Thursday, October 2, 2008

Konferensie: Die Grondwetlike Stand van Afrikaners, 2008


Kantoor van die Uitvoerende Beampte

30 September 2008

Aan alle lede-organisasies en lede

Teen hierdie tyd is u bewus van die FAK se Konferensie: Die Grondwetlike Stand van Afrikaners, 2008, wat op 17 en 18 Oktober in die Universiteit van Pretoria se konferensiesentrum aangebied word.  Alle lede-organisasies en lede van die FAK is reeds per elektroniese brief na hierdie geleentheid uitgenooi.  U sal ook oplet dat ons Konferensie-formaat effens anders as aanvanklik daarna uitsien.

Ons beskou ons konferensie om verskeie redes van die uiterste belang en ons wil u en u organisasie derhalwe hiermee vriendelik opvorder tot die grootste moontlike deelname aan ons konferensie. Die Konferensie het as uiteindelike doel die saamsnoering van ons organisasies in 'n meer dinamiese en sinvolle eenheid waarbinne die uitdagings gebied deur ons grondwetlike opset beter die hoof gebied kan word. 'n Meer dinamiese organisasie sou aan Afrikaners die geleentheid bied om 'n meer sinvolle lewe in Afrikaans te lei.

Oor die afgelope nege maande heen – in die nadraai van die regering se Polokwane-beraad, die energiekrisis, die nasionale krisis rondom leierskap, toenemende emigrasie van kundigheid uit die land – het 'n mens se ervaring van Afrikaners se sug na groter eendrag steeds toegeneem. "Nou moet ons saamstaan" word deur sovéél onder ons gevoel! Verskeie aksies wat dus oor die afgelope maande deur Afrikaner-organisasies onderneem is – dink maar aan die aksies rondom die voorgenome wetgewing op grondonteiening en die beoogde veranderinge aan straatname in Pretoria – het uitgeloop op die stigting van taamlik informele en breë strukture waarin verskeie organisasies met verskillende oogmerke, maar met gedeelde belange en behoeftes, hulle vermoëns saamgegooi het ter bereiking van daardie gedeelde belange.

En deurentyd ervaar 'n mens dat daar telkens 'n verwagting van, selfs 'n dors na, groter en meer samehangende vereniging heers onder die partye wat 'n taak goed gepak en afgehandel het. Die sukses wat in hierdie verband behaal is, moet dus ten minste gedeeltelik aan die groter verdraagsaamheid vir verskeidenheid binne eie geledere en die meer verbete gesamentlike soeke na konsensusbesluite toegeskryf word. Afrikaners het klaarblyklik ook iets uit die afgelope jare se fragmentasie en ontgogeling geleer.

Ons Konferensie gaan dus 'n poging wees om hierdie gedagtes te konsolideer en om aan alle betrokke belangegroepe die geleentheid te bied om hulself hieroor uit te spreek en van hulself rekenskap te gee.

Oproep

U sal verstaan dat ons hiermee die grootse denkbare mate van deelname van ons lede-organisasies, ons individuele lede en alle ander burgerlike organisasies aan ons konferensie wil verseker. Ten opsigte van ons lede-organisasies, wil ons u dus versoek om soveel as tien (10) lede af te vaardig om die konferensie by te woon. Individuele lede word versoek om ten minste een ander Afrikanerpersoon saam te bring en om soveel voorbrand moontlik vir die geleentheid onder u vriende te maak, en, op die koop toe, saam te sleep na die konferensie!

In teenstelling tot ons konferensies oor die afgelope jare strewe ons vanjaar na die hoogste moontlike mate van deelname deur ons jongmense. Die dringende aangeleenthede rondom ons volk gaan nou reeds vir 'n ruk by ons jongmense verby en ons ervaar klaar die gemis daaraan in hul vorming. Ons Afrikaanse skole (lede-organisasies en individuele lede, óók) word dus versoek om, sover moontlik, leerlinge bo Graad 9 in skooldrag die geleentheid te laat bywoon om na ons waarlik uitstekende voordragte te luister en aan die bespreking daar rondom deel te neem.

Ons is bewus daarvan dat ons organisasies, soos ons lede en ander lede, maar noustrop trek om begrotings te laat klop. Ons het gevolglik besluit om besoekers aan die konferensie om 'n vrywillige donasie te vra om die FAK se onkostes aangegaan by die aanbieding van ligte verversings te help delg. 'n Bedrag van R75-00 word in hierdie verband voorgestel.

U samewerking en bywoning van 'n geleentheid wat as 'n deurbraak-geleentheid beskou kan word, word waardeer.

Ons sal 'n antwoord op hierdie uitnodiging, tesame met 'n aanduiding van die beraamde getal persone wat deur u organisasie of u uself na die konferensie afgevaardig word, werklik waardeer. Rig asb. u antwoord aan ons administratiewe bestuurder, Sarie Marais, by 012-301-1777 of SarieM@fak.org.za .

Hartlike groete,

(Dr) Francois Bredenkamp

Uitvoerende Beampte

           p.p. Prof Danie Goosen (Voorsitter)

 



--------------------------------------------------------------------------------


Konferensie
Die Grondwetlike Stand van Afrikaners, 2008
Gefasiliteer deur Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK)

17 en 18 Oktober

Universiteit van Pretoria (UP Konferensiesentrum)

Vrydagaand :

18:00 vir 18:30   Registrasie

Verwelkoming: Verteenwoordiger UP

Inleidende woorde - Prof Danie Goosen, FAK

Standpunt:   Prof Stef Coetzee (AHI): "Tussen kontinuïteit en verandering: 'n Pleidooi vir inklusiewe demokrasie en kreatiewe kapitalisme".

Standpunt: Prof. Hermann Giliomee: "'n Historiese raamwerk vir die grondwetlike dinamiek in SA"

Vingerete

Saterdag (Konferensiesaal 100, Konferensiesentrum)

Uitstalling van plakkate deur Afrikaanse kultuurorganisasies in voor-portaal

8:00 – 8:30 Registrasie (voortgesit)

8:30 – 9:30   "Waar staan Afrikaners grondwetlik in 2008?"

Standpunt – Prof Francois Venter

Standpunt - Prof Koos Malan

09:30 - 10:30 "Hoe lyk die Afrikaners nóú?"

Standpunt - Prof Lawrence Schlemmer

Standpunt – Prof Andre Duvenhage

10:30 – 10:45 Verversings

10:45 – 11:15 "Hoe kan Afrikaners aan hul polities-ekonomiese / maatskaplike grondwetlike dilemma ontkom?"

Standpunt – Mnr Flip Buys, Solidariteit

11:15 – 11:45 "Nuwe geografiese perspektiewe op Afrikaneridentiteit"

Standpunt - Mnr Carel Boshoff (iv)

11:45 – 12:15 "Die Grondwet en realiteite"

Standpunt - Mnr Dave Steward

12:15 – 12:30 Groeteboodskap vanaf die Afrikaanse Taalraad (ATR) - Prof Wannie Carstens

12:30 – 13:30 Middagete

13:30 – 15:45 Paneelbespreking: "Waar gaan Afrikaners heen met hierdie staatsbestel en konstitusie?"
Inleier: Prof. Pierre Theron, AB            Paneel- en algemene bespreking: Verteenwoordigers van Afrikaanse Kultuurorganisasies
15:45 – 16:00 Samevatting deur 'n Rapporteur - Mnr Kallie Kriel

No comments: