Thursday, June 26, 2008

Interessante storie van Sake24

Meer nuus by http://www.Sake.co.za
Lees die storie by:
http://www.news24.com/Sake/Rubrieke/0,,6-103_2347124,00.html

Terughou van taks soos klip gooi

Jun 25 2008 10:05:15:203PM
'n Verdrinking is geluidloos, maar nie minder dodelik nie.
Op dieselfde wyse kan die groeiende weerhouding van munisipale
dienstegeld en erfbelasting die doodsklok lui vir plaaslike owerhede.
Dit haal egter selde – anders as die klipgooiers en brandstigters teen
swak munisipale dienslewering – die voorblaaie van koerante en die
aandnuus op televisie.
Volgens mnr. Jaap Kelder, wat in die naam van die Nasionale
Belastingbetalersunie (NBU) die stukrag agter die belastingweerhouding
is, is inwoners van minstens 170 dorpe tans besig met sulke
protes-aksies. Dit is egter nie duidelik hoeveel mense in elke dorp
betrokke is nie.
Kelder was tot 1995 'n stadsraadslid vir die Vryheidsfront aan die
Gautengse Oos-Rand.
Hy het 'n hofsaak om die Kemptonparkse stadsraad te dwing om gelyke
betaling te hef vir gelyke dienste, op appèl verloor.
"Dít het my kwaad gemaak," sê hy.
Hy het besef "politiek hoort nie in plaaslike bestuur nie", en hom begin
beywer om iets te doen aan swak dienslewering.
"As die land bestuur is soos voor 1994, sou niemand 'n probleem gehad
het nie," sê hy. "As die regering nie luister na klagtes oor swak
dienslewering nie, sal ons die dienste self lewer. Die kultuur van
wanadministrasie moet stopgesit word."
Kelder is aan die stuur van 'n e-pos-netwerk waardeur die leiers van die
protes mekaar daagliks op die hoogte hou van ontwikkelinge op hul dorpe
en raad aan mekaar gee oor die pad vorentoe.
Hulle maak soos volg:
- Vestig 'n papierspoor van onbevredigende diens en probleme in die
dorp;
- Verklaar 'n dispuut met die dorp op grond daarvan dat daar nie aandag
aan die klagtes en probleme gegee word nie (dan mag kredietbeheer
volgens hulle nie toegepas word nie);
- As daar geen reaksie of verbetering is nie, word geld van die
munisipaliteit weerhou en in 'n trustrekening betaal;
- As daar steeds geen reaksie is nie, begin belastingbetalers self die
dienste verrig;
- Dring by die munisipaliteit aan om as 'n eksterne diensverskaffer
erken te word.
Die NBU roem hom daarop dat alles wat hy doen, heeltemal wettig is.
Hy beroep hom op die regsbeginsels exceptio non adempleti contractus en
negotiorum gestio.
Eersgenoemde beteken dat twee partye gelyk moet presteer en as die een
nie sy kant bring nie, die ander nie gedwing kan word om te presteer
nie.
Die tweede beginsel is volgens Kelder waar iemand na iemand anders se
belange moet omsien en nie sy verantwoordelikheid nakom nie. Dan kan die
persoon na wie se belange omgesien moes word, die geld gebruik om dít te
doen wat die ander party nagelaat het om te doen.
Prof. Marinus Wiechers, grondwetkenner, stem nie hiermee saam nie.
Hy sê die NBU probeer privaatregtelike beginsels toepas op die
verhouding tussen die munisipaliteit en sy belastingbetalers, terwyl dít
binne die publiekreg val.
'n Plaaslike owerheid het die jurisdiksie binne sy regsgebied, met die
keersy dat hy dienste moet lewer.
As hy nalaat om die dienste te lewer, is daar vier remedies binne die
publiekreg:
- Verbaliseer die probleem deur byvoorbeeld betogings, petisies en
mobilisering;
- Probeer die mag oorneem deur stemreg;
- Stig 'n maatskappy en tender vir die werk om byvoorbeeld die
rioolwerke te herstel. Onbillike toekenning van die tender aan iemand
anders kan in die hof betwis word;
- Inwoners kan deur 'n klasaksie die hof nader om 'n mandamus-bevel om
die munisipaliteit te dwing om sy werk te doen.
Die weerhouding van dienstegeld is egter nié 'n wettige opsie nie, sê
Wiechers.
Die enigste geval waar belastingbetalers self herstelwerk kan laat doen,
is uit noodweer.
As die stukkende klep by die rioolwerke byvoorbeeld 'n gesondheidsgevaar
skep en die munisipaliteit dit nie laat herstel nie, kan
belastingbetalers dit self laat doen en die geld van die munisipaliteit
terugeis.
Dít onthef hulle egter geensins van hul burgerlike plig om dienstegeld
en erfbelasting te betaal nie.
Belastingbetalers mag volgens Wiechers ook nie die plaaslike owerheid se
hande bind soos in Swartruggens, waar hulle die trustgeld beskikbaar
stel, maar dit nie gebruik mag word in die townships óf vir salarisse
nie. Die belastingbetalers wil ook inspraak hê in die toekenning van
tenders!
Prof. Dirk Kotzé, hoogleraar in politieke wetenskap aan Unisa, sê dié
soort protes volg net 'n ander metode as die klipgooiers en
brandstigters, maar die boodskap is dieselfde, naamlik dat swak
dienslewering onaanvaarbaar is.
Dit is volgens hom 'n metode van afdreiging om 'n krisis af te dwing,
sodat die regering op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak kennis
neem van die kwessie.
As die regering nié gehoor gee nie, gaan munisipaliteite se bron van
inkomste egter uitgekalwer word, wat beteken dat dienslewering nóg
verder sal verswak.
Dit is 'n bose kringloop wat volgens Kotzé kan lei tot meer gewelddadige
konflik.
Hoewel Kotzé meen dié soort protes kan nie net aan Afrikaners gekoppel
word nie, sê Kelder self Engelssprekendes is "feitlik afwesig" in die
NBU-aksie.
Die vraag bly staan of die regering dié stille protesroep, gekleed in 'n
styl wat hy nie noodwendig ken nie, gaan hoor.
Of gaan hy op 'n dag sy oë uitvee en vind daar is geen munisipale
belastingbasis oor nie?
Wie is dan die wenners?
Die gate in Sannieshof en Smithfield en Swartruggens se strate sal bes
moontlik herstel wees, maar in die proses word die grafskrif geskryf van
die munisipale staatsbestel in Suid-Afrika.
Kelder se antwoord: "Ons gaan die dienste self lewer. Ons begin op
munisipale vlak, en sal sien wat daarna volg."

No comments: