Thursday, October 23, 2008

Oplossing dringend nodig vir Pretoria straatnaamgeskil

AfriForum beskou die geweld wat gisteraand in Pretoria-Noord tydens
die openbare oorlegplegingsvergadering rakende die voorgestelde
straatnaamveranderings uitgebreek het, as onaanvaarbaar. Volgens
AfriForum is dit in almal se belang dat daar nou dringend op ʼn
konstruktiewe wyse na oplossings vir die straatnaamgeskil gesoek moet
word. AfriForum se reaksie volg nadat dié organisasie se uitvoerende
hoof, Kallie Kriel, self tydens die vergadering onder geweld
deurgeloop het.

Kriel het gisteraand ʼn klag van aanranding by die Pretoria-Noord
polisiestasie teen die direkteur van die Tshwane Metropolisie, Ndumiso
Jaca, ingedien. Volgens Kriel was hy uiters verbaas dat Jaca hom
tydens die vergadering hardhandig begin rondstamp het, terwyl hy
(Kriel) op geen wyse by enige ontwrigtende aktiwiteite betrokke was
nie, en eenkant gestaan en toekyk het wat gebeur.

"Ek het agter in die saal gestaan en die ongelukkige gebeure aanskou
waartydens teenstanders en voorstanders van die straatnaamveranderings
mekaar verskree het. Toe sien ek hoe ʼn persoon uit die ANC-groep
iemand met ʼn stoel slaan, waarna geweld uitgebreek het. Ek het steeds
agter in die saal bly staan. Nadat die polisie verskeie van die mense
wat die straatnaamveranderings teenstaan uit die saal verwyder het,
het ek gesien dat die persoon wat vir die stoelslanery verantwoordelik
was, nie verwyder is nie. Ek het op ʼn beskaafde wyse aan
Superintendent Connie Ngomane, wat in bevel van die polisie op die
toneel was, uitgewys wie die stoelslaner was. Ngomane het geweier om
my van hulp te wees en verkeerdelik beweer dat ek die vergadering wil
ontwrig. Hierna het Jaca, wat in siviele klere geklee was en homself
nie geïdentifiseer het nie, my begin rondstamp. Om konflik te vermy,
het ek besluit om my nie teen te sit nie," het Kriel gesê. Volgens
Kriel het hy ooggetuies wat bereid is om sy weergawe van die gebeure
onder eed te bevestig.

Kriel het sy kommer uitgespreek dat die polisie en metropolisie-lede
wat by gister se vergadering was, as instrumente van die ANC opgetree
het deur almal wat teen die straatnaamveranderings gekant is, te
teiken – selfs diegene soos hyself wat nie deel van die oproer was
nie. "Die polisie is veronderstel om almal in die land se belange te
dien en nie net dié van een politieke groepering nie," het Kriel
bygevoeg.


http://www.afriforum.co.za/?p=1769#more-1769

No comments: