Wednesday, May 14, 2008

Bejaarde se keel gesny ; rowers buit net R1000 en 7 brode

* Bejaarde se keel gesny; rowers buit net R1 000 en 7 brode


May 13 2008 06:51:27:560PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – 'n Vrou van dié stad het 'n noue ontkoming
gehad toe sy tydens 'n plaasaanval in Musina (Messina) beseer is.

Mev. Emmerentia Fourie (63) is vasgebind en een van haar aanvallers
het haar met 'n mes aan haar keel gesny.

Die aanvallers het onder meer met sewe brode gevlug uit die winkeltjie
wat uit die plaashuis bedryf word.

Insp. Francois Cilliers, polisiewoordvoerder in Musina, het gesê
Fourie het 'n ligte sny aan haar keel opgedoen.

Volgens hom het vier mans Vrydag net ná 12:00 toegeslaan op die
Hartz-plaas wat aan mnr. Andries Nel, Fourie se broer, behoort.

Fourie van Polokwane het saam met 'n 73-jarige vriendin op die plaas gekuier.

Hulle was alleen by die huis tydens die voorval.

Cilliers het gesê 'n winkel word uit die plaashuis bedryf waar mense
kruideniersware soos brood kan koop.

Volgens hom het Fourie en haar vriendin vergeet om die veiligheidshek
van die huis te sluit.

Die vier aanvallers het die huis binnegekom en hulle oorrompel.

Fourie is vasgebind waarna haar keelvel met die mes gesny is.

Haar vriendin is rondgepluk en een van die aanvallers het haar met sy
knie in haar maag gestamp.

Die aanvallers het sewe brode uit die winkel gesteel en R1 000 gebuit
voordat hulle gevlug het.

Volgens Cilliers het die vroue daarin geslaag om oor die
burgerbandradio hulp te ontbied.

Mnr. Johan Taute, 'n oud-polisieman, het hul hulpkreet oor die radio
gehoor en dadelik die polisie ontbied.

'n Soektog is na die aanvallers begin, maar teen druktyd was hulle
steeds op vrye voete.

Oorsprong:Beeld

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2321728,00.html

No comments: