Wednesday, June 25, 2008

Agri-Forum

Geagte mede-Afrikaner,

BOEREGROND VIR DIE BOEREVOLK

BRIEF AAN AGRI SA

Ons stuur vir u hiermee die brief wat die Dagbestuur van die
Boere-Afrikaner Vryheidsinisiatief aan die voorsitter van Agri SA
geskryf het en waarna ons verwys het in die jongste Vryheidsbulletin.
Die brief het voortgevloei uit 'n baie deeglike ondersoek in verband
met die grondhervormingskwessie wat die voorsitter van die BVI, Dr
Ronnie van der Merwe gedoen het. In die proses het 'n kernwaarheid na
vore gekom. Die ANC se vermoë om grondhervorming op hulle eie deur te
voer, het geheel en al verkrummel. Hulle het geen direkte lyne van
kommunikasie met Afrikanerboere nie en sal slegs Afrikanerboere se
deelname aan die proses deur die bemiddeling van Agri SA kan verkry.
Indien Agri SA uit die proses verwyder kan word, sal dit in duie
stort.

Die doel van die brief was om hierdie werklikhede onder Agri SA se
aandag te bring en 'n beroep op hulle te doen om aan die proses te
onttrek. Ons het natuurlik van meet af aan besef dat hulle hulle
waarskynlik nie daaraan sal steur nie, wat inderdaad ook gebeur het.
Ons het egter die brief gesien as die eerste skuif in 'n reeks stappe
om vir Agri SA uit die grondhervormingsproses te verwyder. Die aksie
moet egter nou voortgesit word deur die plaas van druk op hulle. Dit
kan ons bereik as hierdie brief by al hulle filiale, distriksunies,
boereverenigings en uiteindelik alle individuele boerelede uitkom.
Daarmee het ons by die BVI reeds begin, maar dis 'n reusagtige taak
waarvoor ons nie die hulpbronne het nie. Dit kan egter gebeur as elke
persoon vir wie ons die brief stuur dit vermeerder en aan soveel
moontlik boere en ander Afrikaners stuur, met die versoek dat hulle
dieselfde doen.

Dit moet egter nie daar ophou nie. Mense wat hierdie brief kry en met
die inhoud daarvan saamstem, moet dit aan Agri SA oordra dat hulle
hulleself met die inhoud van die brief vereenselwig. Uiteindelik sal
Agri SA nie in staat wees om hulle voortgesette betrokkenheid by
grondhervorming te verdedig nie en hulle sal moet kapituleer.

Ons wil u hiermee vra of u nie 'n skakel in hierdie inligtingsketting
wil word nie. Moenie die bydrae wat u as individu kan maak om
Boeregrond vir die Boerevolk te behou, onderskat nie. Iemand het
gesê: Die ganse duisternis is nie in staat om die lig van een enkele
kersie te oorweldig nie.

Met vriendelike Boeregroete

FRIKKIE STRAUSS

Nms Dagbestuur van die BVI

NS Die resultate van Dr van der Merwe se ondersoek is saamgevat in 'n
toespraak onder die titel Boeregrond - Ons erfenis, wat hy gelewer het
tydens die reeks vergaderings wat die BVI gedurende Oktober verlede
jaar in die Transvaal gehou het. Die toespraak word hierby ingesluit
en kan saam met die brief versprei word.


Dokumente beskikbaar by :
http://groups.google.com/group/onsstem-van-die-nasie/browse_thread/thread/95f5966c7026435d

No comments: