Tuesday, March 30, 2010

Neutraal staan is ook kant kies

NUUSKOMMENTAAR - 29 Maart 2010


Neutraal staan is ook kantkies

Ewe skielik is daar 'n beroering in die geledere van dieselfde volk
wat grootliks gedwee gesit en toekyk het hoe ontroue politici hulle
vryheid weggegee het aan 'n kommunistebende – 'n stroperbende wat in
die sestien jaar van sy bewind nog niks meer bereik het as om die
Boerevolk en dit wat ons tot stand gebring het, te plunder nie.

Ja, daar is nog altyd die troue, verstandige groepie wat die
oorgawemanie probeer stuit het. Talle organisasies en politieke partye
is al gestig om die proses te probeer stuit, maar die meerderheid het
hulle willoos deur geslepe politici laat mislei.

Vandag raak die nare werklikheid van die nuwe Suid-Afrika alle
blankes. Mense se oë gaan oop vir die werklikheid. Die desperate
rubriekskrywers van pienk media wat probeer voorgee dat die nuwe
Suid-Afrika 'n aardse hemel is, raak al hoe eensamer.

Sedert die ANC se bewindsoorname is die jag op die witman, en veral
die Boerevolk, oop. Duisende van ons mense is al vermoor in wat niks
anders as 'n volksmoord genoem kan word nie.

Die ANC-regering steun plaasmoorde nog altyd so suutjies van die
kantlyn af met optrede soos die ontbinding van die kommando's,
ontwapeningswetgewing en gebrekkige polisiëring.

Maar nou bring die luidrugtige Julius Malema, president van die ANC se
Jeugliga, met sy openlike aanhitsing tot moord op die Boerevolk, die
ANC se ware houding in die oopte. En die ANC se steun aan Malema en
onderskrywing van sy aanhitsing, wis die laaste sweem van twyfel uit.

Dit is goed dat daar van etlike kante in volksgeledere beswaar gemaak
word teen Malema se rassistiese haatspraak. In 'n wêreld waar niks
anders as getalle tel nie, beteken dit meer as een gesamentlike
aandrang dat Malema vervolg en sy smoel gesnoer moet word.

Daar was klagtes by die Menseregtekommissie, die Gelykheidshof, die
Hooggeregshof, 'n optog, petisies, 'n uitdaging om een Boer te kom
skiet en vandag weer 'n aansoek om 'n interdik. Dit behoort redelik
duidelik te wees vir enige een dat hier 'n spontane volksgevoel van
verset ontwaak het.

Die Boerevolk is 'n intelligente volk met leiersbloed en 'n
vryheidstrewe in elke ware Boer se are. Daarom is dit nogal te
verwagte dat ons verskillende benaderings tot die herwinning van ons
vryheid sal hê en verskillende organisasies daarvoor tot stand sal
bring. In gevalle soos die aandrang om Malema te vervolg en te
muilband, is dit ook goed dat ons dieselfde ding van verskillende
kante af eis.

Maar dit raak tog ook noodsaaklik dat ons wel in 'n stadium uit een
mond na buite begin praat en dat ons nie ons kosbare hulpbronne
verkwis om te veel paaie te volg om dieselfde einddoel te bereik nie.
Dit is waarom Radio Pretoria die poging steun om 'n
volksverteenwoordigende liggaam tot stand te bring.

Die Volksraadverkiesingskommissie is nou besig met 'n uitgebreide
veldtog om volksgenote se name op 'n kieserslys te kry. Die plan is
dat daar volgende jaar 'n verkiesing gehou moet word om mense te
verkies wat ons kan verteenwoordig tot op die hoogste vlak.

Dit is so eenvoudig om betrokke te raak. U hoef maar net as kieser te
registreer by die VVK.

Moenie eenkant staan nie. Onthou – wanneer 'n volk se toekoms ter
sprake is, is neutraliteit ook kantkies. Aan watter kant is jy?
http://www.radiopretoria.co.za/Nuuskommentaar.php]http://www.radiopretoria.co.za/Nuuskommentaar.php

No comments: