Tuesday, April 15, 2008

Sannieshof -Pers verklaring Redes vir dispuut verklaring

VERKLARING VIR RADIO EN PERS:
15 April 2008

Dit het nie by Sannieshof gegaan of ons bekend of berug sou raak om 'n
dispuut teen ons Munisipaliteit te verklaar nie en daardeur 'n
magsvertoon te openbaar nie. Ons het vir 'n periode van 2 jaar alle
moontlike onderhandelings en kommunikasie kanale probeer om die
lewenskwaliteit van ons dorp te verbeter. In hierdie periode het
Burgermeester Thlape slegs een half voltooide brief aan ons teruggestuur.
Geen notule is aan hulle kant ooit geneem nie en geen besluit of belofte
wat hulle op 'n vergadering gemaak het is gestand gedoen nie. Ons het
telkens net beloftes ontvang van wat hulle nog gaan doen as die volgende
miljoene van die Regering af kom en op ons vraag oor wat reeds suksesvol
gedoen is, kon hulle geen antwoord verskaf nie.
Op die vraag wat hulle aan Sannieshof se water tekort gaan doen en die
feit dat daar meer as 5 000 mense in 'n nuwe uitbreiding in Agisanang
woon wat al 4 jaar geen toilet geriewe en geen lopende water het behalwe
2 krane wat 2 km van hul wonings af is nie was die antwoord dat die
mense van Sannieshof en Agisanang geduldig moet wees en nie water moet
mors nie, want hulle gaan vir ons 'n pyplyn lê vanaf die Katze dam in
Lesotho en as dit nie genoeg is nie sal hulle nog 'n pyplyn van die
Okavango moeras af aanlê – dan behoort daar genoeg water vir almal te
wees.
Na die aanhoor van hierdie feëverhaal was ons genoodsaak om iets te doen
om water en dienslewering in plek te kry. Hul verslag van ons
watersituasie het bevestig dat om water aan Sannieshof te voorsien
minstens R2 miljoen sou kos. Na ons, ons eie mense en kundiges op
Sannieshof in 'n waterkomittee saam geroep het, die saak ondersoek het
en aan die werk gespring het, het ons die watersituasie met R12 300
herstel. Die dag toe die pompe aangesit is, het ons reservoir op 4%
kapasiteit gelê. Binne 'n week was ons torings en reservoir op meer as
75% kapasiteit.
Die water loop weer deur die krane, maar steeds bly daar 5000 mense
sonder ablusie geriewe langs die rivier en spoel al hierdie uitskeidings
met swaar reën ook in die rivier af. Wie gee om?
Wanneer mense tevrede moet wees om in die sakesentrum deur rou riool
water te moet loop om sake te doen en wanneer rou riool in jou voortuin
en in jou straat afloop, dink ek dat intellektuele mense planne kan maak
om dit te be-eindig en op te los. As jou riooldam se wal meegegee het
en jy bewus raak dat die rou riool in die Hartsrivier afloop wat
aansluit by die Vaalrivier, dan moet jy weet dat jou konstitisionele reg
om in 'n skoon omgewing te woon waarin jou natuurlike hulpbronne beskerm
sal word, geskend is. As jy dan nog niks doen nie, weet ek nie wat is
jou rede om te leef nie en wat wil jy uiteindelik nalaat aan die
volgende geslag nie – moontlik sit hulle al buite die landsgrense.
Gevolglik was die dispuut verklaring en die weerhouding van betalings
die enigste manier van optrede om 'n verskil te maak aan ons situasie.
Ons is almal werkende mense wat hierby betrokke is en hierdie dispuut
nou moet uitvoer. Ons moet van ons eie tyd steel om sonder vergoeding
'n dorp se bestuur te hanteer en steeds word ons geignoreer, word
onge-evalueerde verhogings uitbetaal, hoewel die Munisipaliteit duisende
rande se uitstaande rekenings by besighede het en meer as R80 miljoen
in die rooi is.
Die dispuut werk op Sannieshof omdat Sannieshof se mense positief
saamwerk en van hulleself gee sonder om dit in geldwaarde te meet.

No comments: