Sunday, May 11, 2008

Roekelose verkeersbeamptes.

Mnr. Rico Bernert by sy Porsche wat beskadig is. (Foto: Lauren Mulligan)

10/05/2008 21:09 - (SA)

René-Jean van der Berg

Johannesburg

'n Johannesburgse sakeman eis dat die polisie betaal vir duisende
rande se skade aan sy Porsche nadat hulle hom glo sonder rede in die
tronk gestop en toe in sy duur kar rondgery het.

Mnr. Rico Bernert (44) word aangekla van aanranding, maar hy sê hy
weet tot vandag toe nie wie hy "aangerand" het nie.

Al wat hy weet, is dat hy 'n nag in die selle moes deurbring en dat
daar R25 000 se skade aan sy Porsche was toe die polisie hom die
volgende dag vrygelaat het.

Volgens Bernert was hy verlede Donderdag by 'n kuierplek in
Johannesburg toe dit begin reën. Hy het buitentoe gegaan om sy motor
se ruite en sondak te gaan toemaak.

" 'n Ongemerkte voertuig met vier polisiereserviste het stilgehou. Een
van die reserviste het op my geskree en my uit die kar geboender.

"Hulle het my begin aanrand en een het ook twee keer pepersproei in my
oë en mond gespuit.

"Hulle het my selfoon, my beursie en my kar se sleutels gevat," sê hy
in 'n beëdigde verklaring.

Toe is hulle met hom na die Douglasdale-polisiekantoor toe.

Die silwer Porsche het op die parkeerterrein agtergebly – of só het
Bernert gedink.

Die volgende oggend was die Porsche langs die polisiekantoor geparkeer.

Daar was skade aan die onderstel, die bakwerk, 'n kantspieëltjie is
afgebreek en die motor se binneruim was natgereën.

Bernert beweer dit is die werk van polisielede wat sonder sy
toestemming daarin rondgery het.

Hy het sy prokureur reeds opdrag gegee om 'n skadevergoedingseis in te stel.

Bernert moet op 30 Mei weer in die hof verskyn op die klag van aanranding.

Supt. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder, het gesê Bernert se
bewerings sal ondersoek word.

Oorsprong:Rapport

http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2319919,00.html

No comments: