Saturday, October 25, 2008

Woeste rassegeveg by straat-vergadering: metroraad in spervuur

Oct 23 2008 09:37:47:197PM - (SA)

Cobus Claassen

Die Tshwane-metroraad is in die spervuur oor sy hantering van die
openbare straatnaamdebat nadat eergisteraand se vergadering in die
Pretoria-Noord-stadsaal op 'n woeste rassegeveg tussen inwoners
uitgeloop het.

Emosies oor dié raad se voorgestelde veranderings van straatname het
so oorgekook dat die polisie die oproeriges met traangas
uitmekaargejaag het.

Die geveg is glo ontketen toe 'n inwoner 'n ander man met 'n stoel oor
die kop geslaan het. Twee groepe van verskillende rasse het onder
mekaar ingevlieg. Die polisie en die metropolisie moes bontstaan om
die situasie te ontlont en het versterkings ontplooi.

Na verneem word, is niemand ernstig beseer nie.

Ontevredenheid het agterna geheers toe net een groep toegelaat is om
verder aan die vergadering deel te neem, terwyl die ander groep
toegang geweier is.

Chaos en onderlinge rassespanning het die raad se reeks
deelnamevergaderings deurgaans gekenmerk.

Mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum wat self onder die
geweld deurgeloop het, het gister bevestig hy het 'n klag van
aanranding teen dir. Ndumiso Jaca van die Tshwane-metropolisie
ingedien.

Kriel sê Jaca het hom hardhandig begin rondstamp nadat hy dit onder
Jaca se aandag gebring het dat die man "wat vir die stoelslanery
verantwoordelik was", steeds in die saal is.

"Ek het dit duidelik gemaak dat ek geen aandeel gehad het in die
ontwrigting nie en het my nie teëgesit nie."

Volgens Kriel is daar ooggetuies "wat bereid is om die gebeure onder
eed te bevestig".

Jaca wou nie gister met Beeld praat nie.

AfriForum het sy kommer uitgespreek oor die polisie en die
metropolisie "wat as instrumente van die ANC gebruik is om almal by
die vergadering te teiken wat teen die straatnaamveranderings gekant
is".

Die VF+ meen die ANC se roekelose hantering van die kwessie het
krisis-afmetings aangeneem en ingryping is dringend nodig.

"Die geweld het uitgebreek toe 'n swart inwoner 'n wit inwoner met 'n
stoel geslaan het. 'n Wit man is gearresteer, terwyl die stoelslaner
nie eens aangespreek is nie," het mnr. Willie Spies, VF+-LP, gesê.

Die polisie het bevestig 'n 26-jarige man is in hegtenis geneem.

Mnr. Dana Wannenburg, DA-raadslid, het gesê die proses wat die ANC
volg om die straatname te verander is onaanvaarbaar.

Die DA distansieer hom "van wat op die vergadering gebeur het" en vra
dat 'n geloofwaardige en onafhanklike proses begin word.

Mnr. Khorombi Dau, die raad se speaker, het gesê dit is jammer die
vergadering het op so 'n "onaangename wyse" afgeloop.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2415118,00.html

No comments: