Saturday, October 11, 2008

Rowers skiet ma van twee dood ná biduur

Oct 10 2008 09:22:27:957PM - (SA)

Amanda Roestoff

'n Vroulike sendeling is eergisteraand deur rowers agter haar motor se
stuurwiel in die voorkop geskiet nadat sy met haar dogtertjies wou
vlug en in 'n boom vasgery het.

Mev. Rianna Henning (31) is by die ingang van die Fishersman's
Village-Christelike sentrum in Honeydew aan die Wes-Rand doodgeskiet.

Henning en haar man, Abri (35), het hulle sowat ses weke gelede as
hoofbestuurders by die Christelike bediening van pastoor Linda
Patterson (59) hier aangesluit.

Patterson het dié sentrum, wat ook as ontvlugtingsoord dien, sowat
vier jaar gelede op 'n hoewe naby Johanweg gestig.

Patterson sê 'n groep vroue wat 'n bidsessie by die sentrum bygewoon
het, het omstreeks 22:00 vertrek.

Me. Heather Costaras (35), Patterson se oudste dogter, sê sy vermoed
die gewapende mans het in die riete langs die veld weggekruip en die
perseel binnegesluip toe die hek oopgemaak is sodat die vroue kon
uitgaan.

Patterson wou die biduur-vertrek gaan sluit toe haar worshond naby 'n
bos gegrom het.

'n Man het uit die bos gespring, haar mond en neus toegedruk en haar
beveel om stil te bly, terwyl hy haar in die huis ingedwing het.

Nog rowers het toe reeds Patterson se jongste dogter, Suzanne (33),
voor haar rekenaar op die boonste vlak van die huis oorval.

Die twee vroue se hande is met skoenveters agter hul rug vasgebind en
hul koppe is met handdoeke toegegooi terwyl die rowers die huis vir
buit deurgesoek het.

Die Henning-egpaar en hul twee dogtertjies, Marcelle (2) en Anika (10
maande), was ondertussen op pad terug na die sentrum, waar hulle ook
woon, van 'n ander bidsessie buite die perseel.

By die hek het hulle Patterson gebel om die hek oop te maak. Een van
die rowers het die hele tyd 'n pistool teen Suzanne se kop gedruk,
terwyl sy Rianna probeer waarsku het deur te sê: "Ons kan nie nou die
hek vir julle oopmaak nie. Gaan asseblief weg en kom môre weer terug,"
het Patterson vertel.

Abri het toe glo uit die motor geklim en deur die riete na die hut van
'n Malawiese priester, net bekend as Ernest, gestap om te vra dat hy
die hek oopmaak, toe hy hom in die rowers vasloop waar hulle die buit
in Patterson se kar gelaai het. Hy is ook aangehou. Mev. Henning het
in die gesin se BMW teruggespring en wou met haar twee dogters wegjaag
toe sy agteruit in 'n boom vasjaag.

"Een van die rowers het bloot na haar gestap en haar in die voorkop
tussen die oë geskiet," het Patterson gesê.

Patterson het die noodknoppie in die gang met haar ken gedruk voordat
die vroue hulself in die badkamer toegesluit het.

Hulle kon skreeuende bande, die botsing en die doodskoot van buite
hoor. Die rowers het egter te voet gevlug met net twee selfone, 'n
skootrekenaar en salarisgeld vir die werkers.

Mnr. Henning het met sy vrou en kinders na die Wilgeheuwel-hospitaal
gejaag. Sy was by haar aankoms by die hospitaal dood.

Henning het die veiligheidsdiens ADT ontbied wat Patterson en haar
dogter gaan help het. "Ek wil net God se werk doen en ek word
telkemaal deur misdadigers geteiken. Dis my roeping om hier te wees.
Ek sal nie weggaan nie," sê Patterson.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2408027,00.html

No comments: