Thursday, April 3, 2008

geSannieshof - Willem Landman

To: onsstem-van-die-nasie@googlegroups.com
Cc: digitalmediadistributors@gmail.com

Onbevoegde munisipaliteite mag geSannieshof word


03/04/2008 Sake24


Willem Landman

Slaggate op ons provinsiale en munisipale paaie het 'n deel van ons lewe
geword. So ook gebrekkige noodsaaklike dienste soos watersuiwering en
-verskaffing, en riolering. Swart en wit, ryk en arm, loop toenemend
deur onder swak of afwesige munisipale dienste. Dit het al gewelddadige
onluste in townships tot gevolg gehad.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet sê dat een van die doelstellings van
plaaslike regerings of munisipaliteite is om 'n veilige en gesonde
omgewing te skep. Voorts het munisipaliteite 'n verpligting om in hul
administrasie, begroting en beplanning prioriteit te verleen aan die
basiese behoeftes van die gemeenskap en om sosiale en ekonomiese
ontwikkeling te bevorder.
Die Gedragskode vir Munisipale Werknemers vereis toegewyde dienslewering
ten behoewe van die geloofwaardigheid en integriteit van die
munisipaliteit. Daar word van munisipale werkers verwag om die basiese
waardes en beginsels van publieke administrasie te bevorder en te
implementeer. Hulle moet ook 'n kultuur van openbare dienslewering en 'n
kollektiewe sin van verantwoordelikheid vir werkverrigting ooreenkomstig
standaarde en teikens skep.
Die Batho Pele-beginsels verbind alle staatsamptenare tot gehalte
dienslewering, die stel en nastreef van internasionaal erkende
diensstandaarde, en eerlike en deursigtige kommunikasie met
landsburgers.
Die feit is dat dosyne munisipaliteite hierdie edele ideale in die wind
slaan weens onbevoegdheid en gebrekkige professionaliteit. Sommige
munisipaliteite is prakties gesproke disfunksioneel, veral in die
platteland.
Hiervoor is daar verskillende verklarings, soos politieke skoonmakery en
aanstellings wat min met kundigheid en vaardigheid verband hou, gebrek
aan gepaste pligsbesef en werketiek, oordrewe waarde geheg aan
statussimbole met gepaardgaande gebrekkige prioriteitstelling,
onderbenutting van plaaslike kundigheid en onvoldoende samewerking met
die gemeenskap.
Gebrekkige munisipale dienslewering kan as 'n morele kwessie verstaan
word. Daar kan aangevoer word dat die staat die skepping is van 'n
denkbeeldige "sosiale kontrak" of ooreenkoms tussen burgers waarvolgens
sekere magte aan die staat oorgedra word om die samelewing tot almal se
voordeel sosiaal te orden.
Op plaaslike vlak het die staat dan spesifieke etiese verpligtinge om
noodsaaklike en ander dienste teen betaling – of gratis aan behoeftiges
– ooreenkomstig die sosiale kontrak te lewer. Bly die staat in gebreke
om sy etiese verpligtinge na te kom, verbreek hy die onderliggende
morele ooreenkoms.
Die vraag is of belastingbetalers 'n disfunksionele munisipaliteit, as
uitvoerende arm van die staat, suksesvol sal kan oorreed om sy etiese
verpligtinge na te kom. Dit moet sekerlik probeer word, maar dis
waarskynliker dat die staat slegs "oorreed" kan word deur morele
argumente met praktiese optrede in die harde werklikheid van
magspolitiek te rugsteun. Dit word gedoen deur die staat se statutêre
verpligting om noodsaaklike en ander munisipale dienste te lewer as
vertrekpunt te neem.
Belastingbetalers het 'n korresponderende reg op dienslewering, maar
inderdaad ook 'n statutêre verpligting om daarvoor te betaal – afgesien
daarvan of die dienste bevredigend is of hoegenaamd gelewer word.
Gegewe swak of afwesige dienste, kan belastingbetalers die regering by
die stembus probeer uitstem of deur die hof probeer dwing om sy
statutêre verpligtinge na te kom. Die oorweldigende meerderheid van die
ANC maak eersgenoemde onwaarskynlik en laasgenoemde is duur. Albei is
tydrowend terwyl onmiddellike gesondheids- of veiligheidsrisiko's op die
spel is.
Daar is 'n ander uitweg waarvan Sannieshof in Noordwes 'n inspirerende
voorbeeld is.
Ná meer as twee jaar se pogings om te goeder trou met die munisipaliteit
oor gebrekkige dienslewering in gesprek te tree, het die
belastingbetalersvereniging 'n dispuut met die munisipaliteit verklaar
en sekere betalings weerhou en in 'n trustfonds gestort. Toegewyde
individue het die gemeenskap gemobiliseer en plaaslike kundigheid
betrek.
Boorgatpompe en waterpype is reggemaak en water het weer na 5 000
huishoudings begin vloei. Slaggate in munisipale paaie word reggemaak.
Onkoste word uit die trustfonds verhaal. 'n Soort parallelle
"munisipaliteit" het tot stand gekom.
Die eenvoudige, politiek neutrale beweegrede is om die dorp weer te laat
werk. Lei dit tot die munisipaliteit se effektiewe betrokkenheid, kan
geld in die trustfonds voorwaardelik aan die munisipaliteit uitbetaal
word.
Uit 'n regsoogpunt roep dit allerhande moontlikhede op. 'n
Munisipaliteit sou 'n eis op grond van wederregtelike weerhouding van
munisipale diensgeld teen die belastingbetalers kon instel.
Belastingbetalers sou hulle op noodweer as 'n regverdigingsgrond kon
beroep en aanvoer dat hulle hulself redelikerwys teen die munisipaliteit
se swak of afwesige dienslewering verdedig ten einde hul regserkende
belange – gesondheid – te beskerm.
Belastingbetalersverenigings wat Sannieshof wil nadoen, moet eers te
goeder trou met die munisipaliteit in gesprek tree, die raad behoorlik
inlig wanneer 'n dispuut verklaar word en fondse in die trustfonds
inderdaad konstruktief vir lewering van noodsaaklike dienste aanwend.
Sannieshof se voorbeeld word reeds in byna 100 munisipaliteite met
behulp van die Nasionale Belastingbetalersvereniging gevolg, in
verskillende stadia van vordering.
Die les van Sannieshof is dat 'n gekla en hande-in-die-sy-staan nêrens
heen lei nie. Toestande in vele dorpe het sodanig versleg dat
belastingbetalers self die hef in die hand sal moet neem.
Maar in die proses moet munisipale werkers in 'n gees van samewerking en
hulpverlening bemagtig word om toenemend self hul morele en statutêre
verpligtinge te verstaan én na te kom.
- Landman is uitvoerende hoof van die Etiek-instituut van Suid-Afrika
(EthicSA) asook buitengewone professor in filosofie aan die Universiteit
van Stellenbosch.

No comments: