Saturday, October 25, 2008

VF+ wil hoë hof toe oor strate se name

Oct 24 2008 09:02:06:537PM - (SA)
Cobus Claassen

Die VF+ gaan die hooggeregshof vra om 'n stokkie te steek voor die
Tshwane-metroraad se planne om die name van 27 Pretoriase strate te
verander.

Mnr. Willie Spies, VF+-LP, het gister gesê sy party is optimisties dat
die hof deur 'n verklarende bevel die raad se besluit oor die
naamveranderings tersyde sal stel.

Die burgerregte-waghond AfriForum en die FAK het bevestig hulle gaan
saam met die VF+-applikante tot die hofstryd toetree.

Volgens Spies sal hofstukke Maandag ingedien word.

Die VF+ se regsadviseurs meen die raad het wetgewing verkeerdelik
vertolk en drie wette – die Wet op Munisipale Stelsels, die Wet op
Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) en die Nasionale
Erfenishulpbronwet – verontagsaam.

Spies het gesê die raad het boonop sy eie beleid geïgnoreer met die
besluit wat hy op 27 September verlede jaar geneem het.
Opposisiepartye was erg ontstoke toe die ANC op dié vergadering die
raad se beleid oor naamsveranderinge opsy geskuif het. Die ANC het die
beleidsriglyn teengestaan wat beslis dat "in die gees van demokrasie
minstens 51% van ge- registreerde kiesers in 'n betrokke straat
skriftelik met 'n voorgestelde naamsverandering van die straat moet
saamstem".

Al sal die saak waarskynlik eers in middel-2009 aangehoor word,
beteken dit die raad sal nou sekere reëls moet gehoorsaam en nie die
proses kan stoomroller nie, het hy gesê.


# Mnr. Henk van de Graaf, president van die Verkennersbeweging van
Suid-Afrika, het intussen gister in 'n verklaring toegegee lede van sy
jeugbeweging was by Woensdagaand se chaotiese straatnaamvergadering in
die Pretoria-Noord-stadsaal betrokke.

Die vergadering het op 'n rassegeveg tussen inwoners uitgeloop.

"Ek stel dit onomwonde dat ons nie gaan optree teen enige lede van ons
jeugbeweging nie. Ons kan hulle net gelukwens met hul optrede."

No comments: