Thursday, October 9, 2008

Skoot en toe: 'Pa, ek's geskiet, ek's geskiet'

Oct 08 2008 09:57:56:320PM - (SA)

Virginia Keppler

Die eienaar van 'n ambulansdiens is gistermiddag, enkele ure voordat
hy en sy vrou hul 12 jaar oue huweliksbeloftes sou hernieu, ernstig in
'n rooftog in Pretoria beseer.

Mnr. Kobus Bester (38), eienaar van Best Care-ambulansdienste, is by
sy huis in Robinsonstraat, Mountain View, in die regtersy geskiet en
die koeël is by sy linkersy uit.

Hy het gistermiddag 'n noodoperasie in die Eugène Marais-hospitaal
ondergaan en is in die waakeenheid.

Sy vrou, Elize (35), was by die haarsalon toe sy gehoor het haar man is geskiet.

Sy was besig om haar hare gereed te kry vir die plegtigheid wat die
aand by die Onderstepoort-onthaalsaal sou plaasvind.

Hulle was gister 12 jaar lank getroud.

Mnr. Jacobus van Dyk (63), Bester se stiefpa, het gesê hy en mnr.
Bester het kort voordat die voorval plaasgevind het, 'n "klein
Klipdrift-brandewyn" geniet.

"Ons het klaar gedrink en toe sê ek vir hom ek gaan 'n bietjie lê. Hy
het gesê hy gaan bad.

"Ek is toe na my woonstel agter in die erf en ek was skaars in my
woonstel toe ek 'n skoot hoor afgaan. Kobus het geskreeu: 'Pa, ek is
geskiet, ek is geskiet'," het Van Dyk vertel.

Hy het gesê me. Leah Kekana (35), die huiswerker wat in daardie
stadium ook agter in die erf was, het ook groot geskrik.

"Ek het Leah saam met my by die agterdeur ingedruk en toe hardloop ek
vorentoe. Nou ja, ek was sonder my rewolwer en ek kon niks doen nie.

"Toe sien ek Kobus. Ek het hom gegryp en op die bank neergelê en die
polisie gebel."

Volgens Van Dyk het mnr. Bester gesê net toe hy wou gaan bad, het hy
'n geraas buite by sy bakkie gehoor. Toe hy gaan ondersoek instel, het
die rowers hom geskiet.

"Sulke goed moet koerante toe gaan sodat die wêreld kan sien wat hier
in die land aangaan," het Van Dyk gesê.

Mev. Bester het gesê die plegtigheid is vir eers afgestel en hulle het
die sowat 70 gaste wat genooi is, reeds in kennis gestel.

Die trourok is ook teruggeneem na die winkel waar mev. Bester dit gehuur het.

Kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie
het met behulp van 'n helikopter een verdagte aangekeer.

"Die polisie ondersoek 'n klag van poging tot moord en poging tot
huisbraak," het Msimango gesê.

Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2406704,00.html

No comments: