Thursday, October 23, 2008

ANC soek konfrontasie in Pretoria

Die ANC wil etniese konflik in Suid-Afrika hê. 'n Mens kan tot geen
ander gevolgtrekking kom as jy die party se optrede rondom die
straatnaamkwessie in Pretoria beskou nie. Gisteraand het geweld
uitgebreek tussen Afrikaners wat teen straatnaamveranderings gekant
is, aan die een kant, en lede van die ANC/SAKP en die metropolisie aan
die ander kant.

Die metropolisie het openlik kant gekies in hierdie etniese
konfrontasie waar een groep poog om die geskiedenis en kultuur van 'n
ander uit te wis. Dit was die laaste spyker in die doodskis van
Suid-Afrikaanse demokrasie. Want demokrasie in die normale sin kan net
bestaan waar die staat en veral die polisie onpartydig optree om orde
tussen mededingende etniese of belangegroepe te handhaaf. Waar die
polisie in kultureel bevooroordeelde gedrag begin verval, verloor
hulle alle legimiteit en begin as 'n soort proregeringsmilisie optree
soos mens in soveel Afrikalande aantref.

Eintlik is die onlangse wending skokkend. Mens het nog altyd gedink
dat Pretoria met sy groot Afrikanerbevolking 'n potensiële
territoriale strydperk tussen Afrikaners en die Xhosa- en
Zoeloe-oorheersde ANC sou word. Gedurende die Kemptonparkse
onderhandelinge in die vroeë negentigerjare het die ANC sy bes gedoen
om Pretoria as opposisiegebied lam te lê. In die aanloop tot die
munisipale verkiesings in 2000, het die ANC se dr. Michael Sutcliffe
die grense so getrek dat die groot aantal Afrikanerkiesers in die
gebied geneutraliseer is en verhoed word om enige invloed uit te
oefen.

Hoewel ons by Praag reeds 'n aantal jare gelede Pretoria as 'n
moontlike konflikgebied uitgesonder het, kon ons nie die huidige
situasie voorsien wat so vinnig besig is om in 'n klassieke etniese
konflik van die Afrika-tipe te verval nie - baie soortgelyk aan die
DRK, Oeganda of die Ivoorkus waar een groep 'n ander probeer uitstoot
en alle spore van sy vorige bestaan uitwis.

Eintlik is dit 'n wonderwerk, gegewe die vyandigheid op voetsoolvlak,
dat veel meer geweld nie reeds uitgebreek het nie. As mens die
internasionale modelle van etniese wrywing toepas, het Pretoria reeds
van geel na rooi oorgeslaan.

Dat verdere konflik in Pretoria op pad is, is seker. Sosiale onrus,
onluste of erger is binne die volgende ses maande onafwendbaar.
Afrikaners sal móét saamstaan om dit te hanteer.


http://praag.co.za/index.php?option=com_content&task=view&id=3276&Itemid=197

No comments: