersdorp gesteek.

Mev. Juffie van der Westhuizen, ontvangsdame van dr. Anne-Marie Nel,
moes Sondag 'n noodoperasie ondergaan om die aar by haar wangbeen en
slukderm te heg.

Van der Westhuizen was volgens haar dogter, mev. Christa Ras nog baie
swak nadat sy vroeër die week vir dubbele longontsteking behandel is.

Die aanvaller het Sondag kort ná middernag vermoedelik tussen 'n
veiligheidshek en 'n geut na die boonste verdieping van mev. van der
Westhuizen se woonstel by Golfview-kompleks in Paardekraalweg,
opgeklouter en toegang tot 'n venster gekry wat op 'n skrefie oop was.

"My ma sê sy het wakker geskrik toe haar aanvaller bo-op haar sit en
haar begin steek," sê mev. Ras.

Haar aanvaller het haar glo herhaaldelik met die vuis geslaan, met die
skêr in haar gesig gekrap.

Daarna het hy haar twee keer in die nek, een keer in haar rug en
onderskeidelik drie keer met die skêr naby haar skouer- en borsbeen
begin steek.

Met die skêr nog in haar rug gedruk, het die aanvaller haar uit haar
kamer gestamp en die deur gesluit om vermoedelik na sy buit te soek.

Sy het die kans aangegryp om hulp by inwoners in die woonstelblok te gaan soek.

Sy het volgens Ras "al bloeiend en kaalvoet in die reën, die trappe
afgeklim en by 'n buurvrou op die grondvloer gaan aanklop.

Die familie is toe telefonies ontbied, terwyl inwoners 'n handdoek om
van der Westhuizen se nek gedraai het om die "geweldige bloeding" te
stol.

Die familie het haar agter op 'n motor se sitplek gelaai en hospitaal
toe gehaas.

Volgens Ras het sy haar ma stewig vasgehou, sodat die skêr nie verder
in haar rug insteek nie.

Haar aanvaller het vermoedelik deur dieselfde kamer na onder geklouter
en met haar beursie, wat sowat R500 kontant bevat het, gevlug.

Me. Melanie Besselaar, woordvoerder van die Netcare
Krugersdorp-private hospitaal, het gesê mev. van der Westhuizen word
steeds in die trauma-intensiewe eenheid van die hospitaal behandel.

Sy is steeds in 'n bedenklike, maar bestendige toestand.

Kapt. Jacob Raboroko, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in
verband met die aanval op Van der Westhuizen in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2416982,00.html

No comments: