Wednesday, April 16, 2008

Verkragting van weduwee se lyk ?

Apr 15 2008 09:27:00:640PM - (SA)

Jeanne-Marié Versluis

'n Plaaswerker wat voorheen ter dood veroordeel is, is gister in die
Pretoriase hooggeregshof daaraan skuldig bevind dat hy 'n weduwee (70)
se keel afgesny en seks met haar lyk gehad het.

Amos Maxuring Zulu (57), wat 'n rits vorige veroordelings het, het
gister in sy pleitverduideliking gesê hy het mev. Johanna Maria
Erasmus se keel afgesny en toe met sy dagtake op die plaas
voortgegaan.

Die staat het betoog dit is 'n "miljoendollar-vraag" of Zulu seksuele
omgang met Erasmus gehad het terwyl sy geleef het (verkragting) of met
haar lyk (lykskending).

Die hof het bevind die staat kon nie bo redelike twyfel verkragting
bewys nie en het Zulu aan lykskending skuldig bevind.

Die DNS wat in Erasmus gevind is, stem ooreen met Zulu s'n.

Erasmus het by haar seun, Daan, op die plaas Rietfontein in Welbekend
in die Bronkhorstspruit-distrik gewoon.

Sy was die dag van haar moord alleen in 'n bokstal op die plaas.

Zulu het skuld ontken op die aanklag van verkragting en die
alternatiewe aanklag van lykskending en geen pleitverduideliking
daaroor afgelê nie.

Hy het egter skuld beken op aanklagte van moord en roof met
verswarende omstandighede.

Hy het in sy pleitverduideliking oor dié aanklagte gesê hy het op 12
Februarie 2007 Erasmus "onwettig en doelbewus" vermoor en van haar
Nokia-selfoon beroof.

"Sy het my gevra hoekom ek die bokke so vroeg uitgelaat het."

Hulle het begin stry. "Ek het kwaad geword en die mes uit my sak
gehaal en haar keel afgesny. Ek het haar selfoon gevat en voortgegaan
met my normale dag-tot-dag-pligte.

"Ek het nie 'n wettige verweer nie," het hy gesê.

Die staat het verskeie vorige veroordelings van Zulu aan die hof
voorgehou, soos aanranding, ontvlugting uit aanhouding, diefstal en
verkragting.

Zulu is in 1985 ook aan moord skuldig bevind waarop hy die doodstraf opgelê is.

Nadat hy tien jaar die doodstraf in die tronk afgewag het, is dit
tersyde gestel en is hy vrygelaat.

Kapt. Steven Hermitage, ondersoekbeampte, gaan op 2 Junie ter
strafverswaring getuig wanneer Zulu gevonnis word.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2306493,00.html
For more information visit http://www.dienuwesuidafrika.com

No comments: