Sunday, June 15, 2008

Onteieningswet weerstand

Organisasies, partye staan saam teen wetgewing
Jun 13 2008 Volksblad
Dirk Kok


Altesaam 12 organisasies en partye in die land het hul ideologiese en
politieke verskille opsygeskuif om saam teen die omstrede Wetsontwerp op
Onteiening te staan.
Die F.W. de Klerk-stigting, Agri SA, die TLU SA, Solidariteit, die
Landbou-werkgewersorganisasie, Nasionale Belastingbetalersunie, VF+, DA,
Afrikanerbond, AfriForum, Regslui vir Afrikaans en die Afrikanerfront
het op 'n vergadering in Johannesburg hande gevat om die beplande wet in
sy huidige vorm te stuit.
Die organisasies en partye sê hulle wil soveel as moontlik ander
organisasies en individue by hulle laat aansluit.
Benewens voorleggings wat van hulle reeds teen die voorgestelde wet
gemaak het en nog sal maak, word regstappe ook teen die
inwerkingstelling van die wet beplan.
Mnr. Jan Bosman, besturende direkteur van die Afrikanerbond, het gister
gesê van die partye verskil wel politiek en ideologies soos dag en nag.
Weens die gevare wat die voorgestelde wetgewing egter vir alle
Suid-Afrikaners inhou, is hierdie verskille eers op die agtergrond
geskuif.
"Ons wil soveel moontlik organisasies en mense by ons laat aansluit,
maak nie saak wat hul politieke siening is nie."
Hy het gesê hulle het ook reeds advokate aan boord wat hulle bystaan.
Daar is ook ander regslui wat hulle waarskynlik gaan aansluit.
Bosman sê die verteenwoordigers van die organisasies en partye was op
die vergadering almal diep bekommerd oor die negatiewe gevolge wat die
wetgewing vir die ekonomie, voedselsekuriteit, sakevertroue en
eiendomsreg inhou.
"Hulle was dit eens die beoogde wet sal tot nadeel van elke
Suid-Afrikaner wees, omdat dit nie net vaste eiendom soos grond raak
nie, maar alle roerende en onroerende eiendom in die platteland en
stedelik. Die organisasies meen die wetsontwerp is ongrondwetlik en dit
bots met internasionale norme."
'n Tussentydse werkkomitee is gestig om organisasies uit alle
gemeenskappe en sektore te betrek en om 'n strategie saam te stel om die
wetgewing te stuit.
Die komitee bestaan uit mnre. Bennie van Zyl (TLU SA), Theo de Jager
(Agri SA), Dave Steward (F.W. de Klerk-stigting), Kallie Kriel
(AfriForum) en Jaco Schoeman (Afrikanerbond).

No comments: