Friday, May 9, 2008

Fokus op Kragdag

Radio Pretoria het al herhaalde male sy twyfel uitgespreek oor die
beweerde gebrek aan elektrisiteit in die land. Verlede winter was
daar geen sprake van 'n tekort aan elektrisiteit nie, en sedertdien
het daar nie soveel nuwe huise, nywerhede of myne krag gekry wat hulle
nie verlede winter gehad het nie.

Maar net nadat Eskom se aansoek vir 'n agtien persent verhoging van
die hand gewys word, is daar skielik nie meer krag nie en word die
land periodiek in duisternis gehul.

En sedertdien is daar geen einde aan die dubbelpratery van Eskom nie.
Dan word steurkrag ingestel, en dan word dit opgehef. Dan weer word
die steurkrag ingestel, selfs al is daar nie 'n tekort nie, so al asof
die krag wat dan gespaar word, in 'n botteltjie gebêre kan word tot
die winter, wanneer meer krag benodig word. Ons is vertel dat hierdie
aan-en-afskakel van die krag kan voortduur tot 2012 of selfs later.

Verlede week hoor die Kapenaars dat hulle nie net meer elke tweede dag
kragonderbrekings gaan kry nie, maar ten minste een maal per dag. En
later dieselfde dag kondig Eskom aan dat die steurkrag nou eers iets
van die verlede is, sogenaamd tot 'n nuwe bedeling intree in Julie.
Wat daardie bedeling is, is nie op hierdie stadium duidelik nie. Maar
daar skyn dan tog tot dan wel genoeg krag beskikbaar te wees!

'n Natalse koerant het verlede week tereg gevra wat dan nou van die
kragkrisis geword het? Is daar dan nou nie meer 'n tekort aan krag
nie, juis hier aan die begin van die winter, noudat die kragverbruik
reeds begin toeneem het?

Natuurlik het Eskom daar geen direkte antwoord op gegee nie, want
enige antwoord sal sy geloofwaardigheid nog verder skaad, indien hy
nog enige geloofwaardigheid oor het.

En net vandag meld Die Burger in die Kaap dat kragonderbrekings tog
nog sal voorkom. As daar 'n tekort aan elektrisiteit is, sal Eskom
sonder waarskuwing weer die toevoer afsny. Maar die steurkrag is dan
juis ingevoer, sogenaamd sodat mense en besighede kan beplan.
Advertensieveldtogte van miljoene rande is in die media geloods om die
voordele van dié steurkrag te verkoop, en sodat die mense nie te kwaad
moet wees vir die absolute ongerief wat veroorsaak word nie. Wat word
nou daarvan? Was dit nog 'n spul vermorste geld deur Eskom se
bestuur, soortgelyk aan die belaglike wanprestasiebonusse wat aan die
topbestuur betaal word? Het dit nie nou tyd geword dat die ANC ophou
om met die SABC-raad te baklei, en eerder die Eskom bestuur te vervang
nie. Want dié instelling se wanbestuur word daagliks al hoe meer
opvallend. Hulle vernaamste prestasie is die dreigement van
buitensporige tariefverhogings, wat die ekonomie eenvoudig nie kan dra
nie.

Daar word nou heelwat gepraat oor eiendomspryse wat daal en die
ekonomie wat afkoel, as gevolg van die rentekoersverhogings. Maar
Eskom se rol in die ekonomiese afgang word verswyg. Geen instelling
kan op volle krag produseer of diens lewer as daar geen redelike
voorsiening is dat 'n werksdag sonder kragonderbrekings sal verloop
nie. Ons is dus weer terug by die begin: kragonderbrekings,
onaangekondig, met maksimum chaos. En steeds twyfel ons of daar 'n
werklike elektrisiteitskrisis is. Ons glo steeds dat die verbruiker
deur Eskom rondgegooi en verontrief word, net sodat hy nog meer geld
uit die verbruiker kan pers, sodat sy bestuur volgende jaar weer vir
hulleself bonusse kan uitbetaal.

Ons herhaal vandag ons vorige oproep: ons moet na ons eie
kragvoorsiening begin kyk, sodat ons onafhanklik van Eskom kan word.
In daardie opsig is die naweek se Kragdag by Diamantvallei heel tydig,
en ons sien met belangstelling uit na wat daar aan ons mense gebied
kan word, want dit is van die uiterste belang.

Radio Pretoria nuuskommentaar : Dinsdag 06 Mei 2008

No comments: