Saturday, May 3, 2008

Nek gebreek maar kry nie behandeling

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2315849,00.html

Nek gebreek, maar kry nie behandeling
May 02 2008 08:01:10:620PM - (SA)

Buks Viljoen

'n 78-jarige pensioentrekker moes eergister glo langer as agt uur met
'n gebreekte nek en ribbes in die A.G. Visser-hospitaal op Heidelberg
wag sonder enige behandeling.

Mnr. Charel Pretorius is op Werkersdag ernstig beseer toe 'n taxi met
sy motor gebots het, het sy dogter, mev. Marietha Cole, gister gesê.

Mnr. Pretorius en sy vrou, Maryna (70), was omstreeks 12:00 van 'n
kerkdiens in Greylingstad op pad terug na hul huis in Grootvlei.

Pas nadat hy van die hoofpad afgedraai het, het 'n taxi glo teen 'n
hoë spoed van agter teen hulle vasgejaag. Die taxibestuurder en sy
passasier is net lig beseer.

Mev. Pretorius het haar arm gebreek.

Mnr. Pretorius is ernstig beseer, maar moes nadat die nooddienste van
Grootvlei die egpaar na die hospitaal op Heidelberg geneem het, tot
20:00 wag sonder enige behandeling.

Volgens Cole was haar pa voortdurend in pyn en het hospitaalpersoneel
"nie eens sy bloeddruk geneem nie".

"Hy is eers 'n inspuiting teen pyn gegee nadat ek daarop aangedring het."

Mnr. Pretorius, wat in die laat 1980's die burgemeester van Rustenburg
in Noordwes was, het ná sy opname die hele tyd in die hospitaal se
ongevalle-eenheid gelê.

"Die hospitaal het nie eens 'n nekstut gehad om dié van die
nooddienste te vervang nie."

Volgens Cole was die enigste dokter wat by die hospitaal aan diens
was, oorwerk en het hy gesukkel om die werklas by ongevalle te
hanteer.

Mev. Pretorius is later met 'n hand vol pynpille ontslaan nadat haar
gebreekte arm gespalk is.

"Hulle het gesê ons moet my ma Dinsdag vir verdere behandeling na die
Natalspruit-hospitaal neem."

Cole het later uit radeloosheid oor haar pa se toestand die hulp van
'n private dokter ingeroep.

Hy het gereël dat mnr. Preto-rius na die Chris Hani
Baragwanath-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas word.

Daar is tóé eers vasgestel dat 'n nekwerwel, asook van sy ribbebene,
gebreek is. Een van die ribbes het sy long deurboor.

Sy toestand is steeds kritiek, het Cole gistermiddag gesê.

"Dit is so traumaties, dit gaan regtig glad nie goed met hom nie."

Mnr. Moeti Lekhooana, 'n hoofverpleër by die Heidelberg-hospitaal, het
gister bevestig dat hulle net 'n pynmiddel aan mnr. Pretorius gegee
het.

"As gevolg van die erns van sy beserings moes ons wag dat 'n ambulans
hom na Baragwanath neem. Hulle het baie lank geneem om hom te kom
haal."

Cole sê hulle vermoed haar ma het moontlik ook inwendige beserings
opgedoen omdat sy oor pyn kla.

Hulle het haar gistermiddag wéér na die hospitaal op Heidelberg geneem.

"Ons vat haar egter nou Bethlehem-hospitaal toe omdat die
Heidelberg-hospitaal se personeel gister baie ongeskik was omdat Beeld
navraag oor my pa gedoen het."

Me. Zanele Mngadi, woordvoerder van die departement van gesondheid in
Gauteng, het gister gesê hulle sal die voorval eers Maandag kan
ondersoek.

"Dit is 'n langnaweek en ons sal nie so vinnig antwoorde by die
hospitaal kan kry nie."

No comments: