Tuesday, October 14, 2008

Mediaverklaring Verkennersjeug – en hoor jy die magtige dreuning?

Dit is die liedere van 'n jeug se ontwaking wat weerklink het in die
Pretoria-noord-stadsaal by 'n vergadering oor naamsveranderings, wat
harte laat sidder en beef het. Dit volg nadat die Verkennersjeug
besluit het om na hierdie vergadering te gaan om te hoor waaroor gaan
die beplande naamsveranderings. As kultuurorganisasie ag die
Verkenners die straatname wat na ons volkshelde vernoem is, as deel
van ons kultuurerfenis.

Die vergadering is geadverteer vir 19:00, maar teen 19:20 het die
vergadering nog nie begin nie, die verskoning wat gebruik is, was dat
die klankman laat was. Die Verkennersjeug het dus maar volksliedjies
gesing om die tyd om te kry. Liedjies soos: "Vat jou goed en trek
Ferreira", "Bobejaan klim die berg" en "Sarie Marais". Die DA se
hoofsweep van Pretoria het die jongmanne berispe dat hulle die
vergadering (wat nog nie begin het nie) ontwrig. Die
Zuma-ondersteuners het losgebars en "bring my masjiengeweer" en "slaan
die boere" gesing. Die DA het blykbaar nie probleme met daardie
liedere nie, aangesien geen DA-sweep daaroor geklap het nie.

Die DA het ook die Verkennersjeug laat verstaan dat die Verkennersjeug
asb. nie verder die vergadering moet ontwrig nie, want hulle wat die
DA is wil onderhandel en hierdie optrede van die Verkenners gaan niks
help nie.

Wat uit die oog verloor word deur die sweep, is dat die lede van die
Verkennersjeug groot waarde heg aan hul kultuurerfenis en dit nie ook
soos die land wil laat weg-onderhandel nie. Die VF+ het na die mense
as terroriste verwys en is daarom uit die stadsraad se
raadsvergadering gejaag. Nêrens in die wêreld onderhandel beskaafde
mense met terroriste nie, aangesien hulle weet terroriste kan nie
vertrou word nie.

Verder word daar ook uit die oog verloor dat daar vir een of ander
rede op hierdie kontinent geglo word dat 'n kultuurerfenis maar
gesteel mag word. Dat die geskiedenis verdraai mag word om die
propagandamasjien van die regeerder van die dag te pas.

'n Beskaafde persoon besef dat as jy iets gebou het, gekoop het of
geboorte geskenk het daaraan, dan het jy die reg om dit 'n naam te
gee. Die DA en die ANC het dit blykbaar nog nie besef nie. Die DA was
self betrokke by naamsveranderings in die Kaap, maar nou in Pretoria
is hulle blykbaar teen dit. Dit klink maar redelik beginselloos, want
mens is of vír kulturele diefstal, of jy is daarteen.

Die Verkennersjeug se lede beleef daagliks die nagevolge van
onderhandelings. Die nagevolge van gedwonge integrasie, die nagevolge
van Affirmative action en die nagevolge van kwotasport is alles deur
politikuste onderhandel op wie dit geen effek het nie.

Die Verkennersjeug gaan nie toelaat dat hulle toekoms in die land van
hulle vaders, verder belemmer word deur onderhandelings nie. Net soos
president Paul Kruger, glo die Verkennersjeug "Ons weerstand sal die
wêreld verstom". Daarom is die Verkennersjeug trots daarop dat die
vergadering verdaag moes word, dat hulle die proses van onderhandeling
oor kulturele diefstal kon stuit.

No comments: