Sunday, November 2, 2008

Kameeldrift, plek van ‘volksmoord’

Mev. Leonie Steenberg vertel hoe haar man, Adriaan, in Mei in hul huis
in Kameeldrift tydens 'n rooftog doodgeskiet is. (Foto: Brendan Croft)

01/11/2008 21:54 - (SA)

Marthinus van Vuuren

Kameeldrift

Byna 500 hande was Donderdagaand in 'n stampvol NG kerk
Kameeldrift-Oos in die lug.

Dit was nie vir lofprysing nie, maar om aan te dui dat die mense al
slagoffers van misdaad was en om hul misnoeë met die "oorlog" of
"volksmoord" in die gebied te kenne te gee.

'n Ruk later was al die hande weer in die lug.

Dié keer ter ondersteuning van 'n mosie van wantroue in die polisie,
bepaald supt. Edwin Lelaka, bevelvoerder van die
Kameeldrift-polisiekantoor, wat duidelik besig is om die stryd teen
misdaad in die gebied te verloor.

Verskeie inwoners van dié hoewegebied in die noordooste van Pretoria
het voor die vergadering vertel hulle is moeg daarvoor om elke oggend
wakker te word en dankbaar te wees dat hulle in die nag niks oorgekom
het nie.

Een van die rolspelers in die gemeenskap is me. Liesel Krause-Wiid,
bekende sakevrou, motiveringspreker en voormalige Mev. Verenigde
Nasies Internasionaal, wat as hulpleraar in dié gemeente dien.

Nadat sy en haar man, Siebert, in 2006 'n jaar in Perth, Australië,
gewoon het, kon hulle nie wag om terug te trek Suid-Afrika toe nie.
Dit is onder meer die mense, taal, kultuur en leefstyl wat hulle
teruggelok het. Maar misdaad is besig om hul tuiskoms te oorskadu.

"Ons slaap nie snags nie. Elke geluidjie maak ons wakker. Ons én ons
kinders leef in vrees."

Kameeldrift is die afgelope maand weer deur 'n vlaag gewelddadige
huisrooftogte getref.

Die afgelope week het twee voorvalle 'n opskudding veroorsaak. Een was
'n gewapende huisrooftog waarin 'n 16-jarige meisie verkrag is.

En in die nuutste misdaadvlaag is dit die gemeenskap wat die
polisiëring doen terwyl die polisie meestal hul skouers optrek, sê
mev. Marietjie Peense, bevelvoerder van Kameeldrift se buurtwag.

"Ons wil met die polisie saamwerk, maar ons is vuisvoos. Nadat ons
bedags gewerk het om kos op die tafel te sit, moet ons saans patrollie
ry. Ons kry geen hulp nie. Boonop ken die polisie die gebied nie."

Sy vertel 'n uur en 45 minute het verloop voordat die polisie by die
toneel van die huisrooftog aangekom het.

Me. Leonie Steenberg, wie se man, Adriaan, in Mei tydens 'n gewapende
rooftog in hul huis in die gesig doodgeskiet is, glo daar is 'n
verskuilde agenda agter die misdaadvlaag.

"Wie gee die opdragte? Hoekom is dit net jong mans wat doodgeskiet
word? Dit is volksmoord. Hulle het net ingekom en geskiet nadat daar
vantevore meer as 35 keer by ons ingebreek is.

"Nadat hulle Adriaan geskiet het, het ek nooit die idee gekry hulle
gaan my skiet nie.

"Adriaan was 'n rustige mens. Ek het gereeld gekla en gesê hulle gaan
ons nog in hierdie huis kom doodmaak, maar Adriaan het gesê ek moenie
toelaat dat ander mense my bangpraat nie.

"Ons gesin is ontneem van 'n man wat vir ons gesorg het. Ons was
verseker van 'n toekoms. Nou weet ons nie meer waarheen nie. Ons kan
ons huis nie verkoop nie, want niemand sal 'n huis koop waarin iemand
vermoor is nie."

Oorsprong:Rapport

http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2419674,00.html

No comments: