Saturday, October 25, 2008

2 broers se trane toe moordenaars skuldig bevind word

Mev. Yvette Maritz, die vermoorde se weduwee, buite die hof. Foto: Herman Verwey

Oct 23 2008 09:37:54:353PM - (SA)

Hilda Fourie

Twee broers het gister die trane afgevee toe twee mans weens die moord
op hul broer skuldig bevind is.

Mnr. Manie Maritz (47), 'n takbestuurder van BMW, is op 15 Julie
verlede jaar voor sy gestremde dogter by hul huis in Constantiapark,
in die ooste van Pretoria, doodgeskiet.

Frans Mthabesitha (26) en Patric Sithole (36) is in die Pretoriase
hooggeregshof skuldig bevind weens die moord op Maritz en die
aanranding van sy dogter.

Sithole is ook skuldig bevind op 'n aanklag van die onwettige besit
van 'n vuurwapen.

Waarnemende regter Vivian Tlhapi het Mthabesitha en Sithole op grond
van omstandigheidsgetuienis skuldig bevind.

Tlhapi het bevind die twee het Maritz oorval toe hy in die oprit van
sy huis gery het. Daarna is Maritz op die stoep van sy huis
doodgeskiet en sy gestremde dogter is aangerand.

Maritz se buurman het gesien wat aangaan, geskree dat hulle die dogter
moet uitlos en drie skote afgevuur. Een van dié skote het Sithole in
die been getref.

Hy het oor die vurktandheining geklim, maar sy tekkies het agtergebly.
'n Vuurwapen is ook langs die heining gekry. Daarby is 'n paar
handskoene buite Maritz se huis gevind waarop Sithole se DNS gevind
is.

Die gestremde dogter se selfoon is in Mthabesitha se besit gevind.

Tlhapi het bevind hulle het 'n gemeenskaplike doel gehad. Sy het
Sithole en Mthabesitha vrygespreek op 'n aanklag van huisbraak met die
opset om te steel.

Mnr. Louw Maritz het gesê hy is verlig dat Sithole en Mthabesitha
skuldig bevind is, want "nou kan ons met ons lewens aangaan".

Maritz, wie se ander broer, Coen, ook die verrigtinge bygewoon het,
het gesê hy hoop hulle word kwaai gestraf.

Die staat het vir 'n lewenslange vonnis gevra, terwyl adv. Bafana
Mamba gevra het Mthabesitha moet net tien jaar tronkstraf kry.

"Dié moord was nie die wreedste wat daar al in die howe was nie," het
hy gesê, waarop Tlhapi hom gevra het hoe 'n mens dit kan regverdig dat
dié moord nie wreed was nie. Mamba het aangevoer Mthabesitha het nie
die sneller getrek nie.

Staatsadv. Alicia Lewis het daarop gesê Mthabesitha het die besluit
geneem om dié aand by Maritz se huis te wees en dat hy geweet het sy
medebeskuldigde was in besit van 'n vuurwapen.

Mev. Yvette Maritz het ter strafverswaring getuig Maritz was die man
saam met wie sy wou oud word.

Die twee skuldiges hoor volgende maand hul vonnis.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2415094,00.html

No comments: