Thursday, October 23, 2008

Vuiste klap oor straatnaamveranderings

Mense het mekaar gisteraand links en regs met die vuis bygedam toe in
die Pretoria-Noord-stadsaal probeer is om 'n vergadering oor
straatname te hou.

Mnr. D.G. Wannenburg, DA-raadslid vir wyk 2, het in 'n verklaring gesê
selfs die polisie en metropolisie wat diens gedoen het, het onder die
vuishoue deurgeloop.

Die geweld het volgens Wannenburg behoorlik losgebars toe iemand 'n
stoel na die twee groepe – diegene vir straatnaamveranderings en dié
teen straatnaamveranderings – gegooi het.

'n Lid van die groep teen straatnaamveranderinge is deur die polisie
gearresteer, lui Wannenburg se verklaring.

Die man wat die stoel na die twee groepe gegooi het, is nie in
hegtenis geneem nie en dit het ook glo die aanwesiges omgekrap.

Volgens Wannenburg was die persoon wat in hegtenis geneem is, " 'n
blanke man" en die stoelgooier " 'n nie-blanke persoon".

Die eerste straatnaamvergadering wat op 13 Oktober gehou is, is weens
die ontwrigting daarvan uitgestel. Die DA stel voor dat 'n
onafhanklike komitee wat nie polities gedryf word nie, aangestel word
uit kundige mense wat verteenwoordigend van die inwoners is.

Kapt. Lucas Sithole, polisiewoordvoerder, het gisteraand laat bevestig
die polisie is na die Pretoria-Noord-stadsaal uitgeroep. Hy kon nie
enige inhegtenisnemings bevestig nie.

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2414483,00.html

Tipies Beeld , klomp liegbekke wat die waarheid weerhou

No comments: