Friday, October 3, 2008

Ons sit nie en wag

Ons sit nie en wag nie
03:10:08 Volksblad

Die Dihlabeng-inwonersvereniging gee graag ons volle steun aan die
pogings van raadslede wat bereid is om hul rug reguit te maak teen die
blatante wanbestuur en korrupsie in die Dihlabeng-unisipaliteit.

Die pogings van die opposisiepartye om deur die gewone kanale die
verrotting te probeer teenwerk, word telkens deur die eenogige
soustrein-meerderheid oordonder ter wille van selfsugtige politieke
oorwegings en eie belang sonder om die belange van die gemeenskap te
bevorder. Wie kan DA-raadslede dus kwalik neem indien hulle hul na die
media wend?

Lede van die gemeenskap in Bohlokong is al so moedeloos omdat daar nie
aan hul probleme aandag gegee word nie dat hulle nou al gewelddadige
optrede as opsie uitoefen.

Die munisipale bestuurder, mnr Sandile Msibi, het dieselfde geneigdheid
as sy ANC-leiers om die wet te sien as slegs 'n instrument om hul eie
belange te bevorder en dat hulle gerieflikheidshalwe maar die oë kan
sluit vir die verpligtinge wat dieselfde wette op hulle plaas.

Ná hy sy onwilligheid vir samesprekings oor ons dispuut uitgespreek het,
het ons hom gewys op Wet 32/2000 art. 55(1) wat hom hiertoe verplig.

Sy reaksie was:
"The Act you are referring to was brought about by some of us, involved
in the transformation of this country."

Hy beskuldig raadslid Clem Harrington daarvan dat hy wederregtelik sake
doen met die munisipaliteit (Volksblad, 24 /9/08).

Waarom het die raad dan nie lankal teen raadslid Harrington opgetree
nie? Wet 32/2000 skedule 1 art. 6 (3) maak voorsiening vir die
prosedures hieroor.

Mnr. Msibi, voordat u u mond in die openbaar uitspoel, moet u miskien
eers seker maak of daar nie dalk 'n raadsgoedkeuring hieroor bestaan en
of die LUR toestemming verleen het nie. Wanneer gaan u die raadslede in
Bohlokong in die openbaar aanvat omdat hulle nie die powere betaalkoers
van 16% kan verbeter nie?

Ons gaan nie sit en wag vir die Msibi's van die dag om wakker te word
nie. Ons opbetaalde lede is met 'n omsendbrief gemobiliseer om vanaf
ingang Oktober hul munisipale rekeninge direk op die DIV se afsonderlike
bankrekening in te betaal.

Eiendomsbelasting word dan teruggehou en die res plus BTW aan die
munisipaliteit oorbetaal. Hou gerus die kennisgewingbord in die
Metropolitan-Sentrum dop (by Clicks). Skakel my vir meer inligting (082
336 2353).

Danie Eichstädt
Voorsitter, Dihlabeng-inwonersvereniging

No comments: