Saturday, May 24, 2008

Pa voor 2-jarige in bed Vermoor

Pa voor 2-jarige in bed vermoor
May 23 2008 10:09:31:910PM  - (SA)  




Mnr. Frikkie Maree (51) vertel gister hartseer hoe 'n rower sy seun in sy bed in die nek geskiet het. Foto: Herman Verwey





Virginia Keppler


'Pa, die bloed."

Mnr. Dawie Maree jr. (27) het in 'n laaste poging om sy gesin te beskerm sy vuurwapen uitgepluk en die rower, wat steeds op sy bed gestaan het, doodgeskiet. Die rower het van die bed afgeval en op die vloer dood neergeslaan.

Maree jr. is met 'n enkele skoot aan regterkant van sy nek geskiet. Die koeël is deur sy longe en hart en is by sy linkersy uit.

Maree jr. is kort daarna in die Wilgers-hospitaal dood.

Hy en sy vrou, Elana (25), het geslaap toe vier rowers hul sitkamervenster stukkend geslaan en die diefwering oopgebreek het.

Hul kinders, Elané (2) en David (11 maande), het in dieselfde kamer in hul wiegies langs hul bed geslaap.

Mnr. Nico Fourie, mev. Maree se pa, het gesê Elané en haar ouers het eers wakker geskrik toe die rower by die kamer ingestorm het.

"Elané het alles gesien gebeur."

Maree jr. se pa, Frikkie (51), het gesê die rowers moes eers deur die huis beweeg het, want mev. Maree se hangertjie, oorbelle en selfoon is weg.

"Elana het gesê 'n man het op hul bed gespring en Dawie net daar geskiet. Dawie moes sy wapen naby gehad het, want hy het dadelik teruggeskiet," het hy gesê.

Volgens hom het die ander drie rowers toe dadelik gevlug.

Maree sr. was in Groblersdal ten tyde van die voorval en is deur mnr. Solly Mveke, sy seun se buurman en 'n staatsaanklaer by die landdroshof in Pretoria, gebel met die nuus dat daar skote by sy seun se huis afgevuur is.

"Ek het hom gevra om asseblief te gaan kyk en die polisie te bel. Net daarna het Elana my gebel en gesê Dawie is geskiet."

Hy het gesê mnr. Braam Espach, sy seun se ander buurman, het gaan ondersoek instel. Espach het Dawie in sy bakkie gelaai en na die Wilgers-hospitaal gejaag.

"Elana het gesê Dawie het nog gepraat. By die hospitaal het hy aan 'n suster gesê hy kan nie asem kry nie en toe agteroor geval en gesterf.

Die dokters en verpleegsters het alles gedoen wat hulle kon om sy seun se lewe te red.

Mnr. Luchelle Joubert, 'n familievriend, het gesê Maree jr. se meer as 70 werknemers se lewens word ook nou deur sy dood geraak. "Dawie was vol liefde en lewenslus.

"Behalwe sy familie en vriende, het sy werknemers én hul families ook op hom staatgemaak," het Joubert gesê.

Mev. Maree en haar kinders het intussen mediese behandeling, asook berading ontvang. Sy en haar dogter gaan vandag hul 25ste en tweede verjaardae droewig vier.

Insp. Sipho Mabena, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die voorval.

No comments: