Sunday, April 13, 2008

Ons bly hier !

[b]Ons bly net hier![/b]

Altesame 46 prominente figure en leiers in die Afrikaanse gemeenskap
het hulle in die Vat-jou-goed-en-bly-deklarasie daartoe verbind om in
Suid-Afrika te bly. Maar hulle wil protesteer teen dit wat verkeerd is
en hulle wil help werk aan oplossings. Hier is hul verklaring van
voorneme en die name van die ondertekenaars.

Die credo van 'n patriot

• Ek onderneem om my demokratiese regte op te eis. Ek is 'n
demokratiese burger, nie 'n demokratiese onderdaan nie. Ek kan nie
toelaat dat ander se ondemokratiese optrede my van 'n demokratiese
toekoms ontneem nie. Ek kan nie toelaat dat ander se ondermyning van
die Grondwet my van my grondwetlike regte ontneem nie. Ek kan nie dat
ander se rasbeheptheid my van 'n diskriminasievrye omgewing ontneem
nie.

• Ek sal aan veldtogte deelneem om my taal te beskerm en
moedertaalonderrig te verseker, om die elektrisiteitskrisis op te los
en misdaad in Suid-Afrika hok te slaan.

• Ek sal help om gemeenskapstrukture te skep om my en my mense te
beskerm en sal druk op die regering uitoefen om sy grondwetlike plig
na te kom deur my te beskerm.

• Ek sal nie hande gevou sit oor onbillike diskriminasie teen my mense
by die werk nie, en sal politieke inmenging in sport nie aanvaar nie.
Ons kan nie toelaat dat grondvergrype plaasvind en politieke inmenging
misdaadbekamping bedreig nie.

• Ek sal help om armoede onder my mense te takel en om
opleidingsgeleenthede vir jong mense te skep. Waar die regering
maatskaplike subsidies aan my mense onttrek, sal ons help om saam met
kerke gemeenskapsorgstrukture te skep.

• Ek sien Suid-Afrikaners in die buiteland nie as verraaiers nie, maar
as 'n internasionale netwerk wat ek gaan help mobiliseer om vir ons
wat hier gaan bly, 'n toekoms te help skep. Ek glo Suid-Afrikaners in
die buiteland het steeds 'n verantwoordelikheid teenoor ons in die
moederland. Dieselfde redes wat hulle laat gly het, moet deur ons wat
gebly het aangepak word.

• Ek sal ons Afrikaanse kunstenaars ondersteun en Afrikaans luister en
lees. Waar daar nie meer Afrikaanse opleidingstrukture bestaan nie,
sal ek pogings ondersteun om nuwe opleidingsinstellings te bou.

• Ek sal my hand na ander Suid-Afrikaners uitsteek en werk om 'n beter
toekoms vir almal in Suid-Afrika te skep.

• Ek het nie meer tyd vir die luukse om apaties en depressief te wees
oor die regering se onvermoë om vir my 'n veilige en aangename
omgewing te skep nie. Ek gaan saam met my gemeenskap moue oprol en nie
in alles afhanklik van die regering staan nie.

• Ek sal aksies ondersteun en bevorder om vir my 'n plek in
Suid-Afrika te skep, want ek gaan nêrens heen nie.

[i]Is jy 'n blyer of glyer? Gebruik asb. die onderstaande
kommentaar-fasiliteit om jou opinie te lug! [/i]

http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2304761,00.html

No comments: