Friday, May 9, 2008

Drie eis groot na polisie mishandeling

[b]Drie eis groot ná 'polisiemarteling'
Was glo 'Boeremag'[/b]
Jeanne-Marié Versluis

PRETORIA. – 'n Egpaar en 'n man van Hammanskraal eis sowat R3 miljoen
van die minister van veiligheid en sekuriteit nadat die polisie hulle
in hegtenis geneem, en glo gemartel en beweer het hulle is lede van
die Boeremag.

Mnr. Johannes Jurgens Oosthuizen, een van die eisers, beweer in
hofstukke ene insp. Moonsamy het gedreig om hom te "wys hoe lyk God"
en het hom twee keer "versmoor" totdat hy bewusteloos was.

Mnr. Willem Petrus Nel, wat saam met sy vrou, Esther, skadevergoeding
eis, is luidens hofstukke deur Moonsamy en ene sers. Pooko op die
niere geskop sodat hy bloed geürineer het.

Die eisers is van die Lusthof-kleinhoewes by Hammanskraal.

Hulle het elk verskeie eise teen die minister ingestel, ook teen
Moonsamy, Pooko en ene mnr. Bhana, ook 'n polisieman.

Oosthuizen (30) sê in hofstukke hy is op 3 Desember 2002 onregmatig 17
dae lank deur dié drie in 'n huis in Laudium, Pretoria, en in verskeie
polisie-kantore aangehou.

Terwyl sy hande agter sy rug geboei was, is hy glo geklap en getrap.
Ná die "versmoring" het Bhana hom gevra of hy "die hemel gesien het".
Hierdeur is sy "godsdienssin" verkleineer, beweer Oosthuizen.

Pooko het 'n vuurwapen oorgehaal, teen sy kop gedruk en die sneller
getrek. Geen skoot het afgegaan nie, maar hy het gedink hy word
doodgeskiet, sê Oosthuizen.

Pooko het hom glo twee keer met die dood gedreig as hy nie 'n
verklaring onderteken nie.

Daar is glo gedreig dat hy geskok sal word sodat hy "bloed sal p*s en k*k".
Volgens Oosthuizen het Bhana hom valslik beskuldig dat hy 'n lid is
van of deelneem aan "die handelinge van die Boeremag wat die regering
met geweld omver wil werp".

Luidens mnr. Nel se hof-stukke het Pooko gedreig om hom dood te skiet.
Pooko het glo gesê dat Nel "nog nie gesien het hoe moer ek 'n boer
nie".
Hy het glo op 4 Desember 2002 tydens sy aanhouding geen kos ontvang nie.

Bhana het hom glo vier keer met 'n elektriese apparaat geskok en drie
keer met 'n stuk motorbinneband "versmoor".

Mev. Nel (46) beweer sy is ook aangehou sonder enige redelike
verdenking  en van die besit van 'n gesteelde selfoon beskuldig.
Sy is ook op 3 Desember 2002 in hegtenis geneem en verbied om haar
kinders by die skool te gaan haal.

Volgens mev. Nel is sy "valslik toegevoeg" dat plofstof by haar en
haar man gevind is.

Geen van die drie eisers is saam met die 22 beskuldigdes in die
sogenaamde Boeremag-verhoor in die hooggeregshof in Pretoria aangekla
nie.

Die drie polisiemanne het die bewerings teen hulle in hul verweerskrif ontken.

'n Datum vir die aanhoor van die geding is nog nie bekend nie.

No comments: