Wednesday, April 16, 2008

Pa pak rowers met kaal hande.

Mnr. Jannie Fourie in die Pretoria-Oos-hospitaal. Hy is sewe keer
geskiet. Foto: Cornél van Heerden

7 KOEËLS KEER HOM NIE. Mnr. Jannie Fourie se gesin, vir wie hy byna sy
lewe opgeoffer het: Sy vrou, Bernice, en kinders, Keanan (15 maande,
links) en Brandon (3). Foto: Cornél van Heerden

Apr 15 2008 09:26:56:357PM - (SA)

Virginia Keppler

'n Pa van die Mooikloof-veiligheidskompleks, oos van Pretoria, is
gisteroggend vroeg sewe keer geskiet terwyl hy twee gewapende rowers
met sy kaal hande toegetakel het om hulle van sy seuns se kamers af
weg te hou.

Mnr. Jannie Fourie (39) het, nadat die rowers sy regterhand se
middelvinger afgeskiet én hom in die skouer, knieë, hand en arm gewond
het, in sy een seuntjie, Keanan (1), se slaapkamerdeur neergeval in 'n
laaste poging om hom te beskerm.

"Die een rower wou my daar op die vloer teregstel, maar ek het my
gedraai en toe skiet hy my in die maag," het Fourie gister vanuit sy
bed in die waaksaal van die Pretoria-Oos-hospitaal gesê.

Sy vrou, Bernice (39), het hul ander seun, Brandon (2), probeer
beskerm deur sy kamerdeur toe te druk terwyl die rowers deur die deur
op haar geskiet het.

Een van die rowers het ook by Fourie se skoonma, mev. Hester Kok (68),
se kamer ingegaan en haar probeer oorrompel.

"Maar sy het die een rower met haar bedlampie oor die kop geslaan en
hom uit haar kamer geboender," het Fourie vertel.

Mev. Fourie het vroeër die aand by Brandon gaan inkruip en hom aan die
slaap gesus en toe self daar aan die slaap geraak.

"Ek het wakker geskrik toe ek iets soos 'n sleutel by die gangdeur,
wat die res van die kamers van die huis afskei, gehoor het," het sy
gesê. Dit was omstreeks 02:00.

Sy het 'n kraakgeluid gehoor en opgespring. "Toe ek die kind se
kamerdeur oopmaak, toe staan 'n man voor my en rig 'n wapen op my.
Daar was nog 'n man en hy het begin skreeu. Ek het ook hard begin
skreeu en toe klap ek die deur toe.

"Hulle het die deur probeer oopstoot, maar ek het dit van binne af
toegestoot terwyl ek aanhoudend geskreeu het. Ek het op my hurke gesak
en toe skiet hulle op my deur die kamerdeur."

Sy het 'n vleiswond in haar regterelmboog opgedoen. Toe sy besef die
rowers probeer nie meer die deur oopdruk nie, het sy Brandon gegryp en
in die hangkas weggekruip.

Fourie het opgespring toe hy sy vrou se gille hoor.

"Toe ek in die gang kom, het ek twee silhoeëtte onder in die gang sien
staan en toe klap die eerste skote.

"Toe is ek op die eerste ou en ek het hom aanhou slaan. In 'n stadium
het ek sy rewolwer se loop vasgegryp en probeer keer dat hy my in die
kop skiet en toe skiet hy my regterhand se middelvinger af, maar toe
slaan ek hom steeds.

"Ek dink ek het die eerste ou gedrop. Toe die ander ou in my seun
(Keanan) se kamer wou gaan, toe gryp ek hom en slaan hom."

Fourie sê dié rower het ook met sy wapen op hom losgebrand. In dié
stadium het hulle hom al vier keer raak geskiet. Ek het aanhou baklei,
maar toe skiet hulle my in die knieë en toe val ek in my seun se
kamerdeur."

Die rowers het daarna op die vlug geslaan met net 'n beursie en 'n selfoon.

Kapt. Phillip Lekoantsane, polisiewoordvoerder, het gesê die rowers
het met 'n 9 mm-pistool en 'n rewolwer op die gesin geskiet.

Mnr. Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911-nooddienste, het gesê
hulle het Fourie behandel voordat hulle hom na die hospitaal gebring
het.

Volgens Fourie het hy baie pyn, "maar ek leef darem nog".

Fourie se broer, Anton, sê die rowers het die kombuisdeur en die gang
se deur op 'n manier oopgemaak sonder om dit te breek.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2306496,00.html
For more information visit http://www.dienuwesuidafrika.com

No comments: