Monday, May 5, 2008

Polisie/verkeersbeamptes geweld op blankes

Buks Viljoen

'n Klag van aanranding word teen 'n verkeersbeampte van Mpumalanga
ondersoek nadat hy na bewering 'n vrou naby Kaapmuiden in die Laeveld
by 'n spoedlokval aangeval het.

Mev. Eugené Bergman (34) van Centurion was besig om foto's te neem
nadat sy en haar man in 'n spoedlokval op die N4-hoofweg voorgekeer
is, toe die beweerde aanval plaasgevind het.

"Ek het gelukkig net ligte kneusplekke opgedoen. Maar ek is steeds
baie geskok," het Bergman gesê.

Bergman, haar man, Gustus (33), en haar ouers, mnr. en mev. André (60)
en Magda (58) Lengton was eergister op pad terug van 'n vakansie in
Mosambiek toe hulle omstreeks 11:30 voorgekeer is.

"Gustus wou weet hoekom ander voertuie wat teen dieselfde spoed as ons
gery het, nie afgetrek is nie," vertel mev. Bergman.

Toe mnr. Bergman uitklim om te vra dat die spoedlesing aan hom gewys
word, het sy foto's begin neem.

"Die twee verkeersmanne, onder wie mnr. John Mamba, het geskree dat ek
nie foto's mag neem nie."

Sy het egter aanhou neem. Die volgende oomblik het Mamba glo op haar afgestorm.

Sy het probeer weghardloop, maar hy het haar glo van agter gegryp.

Hy het haar na bewering aan die linkerarm gegryp en rondgepluk terwyl
hy probeer het om die kamera by haar af te neem. Eers toe 'n ander
motoris by die toneel stilhou en toeter blaas, het Mamba haar glo
gelos.

Mev. Bergman het glo in hul motor gespring en die deure gesluit. Mamba
het toe glo aan haar man gesê dat "iemand vanaand in die tronk gaan
slaap".

Die verkeersbeamptes het later gesê mnr. Bergman moet ry. Hy is nie beboet nie.

Terwyl die Bergmans by die polisiekantoor in Nelspruit was om 'n klag
van aanranding teen Mamba in te dien, het 'n ander verkeersbeampte
hulle glo gebel.

Die man, ene Nelson, het om verskoning gevra en gevra dat hulle nie 'n
klag moet indien nie.

"Ek weier. Ons hoor gereeld klagtes van veral die verkeersowerhede in
die Onderberg wat by voorvalle met motoriste betrokke raak. Dit is
hoogtyd dat die owerhede optree."

Mnr. David Nkambule, woordvoerder van die departement van paaie en
vervoer in Mpumalanga, het gister gesê hulle ondersoek die voorval.

No comments: