Sunday, April 13, 2008

NASIONALE BELASTING BETALERS UNIE

Weerhou dienstegeld vir beter munisipale lewering
Johan Eybers


Johannesburg

Gemeenskappe in veertien munisipale distrikte landwyd het reeds met
wisselende sukses dienstegeld weerhou om plaaslike regerings te dwing
om aandag aan hul griewe te gee, sê mnr. Jaap Kelder, voorsitter van
die Nasionale Belastingvereniging.

Die belastingbetalersverenigings in Warrenton, Barkly-Wes en Winterton
het verlede jaar geld weerhou toe hul onderskeie munisipaliteite
belastingverhogings van tussen 100% en 400% wou instel, sê Kelder.

Die belastingbetalersverenigings het geweier om die geld oor te betaal
voordat daar oor kleiner verhogings onderhandel is. Die stadsrade moes
ook onderneem om sekere dienste te verbeter voordat die oorbetaling
uiteindelik gedoen is.

In Swartruggens het betalers met 'n belastingboikot hul munisipaliteit
gedwing om meer aan infrastruktuurontwikkeling te bestee en die
tenderproses deursigtiger te maak, sê Kelder.

Volgens Kelder tree gemeenskappe regmatig op as hulle hul dienstegeld
weerhou as 'n stadsraad nie sy verpligtinge teenoor die gemeenskap
nakom nie.

"Dit is nie belastingontduiking nie, maar 'n metode om munisipaliteite
te dwing om die dienste te lewer waarvoor ons betaal," sê Kelder.

Belastingbetalers kan Kelder kontak by info@zanli.co.za.

http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2304846,00.html


Sannieshof staan op uit as
Johan Eybers

Me. Karien Visser, voorsitter van Sannieshof se sakekamer. (Foto:
Lerato Maduna) Foto by skakel.


Sannieshof

Vier jaar gelede het Sannieshof begin stink. Onverwerkte rioolwater
het in die strate afgeloop, watertekorte het dae lank aangehou en die
kraanwater was ondrinkbaar.

Inwoners het munisipale rekeninge met growwe foute daarop gekry, die
slaggate in die paaie het ál groter en dieper geword en die rommel het
in die strate opgehoop.

Vandag is die stank van rioolvuil weg, die water is skoon en die mank
infrastruktuur is stadig maar seker aan die verbeter.

En dit is alles te danke daaraan dat die inwoners self die stadsraad
se werk oorgeneem het.

Ondanks die groot verbetering met die lewering van dienste is die
munisipaliteit tjoepstil oor die vordering.

Met die geld wat hulle insamel deur die betaling van 'n deel van hul
munisipale rekeninge te boikot, het die plaaslike gemeenskap binne
drie maande die dorp se waterkrisis opgelos, toerusting vervang en is
hulle op die punt om die haglike padinfrastruktuur te verbeter.

Me. Karien Visser, voorsitter van Sannieshof se sakekamer, sê dit was
in Oktober, toe munisipale dienste heeltemal in duie gestort het, dat
die gemeenskap besluit het om self die dorp weer te laat werk.

Toe was daar nie meer geld om die waterpompe in stand te hou wat
Sannieshof se boorgatwater in opgaartenks inpomp nie.

Visser sê hulle het 'n "dispuut met die munisipaliteit verklaar".

Sedertdien het hulle betaling weerhou vir dié dienste wat nie gelewer word nie.

Aan die begin het 27% van die dorp se huishoudings hul geld aan die
belastingbetalersvereniging oorbetaal, sê sy.

Maar toe die belastingbetalersvereniging binne 'n maand die dorp se
waterprobleem oplos deur die boorgatpompe en waterpype te herstel en
water weer na 5 000 huishoudings begin vloei het, het die gemeenskap
hom agter hulle geskaar. Nou betaal amper 60% van die dorp se
belastingbetalers hul geld oor aan die belastingbetalersvereniging.

Sedertdien het hulle versperrings herstel om te verhinder dat
vragmotors deur die veld kortpad vat as hulle van die snelweg tot by
die dorp ry.

Die munisipaliteit se randsnyer, trekker en 'n suigwa wat rioolvuil
moet uitsuig, is ook intussen reggemaak en die vereniging gaan
binnekort die slaggate pak.

Mnr. Manuel Pereira (45), eienaar van die Sannieshof-hotel en
-drankwinkel, sê hulle sukkel nog, maar dit gaan al hoe beter in
Sannieshof.

"Die wagtye vir die tenks wat die rioolgate moet skoon suig, is nog
baie lank en hulle daag baie keer nie op nie.

"Dit is dan dat mense uit desperaatheid munisipale werkers omkoop om
die riool te kom uitsuig," sê hy.

Maar mnr. Frik Roets, mede-eienaar van die Spar in die dorp, sê vandat
die watervoorsieningskrisis opgelos is, hoef hy nie meer te sukkel om
sy winkel skoon te maak of kos te maak nie.

Visser sê die boikot werk omdat hulle deursigtig is oor wat met die
geld gedoen word en omdat mense 'n verskil kan sien.

En intussen het hulle nog niks van die stadsraad gehoor nie – nie 'n
brief, 'n telefoonoproep of 'n vergadering nie.

http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2304848,00.html

No comments: