Thursday, April 24, 2008

sannieshof

Radio Pretoria oggend kommentaar


NUUSKOMMENTAAR - 23 APRIL 2008


Ons sal hulle almal Sannieshof!
Dit was 'n finansiële joernalis by 'n dagblad wat eerste die term
gebruik het en ons glo dit is een wat ons mense en die regering maar kan
onthou, naamlik, Gesannieshof. Die joernalis het geskryf dat
munisipaliteite maar lig moet loop of hulle gaan almal gesannieshof
word. Natuurlik met verwysing na die inwoners wat op dié dorp onder die
leiding van 'n plaaslike vuurvreter-dame sommer die take van die
dorpsraad oorgeneem het.
Landwyd is plaaslike owerhede nie in staat om basiese dienste op
aanvaarbare vlakke te hou nie, wat onwillekeurig die vraag laat hoe die
land behoorlik bestuur kan word as die mees elementêre funksies nie
behoorlik uitgevoer kan word nie.
Belastingbetalers is lankal keelvol vir die onbeholpenheid van amptenare
wat in poste aangestel is op grond van hul velkleur, terwyl die kundiges
elders 'n heenkome moes vind.
Ons vertrou egter dat die gevoel van moedeloosheid wat oor die meeste
Westerlinge in Suid-Afrika gespoel het, besig is om te wyk as gevolg van
die besef dat hierdie agteruitgang op een of ander wyse gestop moet
word.
Dit het aanleiding gegee tot die stigting van die Nasionale
Belastingbetalersvereniging. Hierdie vereniging het die wetlike aspekte
nagegaan en bevind dat belastingweerhouding wel toelaatbaar is binne die
landswette. Daar is op die oomblik sowat 130 dorpe en stede in die land
besig om in samewerking met die Vereniging die proses te begin om
belasting aan plaaslike owerhede terug te hou en in trust te plaas tot
tyd en wyl plaaslike dienste weer op 'n aanvaarbare standaard is.
Dan is daar is ook die gevalle soos byvoorbeeld op Barkly-West,
Warrenton, Winterton, Swartruggens en Sannieshof waar belastingbetalers
deur middel van hul trust reeds die funksies van die plaaslike owerhede
oorgeneem het.
As 'n klein dorpie soos Sannieshof in Wes-Transvaal die gemors van
lopende riool in die strate kon omkeer en Sannieshof se rioolstelsel
weer terug kon bring na aanvaarbare standaarde, dan is dit sekerlik vir
elke munisipale gebied waar ons volk woonagtig is, moontlik om die
tekortkominge, die laksheid en die onkundigheid van amptenare, om te sit
in doeltreffende handelinge.
Indien volksgenote nou begin om saam te werk en hande te vat met die
Nasionale Belastingbetalersvereniging, kan die noodsaaklike dienste in
elke dorp en stad weer terugkeer na die standaarde waaraan ons almal
gewoond is.
Daar is reeds sowat 15 munisipaliteite wat moes kennis neem dat die
blanke belastingbetalers nie verder gediend is met die patetiese dienste
wat gelewer word nie, en derhalwe 'n dispuut verklaar het. Die dispuut
gee magtiging om belasting te weerhou.
Die tyd het aangebreek dat volksgenote nou mekaar die hand moet reik,
sodat ons belastingbetalers se saamgesnoerde ekonomiese krag aangewend
kan word om ordelikheid te hervestig in elke munisipale gebied van die
land.
Om te sit en toekyk hoe alles rondom ons in duie stort, sal niks goeds
vir enige gemeenskap beteken nie. Wie weet, dalk is dit juis hierdie
eendragtige optrede van ons volk wat daartoe kan lei dat reg en
geregtigheid weer geld, wat ook uiteindelik die eerste tree kan wees na
ons volk se hereniging en sy vryheid.

No comments: